Joh 4:1-42
Petrus sug baie swaar: “Is dit wérklik nodig dat ons deur Samaria moet gaan?” Hy was nog nooit in Samaria nie, en hy het géén begeerte om in hierdie bose landstreek te wees nie, al is dit dan nou ook deel van Palestina. “Meester,” protesteer hy, “kan ons nie asseblief maar die gewone ompad vat nie?”
Maar Jesus is vasbeslote om die kortpad te vat deur die land van die Samaritane.
Alles het begin by hulle besoek aan Jerusalem. Dit was so heerlik, en Petrus se mond het behóórlik oopgehang by aanskoue van al die asemrowende bouwerke. Maar dinge het daar versuur toe die Fariseërs ongemaklike vrae begin vra het. Uiteindelik het die Meester besluit dat die tyd aangebreek het om terug te gaan na Galilea.
En dit is waar die ongelukkigheid toe mos inkom, toe die Meester besluit om deur Samaria te reis. Dit is die kortste en maklikste pad, maar 'n mens mag dalk net elmboë skuur met 'n Samaritaan! Sies!
Samaria is 'n droë woestynlandskap en water is daar bitter min. Die reis neem hulle verby die dorp Sigar, waar Abraham volgens oorlewering 'n put gegrawe het wat die dorp steeds van water voorsien. Hierdie put is so 'n entjie uit die dorp uit.
Petrus is stowwerig, honger en dors wanneer hulle op die warmste van die dag by Abraham se put aankom. “Petrus,” versoek die Meester as Hy Hom langs die put neervlei, “Gaan jy en die manne vir ons dorp toe en koop vir ons iets om te eet.”
Petrus gril eintlik by die blote gedagte dat hy by Samaritane kos moet koop. Maar vir eenkeer in sy lewe besluit hy om niks te sê nie. Brom-brom en sleepvoet vat die twaalf die afdraende paadjie na Sigar. Maar sodra hulle buite hoorafstand van die meester is, lug Petrus sy opinie. En die manne stem almal saam met hom. Hier moet hulle koop en klaarkry sodat hulle van die vervloekte plek kan wegkom! G'n ordentlike Jood vertoef hier nie!
Die twaalf kan nie gou genoeg uit die dorp wegkom met hulle kosvoorrade nie. Maar dan tref 'n groot skok hulle wanneer hulle oor die bultjie kom naby die put. Tot hulle ontnugtering sien hulle dat die Meester nie alleen is nie. By Hom is daar ......... 'n VROU! En hulle is besig om oor diep dinge te gesels. “Daar blaas die Meester nou Sy hele reputasie!” sug Petrus.
Dikbek stap die twaalf manne nader, en dan moet hulle tot hulle ontsteltenis sien dat sake nog véél erger is as wat hulle vermoed het: Hierdie vrou is 'n SAMARITAAN!
Skoorvoetend kom staan hulle by die Meester, maar ver genoeg weg sodat daardie vrou se skaduwee nie dalk per ongeluk op een van hulle val nie, want dan sal hulle mos onrein wees. Hulle is net betyds om die laaste deel van die gesprek te hoor. Die vrou babbel iets oor die Messias wat kom, en dan antwoord die Meester haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”
Voordat Petrus nog iets kan sê (nie dat hy baie spraaksaam is nie), vlieg die vrou daar om, los haar kruik nét daar en hardloop terug na die dorp toe.
Dit kook in Petrus, maar hy is te dikbek om iets vir die Meester te sê. Eers heelwat later bied hulle vir Hom kos aan, maar Jesus skud bloot Sy kop – Hy is nie honger nie.
Maar dis stééds nie die einde van die smarte nie, want nie lank nadat die vrou die hasepad gekies het nie, sien die manne 'n stroom van mense wat die bult opsuiker op pad put toe. “Kom ons loop voordat hulle by die put kom.” wil Petrus nog sê, maar dan sien hy tot sy ontsteltenis dat hierdie spul Samaritane vir Jesus wil kom sien.
“Daardie vrou het ons van U vertel,” hoor Petrus. Nou is hulle afwagting groot om te hoor wat Hy gaan sê. En hulle word nie teleurgestel nie. Die mense hang aan Jesus se lippe, en Hy gee aan hulle óók van dieselfde “lewende water”.
Petrus en sy maats is maar bra onwillige helpers en dan moet hulle boonop hoor hoedat die mense hulle Meester smeek om in hulle dorp te kom oorbly – hulle kan nie genoeg van Hom kry nie! Petrus se hart gaan byna staan as hy hoor dat die Meester instem om vir twee dae by hulle in Sigem oor te bly.
Oor die vrou en haar reaksie is daar al baie geskryf. Maar wat van die reaksie van die dissipels en die Samaritane? Oor die dissipels word daar nie veel gesê nie, maar as jy tussen die lyne lees, dan merk jy tóg 'n antagonisme. Die vraag is: wat sou jy doen as jy vandag in so 'n situasie moet verkeer? Hoe gemaklik is ons as ons buite ons gemaksone met ander kulture moet meng, veral wanneer dit 'n "laer klas" is as waarmee ons gemaklik is?
Die verhaal bewys weereens vir ons watter ongelooflike resultate dit kan lewer as iemand bereid is om homself te verneder.
Gebed:
Here, maak my asseblief gewillig om die evangelie te deel met enigeen wat my pad kruis!