2 Samuel 6:9-23
Dawid het die verbondsark laat haal nadat dit deur die Filistyne afgeneem is. In die proses struikel een van die osse wat die wa sleep waarop die ark was. Ussa probeer keer dat dit nie val nie, en hy is dood.
Soms gebeur dit met ‘n gelowige dat dinge vir jou baie voorspoedig raak, en dat jy dan kan vergeet om die Here te ken in ‘n saak. Dit is dikwels ‘n baie edel taak wat jy aanpak. Dawid se idee om die Ark na Jerusalem te bring was beslis edel, maar hy het sy eie kop gevolg hieroor. Die voorskrif was dat die ark deur priesters gedra moes word, en nie op ‘n wa vervoer word nie. Jy sal met my saamstem dat wanneer ek ’n dagstukkie skryf, dit ’n baie edel saak is. Ek besef ook baie deeglik dat ek dit nie kan skryf sonder die inspirasie van die Heilige Gees nie. En tóg gebeur dit soms dat ek gaan sit en begin skryf uit my eie kennis en ondervindinge, sonder om eers ’n gedagte te gee aan Hom wat die eintlike Outeur is.
Ons moet in gedurige, totale afhanklikheid van God leef, en Hom ken in absoluut alles wat ons doen, al is dit ook geestelike werk. Dit geld ook vir ons daaglikse werk, waar ons in die kantoor besig is. Jy mág maar werk en godsdiens meng! Bid die Here vir wysheid om te doen wat jy moet doen, om dit tot Sy eer te doen.
Later pak Dawid die saak weer aan, maar hierdie slag op die regte manier volgens die voorskrifte van die Here, gedra deur priesters. Dit gaan gepaard met ‘n fees van ongekende proporsies, en die ganse volk is daar om te deel in die groot vreugde. Daar word aan God ‘n offerande gebring van ‘n bul en ‘n vetgemaakte kalf, elke ses treë wat die ark gedra word.
Daar is al die pad musiek gemaak en op die ramshorings geblaas, gedans en feesgevier. En die koning? Hy het nie maar op sy troon gesit en al hierdie dinge gade geslaan nie. Nee, hy het met volle oorgawe saam gedans en gehuppel en deelgeneem. En wanneer hulle Jerusalem binnekom met die Ark, gaan daar ‘n groot gejuig op van die hele volk. Dit weergalm deur die klowe en oor die berge van die geluid van ramshorings en die gejuig van die skare. En Dawid dans dat die biesies bewe, geklee in net ‘n linne skouerkleed. Hierdie is natuurlik die kleed wat die priesters dra. Intussen staan sy vrou Mikal op die balkon van die paleis hierdie optog en gadeslaan. Maar wat vir haar ‘n groot vreugde moes wees, word ‘n verskriklike verleentheid as sy haar man hier onder voor die groot skare sien dans en rondspring, geklee in slegs ‘n skouerkleed. So erg grief dit haar, dat sy hom verag daarvoor.
Dit laat by ons ‘n paar vrae wat ons nie maklik kan beantwoord nie. Waarom het sy hom werklik verag? Was dit dalk dat sy gedink het dat dit nie fatsoenlik of waardig genoeg was, omdat hy die priesterlike kleed gedra het, en nie sy waardige koninklike kleed nie? Of was dit eerder dat hierdie skouerkleed die enigste kledingstuk is wat hy aangehad het, en dat met al die gedansery en gerondspring, daar dinge gewys het wat nie betaamlik was om te vertoon nie? Ons kan maar net raai. Kon dit nie dalk ook wees dat Mikal bloot hoogmoedig was, en dat sy dit verag het dat haar man, die koning, hom so buitensporig gedra het nie?
Dalk kan ons simpatie hê met Mikal. Dawid het dikwels baie impulsief opgetree, sonder om mooi te dink oor wat hy doen. As jy in ‘n leiersposisie is, moet jy dinge baie deeglik oordink. Jy moet baie versigtig wees om nie die verkeerde indruk te skep nie, al is jou bedoelinge ook hóé goed. Dawid het ‘n verantwoordelikheid gehad teenoor die volk, en hy moes vir hulle ‘n simbool van integriteit wees.
Die Ark is op sy plek neergesit, en dan neem Dawid die rol van priester oor om die volk te seën en te offer aan die Here. Niemand gaan met leë hande huistoe nie, en aan almal word brode en dadels uitgedeel voordat die volk huiswaarts keer.
Maar in Dawid se paleis is dinge nie so kosjer nie. Wanneer alles die aand verby is, word hy uitgetrap deur Mikal omdat hy hom so verspot gedra het. Hy het “skandelik” opgetree en “homself ontbloot voor die slavinne van sy onderdane” - so sê sy. Huismoles! Dawid se vrou het géén begrip vir sy vreugde nie. Wat ‘n antiklimaks! Hy tree op deur haar emosionele uitbarsting met logika te probeer uitredeneer, maar duidelik begryp hy nie dat dit by haar ‘n emosionele saak is, en dat sy maar net wou trots wees op haar man nie. Verwyte word geslinger, en die huwelik beland op die rotse. Tragies! So maklik kon alles gered gewees het as hulle maar net na mekaar wou luister. En dit is presies waar baie huwelike vandag sink, waar huweliksmaats eerder verwyt as om na mekaar te luister.
Ons moenie dat ons lewensvreugde gekaap word deur misverstande nie!
Gebed:
Here, help my asseblief om na my huweliksmaat te luister.