1 Samuel 27 & 28:1,2
Saul het vir die sóveelste keer sedert die groot vervolging begin het, by Dawid gesmeek om vergifnis en plegtig belowe dat hy hom nooit óóit weer sou vervolg nie. Maar Dawid het geweet presies hoeveel Saul se beloftes werd was. Sedert dag een wat hulle ontmoet het, het Saul iets teen Dawid gehad. Daardie eerste keer toe hy die wilde kyk in sy oë gekry het en sy spies na Dawid geslinger het, moes Dawid al geweet het waar hy met Saul staan. Hy het seker gehoop dat dit sou oorwaai sodra Saul kalmeer. Maar dit het erger en erger geword. En elke keer was Saul só bitter spyt, maar dan het hy dit net wéér gedoen!
“Manne, ons kan nie langer hier in Israel bly nie,” sê Dawid een mooi dag vir die klomp wat oral saam met hom trek, “Saul gaan ons bly vervolg solank as wat hy leef.”
“Waarheen kan ons gaan?” wil hulle weet. “Waar sal ons óóit veilig kan wees teen Koning Saul?”
“Ek het ‘n idee!” Almal spits hulle ore, want wanneer Dawid ’n idee het kan jy maar luister - hy is ’n briljante man. “Ons gaan trek by die Filistyne in!”
Jy hoor sommer hoe snak die manne na hulle asems. Een of twee val byna flou van pure skok! “Maar dit sal mos nooit deug nie? Hulle is dan ons grootste vyand!”
“Ja,” beaam ‘n ander man, “ons het ons eie kele afgesny toe ons teen hulle geveg het! Ons het daai Filistyne rêrag bloedneus geslaan! Hulle gaan ons nóóit daar toelaat nie!”
“Luister manne!” Dawid is baie ernstig. “Ek het mooi oor die saak gedink. Ons is nie hulle vyande nie, dis Koning Saul en Israel wat hulle vyand is. As ons ons kaarte mooi reg speel, dan kan ons die Filistyne oortuig dat ons eintlik aan húlle kant is, want Saul is ook mos óns vyand!”
Die manne is dalk nie almal so vas oortuig nie, maar hulle staan saam met hulle leier, Dawid, want hy weet mos wat hy doen. Enkele dae later stap Dawid en seshonderd manne en al hulle aanhangsels propvol selfvertroue die stad Gat binne. “Ons kom in vrede - ons wil vir Koning Akis spreek.” is Dawid se versoek. Dawid stel sy saak teenoor Akis, dat hy nou rêrag moeg is om vir Saul weg te hardloop en dat hy graag daar by hulle sal wil bly in Gat. Hy is bereid om te help nét waar hy kan!
Akis stem in en die klomp neem hulle intrek in die stad. Maar die stad is te klein vir twee manne met groot ambisies in die lewe en uiteindelik versoek Dawid om hulle eie blyplek te kry. Akis sien hier ‘n goue geleentheid en hy bied vir Dawid die stad Siklag aan. Natuurlik is daar vir hom óók ‘n groot voordeel, want Dawid en sy baie bekwame manne kan dien as ‘n natuurlike buffer teen die Filistyne se vyande in die suide. Die idee is dan ook dat Dawid nie sal stilsit nie, maar dat hy stelselmatig van hierdie vyande sal ontslae raak.
Dawid is in die wolke - sy eie, eie stad! Maar hiervoor sal hy moet werk! En dis presies ook wat hy doen! Een-vir-een word die volke in die suide, wat vir die Filistyne soveel hoofbrekens besorg het, aangeval en totaal uitgeroei. Dawid werk met ‘n plan en niemand word gespaar nie. Elke persoon in die gebied word doodgemaak sodat niemand vir Akis kan sê wat gebeur het nie. Maar dit is ‘n baie slim set van Dawid, want elke keer as hy optrek teen iemand, vertel hy vir Akis dat hy eintlik teen een van die groepe in Juda oorlog gemaak het. Akis is natuurlik in sy noppies, want sy grootste vyand, die Israeliete, word nou deur Dawid aangeval (of ten minste só word hy wysgemaak).
Intussen doen Dawid eintlik die inwoners van Juda ‘n baie groot guns, want die volke wat hy aanval is dieselfde mense wat Juda so dikwels plunder en skade aandoen. Sodoende bou Dawid met die mense van Juda ‘n baie goeie verhouding op in die geheim.
Maar dan tref ‘n groot slag Dawid wanneer Akis besluit om oorlog te maak teen Israel. Dawid en sy manne word natuurlik opgeroep om saam te kom, want hulle is mos óók ‘n vyand van Israel. Dawid word as Koning Akis se lyfwag aangestel. Dit plaas hom in ‘n geweldige dilemma want sy eie bedrog teenoor Akis laat hom in hierdie gemors beland! Hoe gaan hy hom hier uitwurm? Hoe kan hy teen sy eie mense gaan veg?
Vir ons klink dit walglik dat Dawid so wreed optree teen die vyand. Vir ons Christengelowiges is dit nie aanvaarbaar nie want Jesus se opdrag was liefde! Dit was egter in daardie tyd algemene praktyk en menselewens was eenvoudig nie kosbaar nie. Deur die jare het dit egter stelselmatig verander, en toe Jesus begin om vir mense te vertel wat die werklike waarde van ‘n mens se lewe is, word liefde vir die gelowige die norm. In plaas van oorlog moet gelowiges vrede op aarde bring, en in plaas van haat, liefde - selfs teenoor die vyand (Matt 5:44).
Gebed:
Here, maak my asseblief ‘n instrument van vrede vir U!