Dawid in die Paleis

9 November, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dawid in die Paleis

1 Samuel 18:1-5

VIDEO | OUDIO

Voordat ons voortgaan met ons verhaal, moet ons dalk net eers kyk na iets wat ‘n mens dikwels die wenkbroue laat lig. In 1 Samuel 16 lees ons hoedat Saul vir Dawid in diens neem om vir hom te kom musiek maak. Hy moes sékerlik in daardie tyd vir Dawid goed leer ken het. (1 Sam 16:19-23). In 1 Sam 17:56-58 lyk dit egter asof Saul nog nooit vantevore van Dawid gehoor het nie. “Wie is hierdie outjie nou eintlik, en wie is sy pa?” vra Saul vir Abner, die generaal. “Nee,” sê Abner, “Ek weet ook nie!” Hoe strook dit? Maak die Bybel ‘n fout?

Nee, nie werklik nie. Ons moet onthou dat hierdie alles oorgelewerde verhale is wat mondelings van geslag tot geslag oorgedra is. Toe dit uiteindelik 400 jaar later eers op skrif gestel is, was daar verskeie verhale wat saamgevoeg was om een verhaal te vorm. Dit wil voorkom asof hierdie twee gedeeltes moontlik verskillende verhale is wat saamgevoeg is. Hiermee kan ons nie summier verklaar dat die Bybel dan onbetroubaar is nie. Ons moet dit bloot sien as verskillende skrywers se weergawes van dieselfde gebeure. Dit is die boodskap wat belangrik is, nie die klein detail nie.

Maar terug by ons verhaal: Dawid kom ná die geveg terug by Saul as groot held omdat hy die moed gehad het om vir Goliat aan te vat en sodoende die geveg vir Israel te wen. Een van sy aanhangers was niemand anders nie as die kroonprins sélf, Jonatan. Hy en Dawid het sommer gou baie groot vriende geword. Maar daar was iemand anders wie se oë geglinster het as Dawid die vertrek binnestap: Saul se dogter Mikal. Elke keer as sy hom gesien het, het haar hart sommer wild aan die klop gegaan. Sy durf dit egter nie wys nie, want sy was mos koninklik en Dawid - wel, hy was mos maar net ‘n doodgewone skaapwagter.

Dit sou egter gou verander. Want daardie selfde dag van die groot geveg het Saul vir Dawid na sy huis geneem. “Van nou af het jy ‘n permanente aanstelling in my paleis!” Saul was baie ingenome met hierdie jongman, want nie alleen kon hy sulke hemelse musiek maak nie, maar die mannetjie was boonop nog ‘n baasvegter ook! Wie sou dit nou ooit kon raai?

Dawid en Jonathan se vriendskap het geblom. Hulle het al hoe meer tyd saam spandeer en Jonathan het dit geniet om Dawid in sy geselskap te hê. As Jonathan maar geweet het dat Dawid toe alreeds gesalf was om die volgende koning te word, sou dinge dalk baie anders verloop het. Dawid het egter nie ‘n woord durf rep oor daardie dag toe die profeet die olie oor hom uitgegooi het nie!

Op ‘n dag sê Jonathan vir Dawid: “Ek wil met jou ‘n verbond sluit dat ons twee vriende sal bly, maak nie saak wát gebeur nie en dat ons vir altyd bymekaar sal staan.” Vir Dawid was dit ‘n baie groot eer dat die kroonprins so ‘n groot guns aan hom sou bewys. En dan doen Jonathan ‘n baie interessante ding: hy haal sy mantel, die simbool dat hy die kroonprins is van sy skouers af en hang dit om Dawid en hy haal sy koninklike gordel af en gee dit óók vir Dawid, saam met al sy wapens. Jonathan het dit dalk nie besef nie, maar met daardie handeling het hy simbolies sy toekomstige koningskap aan Dawid oorgedra. Dit was ‘n baie groot dag in Dawid se lewe.

Op ‘n dag laat roep Saul vir Dawid: “Dawid, jy was baie braaf om teen Goliat te veg. Ek wil hê dat jy ‘n klompie soldate vat om ‘n lastige vyand wat ons terroriseer, ‘n les te gaan leer.” Dawid was in sy noppies want vir die eerste keer kry hy die kans om sélf te gaan oorlog maak. Die skermutseling was in ’n japtrap afgehandel en Dawid keer terug as triomfantlike oorwinnaar. ‘n Rukkie later was dit wéér sulke tyd en Saul begin besef dat Dawid ‘n knap aanvoerder kon wees. Hy gee Dawid al hoe groter opdragte, totdat hy uiteindelik een mooi dag vir Dawid inroep. Toe Dawid die hofsaal binnestap was ál die amptenare daar en Dawid het sekerlik gewonder waaroor dit gaan. “Dawid, ek het besluit dat ek jou van nou af aanstel oor al my soldate.”

Natúúrlik was Dawid in die wolke! Wat ‘n wonderlike eer en voorreg! En Mikal se oë het geglinster soos sterre. Haar knieë was lam elke keer as sy hom in die paleis raakgeloop het. En Saul se amptenare? Hulle was baie tevrede met die koning se keuse. Hierdie jong man was ‘n baie aangename en talentvolle mens en met hóm sou hulle baie lekker kon saamwerk!

Drieduisend jaar later kyk ek en jy met verwondering hoe die Here dit bewerk het dat elke stukkie van die legkaart perfek inmekaar kon val. God was besig om die grootste koning van alle tye sorgvuldig te vorm en voor te berei vir sy reuse taak. As skaapwagtertjie het hy alreeds geleer om Goddelike musiek te maak en op God te vertrou. Nou was hy besig om te leer van die harde feite van regeer en veg. Hierdie toekomstige koning moes die sleutelsteen wees vir die gróót gebeurtenis wat 1000 jaar later sou plaasvind - die dag van die groot versoening. My hart bons van opgewondenheid as ek hierdie dinge volg en sien hoe wonderlik God beplan. Absoluut niks word oorgesien nie.

Gebed:

Here, dankie dat U vir my deur Dawid se lewe wys hoe groot en wys U is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026