Dawid Word Gejag

22 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid Word Gejag

1 Samuel 23:16-28

VIDEO | OUDIO

Keïla was vir Dawid ‘n groot teleurstelling. Hy en sy manskappe het hulle lewens gewaag om hierdie stad te verlos van die Filistyne. Maar wanneer Saul optrek met sy leër om Dawid daar te gaan doodmaak, dan is die inwoners van Keïla bereid om Dawid te verraai - om hom aan Saul uit te lewer. Was hulle dalk bang vir Saul se wraak? Net kort tevore het hy die hele dorp Nob met al sy inwoners laat uitmoor omdat hulle vir Dawid gehelp het. Hierdie gebeure moes sekerlik nog vir hulle vars in die geheue gewees het en dalk was hulle bang dat dieselfde met hulle kon gebeur?

Dawid vlug betyds na Goresa in die woestyn van Sif wanneer Abjatar hom waarsku van die naderende gevaar. Maar dan wag daar ‘n groot verrassing op Dawid - sy boesemvriend Jonatan kom bring ‘n besoek aan hom. Die blydskap is baie groot wanneer hierdie twee vriende mekaar weer ontmoet. Jonatan is baie deeglik bewus van sy pa se vyandigheid teenoor Dawid en hy het besluit om Dawid te gaan bemoedig in sy stryd. “Moenie bang wees nie want Saul, my pa, sal jou nie in die hande kry nie. Jy is die een wat koning sal word oor Israel en ek self sal tweede in bevel wees. Selfs my pa, Saul, weet dat dit so is.”

Vir ons is Jonatan se woorde amper onverstaanbaar! Ons moet onthou dat Jonatan die kroonprins was. Hy was die een wat die volgende koning oor Israel sou word. Koningskap is nie ‘n ding wat ‘n mens sommer so ligtelik prysgee nie, nie eers vir jou beste vriend nie! Wanneer ons deur die geskiedenisboeke blaai, sien ons talle afgryslike verhale van broers wat mekaar vermoor het oor die reg tot koningskap. Ons sien selfs ‘n pa wat sy eie seuns vermoor het oor hulle sy koningskap bedreig het! En nou kom Jonatan en gee vrywilliglik sy koningskap op!

Nadat die twee ‘n ooreenkoms gesluit het voor die Here, is Jonatan terug huis toe.

Dawid en sy manskappe raak al hoe meer lugtig vir Saul want hulle kan sien dat hy desperaat word om Dawid uit te wis. Goresa, waar hulle skuil is geleë suid van Hebron, ‘n onherbergsame bergagtige gebied waar uitgewekenes gewoonlik wegkruip. Dit is in die gebied naby die stad Sif. Wanneer die inwoners van Sif verneem waar Dawid-hulle is, verraai hulle hom. Hulle laat weet vir Saul dat Dawid daar is en dat hulle hom sou wys waar Dawid hom skuilhou.

Natuurlik is Saul in sy noppies en ewe skynheilig sê hy vir hulle: “Mag die Here julle seën omdat julle medelye met my het.” Met sy leër vaar Saul die onherbergsame wêreld in om jag te maak op Dawid. Dawid kom daarvan te hore en vreesbevange moet hy en sy manskappe vlug vir hulle lewens, die Maonwoestyn in. Verspieders berig dat Saul se leër net anderkant die berg is. Hulle moet vlug, vlug, vlug!

“Hulle omsingel ons!” kom die boodskap en Dawid is vreesbevange. Hoe durf hy teen sy eie mense veg? “Hoor tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed. Ver uit die vreemde uit, in wanhoop roep ek na U. Bring my op 'n rots waar ek veilig sal wees. U is vir my 'n toevlug, 'n sterk vesting buite bereik van die vyand. Laat my by U 'n blywende tuiste vind. Laat my skuil onder U vleuels.” Dawid se smeekgebed rig hy tot die enigste Een van Wie hy hulp kan vra.

En die Here hoor sy gebed en Hy voorsien!

‘n Boodskapper kom uitasem aangehardloop na Saul, net wanneer dit lyk asof Dawid soos ‘n rot vasgekeer is in die berge. “Wat is dit nou weer?” blaf Saul. Die arme man kan skaars praat - sy oë so groot soos pierings. “Groot moeilikheid,” hyg hy na sy asem, “die Filistyne - hulle is besig om die land binne te val!”

Saul is verward - wat moet hy doen? Hier is sy grootste vyand letterlik in sy hande, maar as hy nou tyd mors met hom, dan is dit dalk klaarpraat met sy koninkryk. Die Filistyne het géén genade nie, veral nie ná daardie pynlike slag wat Dawid hulle toegedien het by Keïla nie. Nee, hy het nie ‘n ander keuse nie - hy sal eers aan die Filistyne moet gaan aandag gee.

“Toevallig” het die Filistyne nét op die regte oomblik die land ingeval en Dawid is weereens gered. Toevallig? Nee, baie beslis nie. Dit was God se manier om Dawid weereens te beskerm. Op Dawid wag daar ‘n groot taak, en die Here sou sorg dat Dawid die geleentheid kry om dit uit te voer. Dit sou beslis ook nie die laaste keer wees wat Dawid op ‘n bonatuurlike wyse gered word nie.

Gelowiges moet weet dat elke ding wat met ons gebeur, ‘n doel het. Die Here is baie groter as wat ons ooit sal kan besef en Hy is die Een wat dinge laat gebeur. Ons moet leer om dit so te aanvaar en nie elke keer te kerm as iets gebeur waarvan ons dalk nie hou nie. Selfs swaarkry en lyding is dinge wat soms oor ons pad kom. God gee egter vir ons die vermoë om dit te bowe te kom en deur ons hantering daarvan, te groei in ons geloof, vir ander iets te beteken en sterker anderkant uit te kom. My hantering van hierdie dinge, bepaal of dit verliese gaan wees in my lewe, en of daar, deur God se genade, positiewe gevolge en uitkomste gaan wees. Kom ons aanvaar dit met dankbaarheid en blydskap!

Gebed:

Dankie Here, dat ek vandag weereens kan besef dat U alles raaksien en dat U voorsien. Leer my ook om te aanvaar wanneer U dinge doen, en aan U die eer daarvoor te gee!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026