Rigters 4:1-14
Simson was nie die enigste Rigter in die tyd voor die konings nie - daar was ‘n hele klomp van hulle. Hulle hoofdoel was om leiding te gee aan die verskillende stamme, wat op daardie stadium verspreid gewoon het oor ‘n groot gebied. Die stamme het ook los van mekaar gefunksioneer, en slegs wanneer daar ‘n groot bedreiging gekom het, het sommige stamme saamgestaan om die vyand teen te staan.
Uit die geskiedenis van Israel oor die eeue, het ons ook al geleer dat dit slegs die manne was wat in tel was. Hulle het al die besluite geneem en hulle het oorlog gemaak. Die vrouens moes maar gedweë by die huis sit en die huiswerk behartig terwyl die manne die belangrike dinge gedoen het. Taai manne, was hulle daardie tyd - in Rigters 3:31 lees ons hoe die Rigter Samgar seshonderd Filistyne met ‘n sweepstok doodgeslaan het. Goeie sweepstokke wat hulle daardie jare gehad het......? Amper ‘n lagwekkende situasie, waar ’n onbekende enkeling die professionele leër van die Filistyne verslaan sonder wapens - slegs ’n sweepstok. Maar eintlik is die fokus op die Here se wonderbaarlike redding.
Maar toe was daar Debora. Vir die eerste keer tree ‘n vrou op in ‘n leiersrol in Israel. Sy was ‘n profetes, en Rigter oor Israel. Van heinde en verre het die Israeliete na haar gekom waar sy regspraak moes lewer in die Efraimsberge. ‘n Ware steunpilaar was Debora vir die gemeenskap.
Maar alles was nie so wel in Israel nie. Rigters 4 begin met die bekende woorde: “Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here.” Hulle kon maar net nie uit die moeilikheid bly nie, en gedurigdeur bedroef hulle die Here. En dan laat die Here die Kanaänietiese Koning Jabin van Hasor vir Israel aanval. Aan die hoof van sy weermag is die gedugte Sisera met negehonderd ysterstrydwaens. Dit moes ‘n skrikwekkende gesig gewees het om hierdie wrede leër teë te kom. Vir ‘n volle twintig jaar lank terroriseer Sisera die verskrikte Israeliete. As hulle tog maar net na die Here wou luister, dan sou hulle al hierdie smarte gespaar gewees het.
En dan praat die Here met Debora: sy moet vir Barak stuur om Sisera se leër te gaan verslaan by die Kisonspruit. Hy moet tienduisend manne vat en optrek teen Sisera - die Here sal Sisera se leër in sy mag oorgee.
Vir Barak lyk dit na ‘n onbegonne taak. Wat sal hulle ou uitgerafelde leërtjie nou teen Sisera kan uitrig? Dink maar net aan al daardie skrikwekkende strydwaens - genoeg om ‘n groot weermag nagmerries te gee. Nee, hy weet darem nie so mooi nie. En dan speel hy sy troefkaart - as hierdie vrou bereid is om saam met hulle te gaan, dan kan hy seker haar woord vertrou. “As u saamgaan, sal ek gaan veg, maar as u nie saamgaan nie dan bly ek nét hier.” ‘n Vroumens sal mos nie saam met hulle gaan veg nie, maak nie saak wie sy is nie! Hy is veilig!
Maar dan slaan Debora sy voete skoon onder hom uit: “Goed, ek sal saamgaan.” Maar Debora is nie gelukkig met Barak se lamsakkige houding nie. Sy maak dit vir hom baie duidelik dat hulle wél die geveg sal wen, maar hy wat Barak is gaan nie die eer kry vir die oorwinning nie. Dit gaan ‘n vrou wees wat die magtige Sisera gaan oorwin!
En so gebeur dit dan dat Barak tienduisend weerbare manne bymekaarmaak uit die stamme van Sebulon en Naftali. Wanneer hy sy leër bymekaar het, kom Debora haar belofte na, en sy val in saam met die manne en hulle trek op van Bet-El af na die Kisonspruit toe.
Sisera het sékerlik gelag vir hierdie aanmekaargelapte leër wat teen hom kom optrek. Hy sal hulle in ‘n japtrap uitwis. En dan hoor hy boonop die skreeusnaakse berigte, dat ‘n vroumens die handjie moet vashou van die aanvoerder. Waar het jy al ooit so ‘n grap gehoor? Hy gee die bevel dat hulle sy negehonderd strydwaens bring. Moontlik is daar nie eers ‘n geveg nie, want as die Israeliete hierdie magtige wapen sien, wys hulle nét daar die hakskene!
Dit is ‘n vreesaanjaende weermag wat oorkant die Kisonspruit stelling inneem om die aankomende Israeliete in te wag. “Trek op!” sê Debora vir Barak, “Vandag gee die Here vir Sisera in jou mag oor.”
Hoeveel keer het die Israeliete nie al beangs voor ‘n onmoontlike situasie gestaan nie. En dan kom die Here op verrassende wyse en red hulle. Hoeveel keer het ek persoonlik nie al beangs gestaan voor ‘n onmoontlike situasie nie, en dan gee die Here redding uit ‘n totaal onverwagse bron. Die Here vra maar net dat ons Hom sal vertrou. Barak het nie nodig gehad dat Debora moes saam nie - die Here sou voorsien, selfs sonder haar. Kom ons vertrou die Here voluit - Hy is in volle beheer!
Gebed:
Here, U was in Debora se tyd in beheer, en U is steeds vandag in beheer. Gee ons as gelowiges asseblief volle vertroue in U, al lyk die prentjie vir ons soms baie donker.