Rigters 4:14-17
Sisera staan selfversekerd, selfvoldaan op sy strydwa. Sy perd trippel opgewonde rond, honger vir aksie. Agter Sisera staan negehonderd strydwaens, die manskappe geharnas van kop tot tone en bewapen tot die tande toe - ‘n vreesaanjaende gesig. Vandag is hulle lus vir hierdie geveg - hulle het dit al soveel keer gedoen. En hierdie een is teen ‘n verspotte leër van skaapwagters en boere wat absoluut niks van oorlog af weet nie. Binne ‘n halfuur is die geveg verby!
“Daar kom die eerstes nou aan!” skree een van die offisiere. Sisera bars hardop uit van die lag as hy die aanvoerders aan die voorpunt van die leër van Israel sien, want daar, op ‘n donkie pryk die gestalte van Debora saam met Barak.
“Kyk, hulle het nie genoeg manne gehad nie, en nou span hulle die vrouens in om te kom veg!” spot hy, en dit bulder soos die manne lag.
Maar dan begin iets in Sisera kriewel - as hy sy kop draai, sien hy oral Israeliete uitpeul. Dit lyk asof daar geen einde aan hulle is nie. Dit lyk kompleet soos miere wat aangekriewel kom. “Waar kom hulle almal vandaan?” wonder hy hardop. Agter hom hoor hy hoe die manne mor - iets baie groot is hier verkeerd. En boonop is daar die onheilspellende gevoel wat in die lug hang rondom hulle, so asof hulle nie alleen is nie. Sisera het al gehoor van daardie God van Israel, en dat Hy soms dinge doen wat onmoontlik is. Hulle sê dat Hy vir die Israeliete ‘n groot pad regdeur die middel van die see gemaak het, en toe die Egiptenare se magtige leër in dieselfde see laat versuip het met strydwaens en al!
Een van die generaals kom na Sisera toe oorgestap: “Die manne is bang. Hulle sê dat hulle teen enige leër kan veg, maar hulle kan nie veg teen die Magte in die lug nie!”
Sisera voel hoe hy yskoud raak. Maar hy durf nie nou koue voete kry nie - hoe sal dit nou lyk? “Die manne is sommer simpel! Sê vir hulle, ons veg! Daar is géén Mag wat my, Sisera gaan stuit nie!”
En daarmee gee hy die bevel om aan te val. Die aanval is maar baie halfhartig, en die manne veg nie met hulle hele hart soos altyd nie. Dit voel asof hulle nie teen die Israeliete nie, maar teen ‘n baie groter Mag veg. En boonop wil dinge maar net nie reg loop nie - die strydwaens...... hulle wil maar net nie lekker saamwerk nie!
Intussen, in die kamp van die Israeliete, maak Barak die manne stil. Die profetes, Debora het ‘n woordjie op die hart. Wanneer sy opstaan, sak daar ‘n doodse stilte toe oor die kamp. “Manne, die Here, die Almagtige God van Abraham en Isak en Jakob het met my gepraat. Hy het my verseker dat Hy vandag hierdie geveg in ons hande gaan gee. Die leër van Sisera lyk skrikwekkend, maar ons God is baie groter as hulle leër - by Hom is niks onmoontlik nie. Dink maar aan die Rietsee, en dink maar terug aan Jerigo, hoe die mure vanself geval het! God het hierdie land aan ons gegee - ons durf nie toelaat dat Sisera dit van ons af wegvat nie! Vandag sal die Kanaäniete sien dat ons God almagtig is. Maar vandag sal julle ook sien dat daar slegs één God is. Besluit vandag nog of julle Hom wil dien! Vergeet van die nuttelose afgode van die ander nasies en doen wat ons God van ons vra.”
Dit is ‘n begeesterde klomp Israeliete wat met primitiewe wapens op die senuweeagtige leër van Sisera afstorm met bloedstollende krete. Sisera en sy manskappe is so verbouereerd dat dit net ‘n deurmekaar gemaal is van hulle strydwaens. Die wiele haak aanmekaar vas en alles is net chaos. Die uiteinde is dat die manne van die waens afspring en vir hulle lewens weghardloop. Die Israeliete is soos ‘n swerm miere op hulle en agtervolg hulle. Een-vir-een word die Kanaäniete afgemaai, totdat daar uiteindelik nie een oorbly nie. Wel, daar het één oorgebly - Sisera. Maar hy het vroegtydig al sy strydwa weggesmyt en te voet die hasepad gekies. In hierdie berge beteken die strydwa absoluut niks! Maar die vraag is of hy vir God kan weghardloop?
Dit het swaar gegaan met die Israeliete, omdat hulle van God vergeet het en agter ander afgode aangeloop het. Maar God is genadig, en Hy probeer om Israel vir Hom terug te wen - hulle is steeds Sy volk ten spyte van hulle sonde. Ons moet mooi begryp dat God nie gelowiges straf nie. Maar wanneer ons van Hom af wegdwaal, is dit soms nodig vir Hom om drastiese stappe te neem om ons weer na Hom te laat terugdraai - wanneer ons soms swaar kry in die lewe.
Maar dan moet ons ook deeglik besef hoe groot God se genade en Sy liefde is, en dat Hy ons selfs deur die grootste swaarkry aan die hand sal hou en ons daardeur sal dra. En ons moet ook weet dat geen probleem te groot is vir God nie. Al lyk dinge vir ons soms totaal onmoontlik, dan is dit steeds moontlik vir God. Ek het dit persoonlik al talle kere beleef!
Gebed:
Here, dikwels lyk situasies vir my onmoontlik, maar vanoggend moet ek dit uitjubel dat U groot is, en dat ek gesien het hoe U die onmoontlike kan vermag!