Genesis 1:3-13
Een enkele sinnetjie van vier woorde verander absoluut alles: “Laat daar lig wees!” Dit is die eenvoudige woorde wat die proses aan die gang sit om al die chaosmagte wat die aarde oorheers te tem. Die Koning gee ‘n eenvoudige bevel en dit gebeur: “En daar was lig!”
Nou wil dit klaar nie mooi vir ons sin maak nie, want die son, maan en sterre se skepping kom eers later. Daar is egter ‘n baie goeie rede waarom dit spesifiek in hierdie volgorde beskryf word. Hiermee wil die skrywer vir ons dit baie duidelik maak dat God nie ‘n son nodig het om Hom te “help” om lig of dag te maak nie. Hy skep eers die lig en dan skei hy boonop die lig van die duister. Daar is met ander woorde dag en nag sonder die hulp van ‘n son, maan of selfs sterre.
Wat wil dit vir ons sê vandag? God het nie “helpers” nodig nie. Hy tree op in majesteit en gesag. Alles is onder Sy beheer, ook die lig en selfs die duisternis. Soms kan die duisternis vir ons ‘n beklemming wees en kan dit by ons vrees inboesem. En wanneer die daglig uiteindelik aanbreek, is dit vir ons goed en voel ons verlig. Ons moet egter weet dat hoe vreesaanjaend die nag ookal mag wees, en hoe wonderlik goed die daglig, God is in beheer in álle omstandighede. Ons kan en móét te álle tye ons volle vertroue op Hom plaas.
Dan lees ons dat God gesien het dat die lig goed was. Lig het Hy “dag” genoem en donker “nag.” Dit is ‘n baie belangrike handeling. Om iets of iemand ‘n naam te gee, is destyds gesien as ‘n handeling om gesag oor dit uit te oefen. Ons sien dit byvoorbeeld wanneer Daniël en sy vriende ander name kry in die ballingskap. Nou staan hulle onder die gesag van daardie koning.
Lig en duister, oftewel dag en nag staan onder beheer van God. “Ja, maar dit word mos beheer deur gewone natuurkragte?” In Josua 10 lees ons hoe hierdie Skeppergod die son laat stilstaan het sodat die Israeliete die geveg kon wen. Natuurkragte?
Wanneer God dag en nag skei, skep Hy terselfdertyd ook iets anders wat vir ons as mense van uiterste belang is, naamlik tyd. Voor hierdie gebeurtenis was alles totaal tydloos. Nou het die horlosie begin draai en was dit die begin van die tydsiklus.
Dit bring ons weereens by die vraag: wat is tyd? En hoe word dit gemeet? Vir ons gewone mense is tyd ‘n konkrete maatstaf wat gemeet word deur bepaalde gebeurtenisse soos die wenteling van die aarde of die afstand wat lig beweeg binne ‘n bepaalde tydsraamwerk.
Dit werk egter nie heeltemal so nie, want tyd is eintlik hoe jy dinge ervaar. By verskillende geleenthede word tyd verskillend ervaar. Vandag vra selfs die groot geeste in die wetenskap: “Wat is ruimte en tyd?” en daar is nie ‘n klinkklare antwoord nie. Dit is een van die groot misterieë van God.
Dit was aand van die eerste skeppingsdag.
Uiteindelik was die duisternis getem. Maar daar is steeds die totale verlatenheid van die morsdooie watermassa wat die ganse aarde bedek. Wat gaan God maak met hierdie onheilspellende woesteny?
Met ‘n enkele magwoord skei God die water sodat daar ‘n “hemelkoepel” is bokant die aarde. Hiermee skep Hy ruimte sodat daar lewe kan wees. Hierdie hemelkoepel is ook nie maar aan die mag van natuurkragte oorgelaat nie, maar dit is ‘n skepping van God wat in God se beheer is.
Dag twee van God se skepping was verby, maar steeds was daar chaos. Wat sou God op die derde dag doen?
Dag drie breek aan en God besluit om die aarde bewoonbaar te maak. Hiervoor is daar droë grond nodig. Dus skei Hy weereens die water sodat een helfte op die hemelkoepel is en die ander helfte agterbly.
Terloops, in antieke tye was die veronderstelling dat hierdie hemelkoepel water is wat die aarde oorspan, amper soos ‘n oseaan in die lug. Uit hierdie watermassa het dit dan soms op die aarde gereën.
Uiteindelik is die aarde gereed om lewe te kan huisves. Daar is landmassas waar landdiere kan bly en die seemassa waar seediere kan lewe. Maar steeds is die aarde nie hééltemal gereed om die lewe van diere te kan hanteer nie. Sonder plante kan niks lewe nie. Dus skep God plante. En só word nóg een van die mens se grootste vrese besweer, naamlik onherbergsaamheid. Nou is die tafel gedek vir die groot wondere van die skepping.
Daar is egter iets groot wat kort en wat ons die wenkbroue laat lig. Hoe kan plante voortleef sonder sonlig? God het dan nog nie die son geskep nie? En hier groei die plante van alle soorte alreeds lustig voort? Dit maak nie sin nie!
More sal ons DV in diepte kyk na hierdie kwellende vraagstuk.
“Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.” So jubel Psalm 19 dit uit, en Psalm 8 sing: “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!” So kan ek en jy ook vandag saamjuig oor God se wonderlike skeppingsdade.
Gebed:
Here, ons verstaan nie die skepping nie, maar ons glo! Dankie dat U ons God is.