Jona 2:1-10
“Dis die einde!” dink Jona wanhopig terwyl die matrose hom in die geweld van die woeste golwe inslinger, “maar ten minste is ek nou verlos van daardie verskriklike opdrag van God!” Met ‘n skok wat deur sy liggaam ruk, tref hy die ysige water. Om kop bo water te probeer hou in hierdie geweld is ‘n onbegonne taak en Jona veg verbete teen die aanslae van die gulsige see. Maar dit help niks want hy het in elkgeval nooit leer swem nie! Brander na brander slaan oor hom totdat hy uiteindelik moedeloos soos ‘n klip in die onheilspellende donker diepte van die watergraf insink. Hy sidder as hy bevoel en bevat word deur seegras. Dit draai om sy lyf, sy arms, sy kop en hy raak hopeloos verstrengel in hierdie warboel. Jona se longe wil bars. Daar is net eenvoudig nie meer asem in hom nie! “Here, red my asseblief, ek kan nie meer nie!” Paniekerig probeer hy hom loswikkel uit die tentakels van die seegras, maar dis hopeloos. Nou het hy wáárlik neergedaal na die onderwêreld waar die bose magte bly! Alles is verby, verby .......
Skielik maak ‘n reuse bek voor hom oop. Jona voel hoedat die ongedierte hom lewendig opvreet! Dan voel hy hoedat hy rondgerol word in ‘n sagte, slymerige holte. Dan is die water ook weg en Jona trek al stikkend en hoesend sy longe vol.
Aaaaasem!
Wat ‘n wonderlike gawe! Iets stink verskriklik, soos ..... vis? Met ‘n skok besef Jona dat hy deur ‘n reuse vis “gevang” is. Dis pik-pik-donker hier binne. Jona voel rondom hom. Die ruimte is maar bitter klein en daar êrens voel hy die reuse skerp tande van die vis. Hy sidder. “Hoe het ek in hierdie gemors beland?” wonder Jona. “Al wat ek nou kan doen is om te wag dat ek maar doodgaan. Is ek nie dalk al klaar dood nie? Ek het immers afgedaal in die doderyk!” Die stank van vis is onhoudbaar, maar stadigaan raak Jona dit gewoond.
Minute gaan verby en minute word ure - ure van wag en wonder. “Dis deur my eie toedoen dat ek hier beland het”, dink Jona hardop. “Hoe kon ek vir een oomblik dink dat ek vir God, die almagtige, alomteenwoordige God kan weghardloop?”
Dan onthou Jona, toe hy hulpeloos verstrengel in die seegras, sonder asem tot God gebid het, dat God hom op die regte oomblik gered het. “In my nood het ek tot God geroep”, begin Jona saggies sing, “en Hy het my gebed verhoor.” Spontaan kom die woorde en die wysie van hierdie splinternuwe psalm oor die lippe van ‘n dankbare Jona. “Diep in die doderyk het ek hulp gevra en U, Here, het my gehoor!” Dis asof ‘n reuse gewig van Jona se skouers afgly terwyl die borrelende lied oor sy lippe vloei!
Die ure word ‘n dag en die dag twee dae - ‘n lang tyd wat Jona niks anders kan doen as om te dink nie. In sy geestesoog sien hy homself weer in die donker dieptes van die “oervloed” insak, af na die doderyk toe - daardie reuse massa water waarop die aarde dryf. Al vastigheid wat in hierdie “oervloed” gevind kan word is die fondamente van die berge, wat soos ‘n boom se wortels deur die aardkors groei tot heel onder in die “oervloed.” Jona sidder: “Ek was daar! Here my God,” prewel Jona opreg, “vergewe my, ek was so verskriklik verkeerd! Ek het só groot teen U gesondig. Ek wil só graag weer na U heilige tempel gaan en aan U ‘n offer bring, Here. Ek belowe dat ek my gelofte aan U sal nakom! Alleen U kan my help.”
Die derde dag breek aan en Jona se loflied wat hy twee dae gelede begin komponeer het word nou borrelende klanke wat Jona uit volle bors sing: “Here, my God, U het my uit die dood gered!” jubel Jona opreg, “Terwyl ek ‘n loflied sing, wil ek aan U ‘n offer bring; wat ek beloof het sal ek doen. Hulp kom net van die Here af!”
Die volgende oomblik sien Jona lig. Die vis se bek gaan oop soos ‘n reuse hek wat oplig en hy spoeg vir Jona in die branders uit. Jona spoel uit op die strand - sagte wit sand. Van pure blydskap huil hy, en sy vreugde kan nie verberg word nie. “Ek is gered, ek is gered!” Oor en oor borrel die jubelklanke oor sy lippe.
Ek dink elkeen van ons was al in ‘n Jona-situasie waar ons gevoel het asof daar nêrens énige uitkoms is nie! Het jy ook al gevoel asof dit nou die einde van jou wêreld is? Dan gaan sit jy maar moedeloos op ‘n hopie en bejammer jouself. Of jy probeer dalk desperaat om jouself uit hierdie gemors los te wikkel maar hoe harder jy probeer, hoe meer raak jy verstrengel!
Kom ons leer vanoggend van Jona, wat homself in sy gemors ingewerk het. Eers toe hy tot stilstand geruk was, het Jona besef dat God nog ál die tyd daar was, selfs toe hy van God probeer weghardloop het! Dinge het vir Jona begin regkom toe hy die muur wat hy tussen hom en God probeer bou het, afgebreek het en lofliedere begin sing het. Gee jou probleme vir die Here - Hy kan hulle hanteer. Sing lofliedere tot eer van Hom - jubel in die Here. Maak soos Habakuk (Hab. 3:17-19) en sê: “Al sou alles in die lewe verkeerd loop - nogtans sal ek in die Here jubel!” Dit is die wonderlikste terapie! Om te kerm en weeklaag, vererger net jou situasie maar om te jubel ten spyte van jou probleme, lig jou gemoed en siel op en terselfdertyd bring dit jou nader aan God!
Gebed:
Here, ek jubel en juig vanoggend in U, my Redder en Verlosser. Al my probleme lê ek in U hande!