Genesis 25:27-34
Esau is die eersgeborene, dalk slegs ‘n paar minute voor sy broer Jakob gebore, maar dit maak nie verskil aan die saak nie: hy was eerste oor die “wenstreep”, en dit gee hom ‘n onbetwisbare reg op die leierskap van die uitgebreide familie. Wanneer Isak die dag te sterwe kom, is Esau die een wat die familienaam voort moet dra. Hy is dan die een op wie se skouers God se belofte aan Abraham sal rus, om in lyn te staan van die groot nageslag aan wie die land Kanaän uiteindelik sou behoort.
Maar dan kom daar ‘n kinkel in die kabel.
Ons het reeds gesien hoe verskillend hierdie twee seuns was. Boonop het Isak vir Esau voorgetrek en Rebekka weer vir Jakob. Só erg was hierdie voortrekkery dat dit uiteindelik die gesin uitmekaar geskeur het. Dit is so bitter jammer dat ouers nie besef wat hulle doen as hulle ‘n kind voortrek nie. Dit kan fataal wees vir daardie gesin, en dit kan die kinders se toekoms gruwelik in die wiele ry!
Esau was ‘n seun van die veld. Maar hierdie seun het ‘n man geword, en Pa Isak het hom aangemoedig om sy wilde veldlewe ten volle uit te leef. Dit in sigself was nou nie juis ‘n fout nie, maar Esau het hierdie veldlewe met só ‘n passie uitgeleef, dat dit hom totaal perspektief op die lewe laat verloor het. En dááraan het Pa Isak net mooi niks gedoen nie. Hy het eerder sy seun gesterk in sy kwaad. Esau het traak-my-nie-agtig en totaal ongeërg deur die lewe gegaan, rof en onbeskof.
Jakob, aan die ander kant, kry sy lewens-opleiding by Ma Rebekka. Sy leer hom al die fyner kunsies van die lewe. Maar sy leer hom ook hoe om ‘n gereg geurig voor te berei. Daardie kuns was nou nie juis in daardie jare deur manne beoefen nie. ‘n Vrou se plek is in die huis, en veral in die kombuis. Daar bly die manne weg! Nie Jakob nie - hy stel intens belang en leer met oorgawe van sy ma. Later sou dit vir hom baie handig te pas kom in die lewe - sou dit sy totale menswees beïnvloed. Nog erger: dit sou die totale gang van die geskiedenis verander. Eintlik nie werklik nie, want God is mos in beheer en dit is Hý wat bepaal hoe die geskiedenis loop! Jakob sou dalk dink dat hy die een is wat die loop van die geskiedenis verander, maar dit was al baie lank voor hierdie tyd bepaal deur God.
Rebekka vertel eendag vir Jakob: “Esau dink dat hy daardie belangrike, sterk leier is. Maar jý, my seun, gaan eendag nog die leier van ons familie wees!” Haar woorde het diep indruk gemaak, en hy het baie gewonder en gedroom hieroor. “Hoe gaan ek dit regkry? Esau sal my mos vermorsel!” Hy vertroetel sy droom: “Eendag...... eendag gaan ek hom nog uitoorlê!”
En toe, een snikhete dag val die geleentheid as’t ware reg in Jakob se skoot!
Esau is daardie oggend baie vroeg al veld toe. Pa Isak se lus vir ‘n stukkie wildsvleis dryf die ou man teen die tentmure uit. Esau moet sorg dat Pa sy vleisie kry. Dit hou die ou man gelukkig. Sandduin op, sandduin af loop Esau, maar die bokkie bly hom ontwyk. Oor kliprante klouter hy, en hy soek oral waar die wild gewoonlik wegkruip, maar hy kry net mooi niks. Die son skroei op sy rooi gelaat en bak genadeloos op hom, maar hy is dit gewoond en dit pla hom nie. Pa Isak se vleislus dwing Esau om baie verder te loop as gewoonlik.
Laatmiddag keer hy onverrigtersake terug na Pa Isak se tente. Hy is moedeloos en moeg van die harde dag se jag. En honger! Hy het nooit verwag om so lank weg te bly nie, dus het hy nie eers gedink aan padkos nie. Gewoonlik kry hy mos sy bokkie baie gou!
Esau is nog ver van die tente af as daardie heerlike geur op die luggie na hom aangesweef kom, die geur van sy gunsteling gereg: lensiesop. Hy begin sommer vinniger loop: ma se lensiesop laat sy maag kerm van die honger. Hy loop by Pa Isak se tent verby, reguit op die geur af. “Ma, ek’s honger!” Maar dis Boetie Jakob wat hy by die kookskerm die kospotte sien roer. “Gee my van daai rooigoed!” hyg hy, rasend van die honger. Skielik sien Jakob die kans waarvoor hy al jare wag. ’n Sluwe glimlag plooi om sy mond as hy met afsku na sy broer kyk. “Ek’s moeg!” skree Esau. “Skep!”
"Op voorwaarde," gryns Jakob. "‘n Bak heerlike lensiesop vir jou eersgeboortereg!” Esau kan sy ore nie glo nie. Hier is hy besig om dood te gaan van die honger, en sy verwyfde boetie wil redekawel oor geboortereg. “Man vat dit!” brom hy. “Gee net vir my kos!”
“Belowe eers!” Jakob waag nie kanse nie. Hy swaai die bord geurige, stomende kos voor Esau se neus rond. “Sweer met ‘n eed dat ek jou eersgeboortereg kan kry!”
Esau sluk die bord kos gulsig af, staan ongeërg op en stap weg, min gepla dat hy so pas sy eersgeboortereg vir ‘n bak lensiesop verkoop het! Dit is iets wat enige Oosterling se hare laat regop staan! Dis ‘n gruwel! En Jakob? Hy is ewe skuldig, want wat hy gedoen het is skelm en veragtelik!
Dink baie mooi voordat jy ‘n kind voortrek. Dit kan bitter gevaarlik wees!
Gebed:
Here, dankie dat ons kan leer uit die geskiedenis, en dat ons waardevolle lewenslesse daaruit kan kry.