1 Samuel 28
Ons het dit al so dikwels gesien dat ‘n persoon wat deur die jare totaal van God af weggedryf het deur sy eie toedoen, op ‘n geleentheid baie diep in die moeilikheid beland. Dan bid hy vurig dat die Here hom asseblief hier moet uithelp, maar dit lyk asof die Here hom nie meer hoor nie. Dit voel asof daar ‘n soliede muur gebou is tussen hom en God, en dit is presies wat met Saul gebeur het.
Samuel, die ou man van God, wat eers die volk Israel gelei en regeer het, het aan die einde van sy lewe gekom. Hy was die een wat Saul moes salf as koning. Hy het gesien hoedat Saul aanvanklik volgens die wil van God regeer het en geluister het na wat die Here sê. Maar Samuel moes ook toekyk hoedat Saul al verder en verder van die Here af weggedryf het. Hy was bitterlik teleurgesteld. Die ligpuntjie was darem daar toe hy vir Dawid gesalf het as die toekomstige koning, maar uiteindelik het hy besef dat hy daardie koningskap nooit sou beleef nie. Op ‘n hoë ouderdom kom hy te sterwe en die hele volk het getreur oor sy heengaan.
Samuel se afsterwe laat egter ook vir Saul met ‘n groot dilemma. Alhoewel hy ‘n korrelkop was wat sy eie kop gevolg het, het hy steeds tydens baie groot veldslae vir Samuel gaan raad vra, want die Here moes mos help wanneer die vyand baie sterk was!
Dit was weer een van daardie angstye toe die ganse mag van die Filistyne saamgetrek het op die landsgrense van Israel. Saul het met sy hande in sy hare gesit want hy moes weet wat om te doen en Samuel was nie meer daar nie! “Wat moet ek doen?” het hy vir sy raadgewers gevra, maar hulle het ook nie geweet nie. Die priesters en profete was opgekommandeer, maar selfs hulle het geen raad vir Saul gehad nie. Daardie spreekwoordelike muur het stewig gebou gestaan tussen God en Saul, ‘n muur waaraan Saul persoonlik baie hard gebou het! Hy het letterlik al die brûe agter hom afgebrand en daar was géén omdraaikans nie!
Israel was reeds saamgetrek om teen die Filistyne te veg, maar Saul was bang, radeloos en desperaat. Wat doen ‘n desperate mens? Hy doen dinge wat teen alle beginsels indruis. Dit is sulke mense wat moord pleeg of ‘n bank beroof. In Saul se geval was die enigste persoon wat hom nog ooit kon raadgee die profeet Samuel. En Samuel was dood! “Dan moet Samuel uit die dode opgeroep word!” het hy sy sprakelose amptenare beveel!
“Ons verneem dat daar ‘n waarsegster in En-Dor is,” het een van die amptenare dit gewaag.
“Neem my na haar toe!”
Aan die begin van ons verhaal het ons gesien hoedat Saul vervul was met die Gees van God. Hy het alle okkulte bedrywe verban, soos byvoorbeeld waarsêers en mense wat geeste oproep, omdat dit verkeerd was voor die Here. Uit desperaatheid neem hy egter nou sy toevlug tot dié praktyke wat hy sélf verban en uitgeroei het! Nou maak hy die goeie werk wat hy gedoen het sélf ongedaan, en dít terwyl hy baie deeglik besef het dat dit totaal verkeerd was! Hy wou nie hê dat iemand hom sou herken nie, dus vermom hy homself en trek ander klere aan sodat niemand sou weet dat dit Saul was wat die vrou besoek het nie!
Toe die vrou die opdrag kry om Samuel uit die dood op te roep, het sy ‘n rot geruik! Was hierdie nie dalk ‘n lokval om haar ook dood te maak nie? Maar Saul het met ‘n eed voor die Here gesweer dat sy veilig sou wees.
Die vrou het met haar rituele begin, maar toe skrik sy haar byna dood, want skielik het sy vir Saul herken! Maar dit was nog niks, want die volgende oomblik het die dooie profeet Samuel voor haar gestaan en sy het hom duidelik herken!
Samuel se boodskap aan Saul was baie duidelik: Die Here het sy koningskap van hom weggeskeur en aan Dawid gegee en die volgende dag sou Saul sowel as sy seuns omkom! Boonop sou Israel óók verslaan word deur die Filistyne. So erg was die skok vir Saul dat hy in sy volle lengte op die grond neergeslaan het en gebewe het van angs! Nou was dit die vervolgde vrou se beurt om Saul te vertroos. Sy het hom en sy manne iets gegee om te eet en hulle versorg.
Die verhaal laat ons met baie vrae: Was dit werklik Samuel wat uit die doderyk met Saul gepraat het? En beteken dit dat die oproep van dooies dan aanvaarbaar is? Die Bybel is baie vaag daaroor of dit werklik Samuel was. Persoonlik dink ek dat dit die Here Self of dalk ‘n engel was wat op hierdie manier die boodskap aan Saul oorgedra het. En nee, die Bybel is baie duidelik daaroor dat die oproep van dooies beslis nie vir God aanvaarbaar is nie! In Deuteronomium 18:9-14 word dit beskryf as ‘n “afskuwelike praktyk”. Dit was een van die heidense afgodsgebruike van die Kanaäniete. Wanneer iemand dus met mooi praatjies daaroor kom - moenie jou heuning om die mond laat smeer nie - dit is sonde! Dit word gereken saam met sulke walglike dinge soos om jou kinders aan afgode te offer. Kom ons lê ons liewers toe op die dinge van die Gees van God, dié dinge wat God behaag.
Gebed:
Here, vul my asseblief volkome met U Heilige Gees sodat daar nie plek is vir die dinge van die Bose nie!