Buig voor Haman!

6 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Buig voor Haman!

Ester 2:20-3:6

Video

Audio

Ester is nou die koningin van die magtige Persiese Ryk. Sy knyp haarself om doodseker te maak dat dit nie alles maar net ‘n droom is nie. Van ‘n huis waar sy in armoede gedompel was, het sy skielik in oordadige rykdom en luuksheid beland. Sy het alles wat enige vrou se hart kan begeer, en sy wonder dikwels wat sy dan gedoen het om dit alles te verdien. Maar net wanneer sy haar wil verlekker in al die weelde, onthou sy Pa Mordegai se woorde: “Jy mag nooit vergeet waar jou wortels lê nie!” Eintlik is sy gladnie deel van hierdie heidense wêreld met al sy afgode en heidense feeste nie. Maar sy mag die geheim met niemand deel nie, nie eers haar vriendinne nie.

Intussen het Pa Mordegai nou al half permanent sy intrek geneem in die poort van die koninklike paleis. Hy is feitlik elke dag daar, en hy verlustig hom aan alles wat daar aangaan. Op ‘n dag merk Mordegai hoedat twee van die poortwagte baie diep in gesprek met mekaar is. Mordegai ruik ‘n rot!

Ewe ongemerk gaan staan hy binne hoorafstand van die twee. Wat hy hoor laat hom yskoud word. Hierdie twee manne is besig om ‘n sluipmoord te beplan op Koning Ahasveros!

Mordegai voel hoedat die lewe uit hom loop. Hy bewe behoorlik van skok. “Ek moet die koning gaan waarsku!” Maar dan bedink hy hom, want die koning sal mos nie luister na ‘n doodgewone ou man wat dag-vir-dag in die poort rondsit nie!

Dan skielik gaan daar ‘n liggie vir hom op: “Ester! Sy kan die koning gaan waarsku!” Wanneer een van die diensmeisies verbyloop, wink Mordegai haar nader: “Gee asseblief vir Koningin Ester ‘n boodskap. Sê dis van lewensbelang dat sy my baie dringend sien.”

Ester voel hoe haar knieë lam raak wanneer Pa Mordegai haar die nuus meedeel. “Hoe gaan ek dit aan die koning oordra?” Sy is deeglik bewus van al die protokol en rompslomp in die paleis, en dat dit eintlik die amptenare is wat die koning se lewe beheer.

Wanneer Ester die nuus wil oordra, moet sy baie mooi aan die belangrike manne verduidelik dat dit ‘n saak van lewe en dood is. As sy nie nóú met die koning praat nie, kan dit dalk sy einde beteken.

Met vrees en bewing vertel Ester vir Koning Ahasveros van die komplot om hom te vermoor. ‘n Reuse las val van haar skouers af as hy reageer deur sy amptenare te beveel om die saak te ondersoek. Die skuldiges word aangekeer en dan word bevind dat Mordegai se bewerings die waarheid is. Die sluipmoordenaars word tereggestel.

Mordegai se lojaliteit teenoor die heidense koning wat deels verantwoordelik was vir sy ballingskap, laat ons skaam kry. Dit maak nie saak teen wie ‘n onreg gepleeg word nie, dit bly steeds verkeerd. So maklik wil ons dikwels anderpad kyk as ‘n onreg gepleeg word teen iemand vir wie ons geen liefde het nie. Dalk verdien hy dit!

Jesus het dit baie duidelik gemaak dat ons nie alleen ons vriende moet liefhê nie, maar selfs ook ons vyande. Ja, hy is ook my naaste, al is hy ook wié.

Maar dan gebeur die groot krisis. Alles begin wanneer Ahasveros besluit om een van die top amptenare, Haman ‘n groot bevordering te gee tot hoof van al die amptenare. Ahasveros beveel dat almal voor Haman moet kniel en hom eer betoon wanneer hy verbystap.

Mordegai is geskok tot in sy siel: dis mos afgods-aanbidding! “Jy mag jou voor hulle (gode) nie neerbuig en hulle nie dien nie!”

En dan gebeur die onvermydelike. Met ‘n groot gejuig kom Haman die paleis uitgestap en almal kniel voor hom. Mordegai kry ‘n yslike knop op sy maag: “Wat moet ek doen? Hulle gaan my doodmaak as ek nie buig nie!” Maar dan onthou hy weer die woorde van die Wet van Moses. Kiertsregop bly hy staan. Die poortwagte probeer vir hom beduie dat hy moet buig. Maar Mordegai kyk anderpad, asof hy Haman gladnie eers raaksien nie.

Wanneer Haman later hiervan uitvind, is hy woedend! “Wie is hierdie man?”

“Mordegai - hy is ‘n Jood.”

“Ek moes dit geweet het!” brom Haman, “Dit kan maar net ‘n Jood wees wat sulke verfoeilike dinge doen!” Hy is wit van woede. Die eeue-oue haat vir die Joodse volk borrel oor sy lippe: “Ek gaan sorg dat elke Jood op aarde uitgeroei word met wortel en tak!”

Hoe ver is ek en jy bereid om te gaan om vir God op te staan? Ons almal onthou vir Daniël en sy vriende wat in die vuur beland het omdat hulle geweier het om voor ‘n ander god te buig. En Daniël het tussen ‘n spul uitgehongerde leeus beland. Is ek bereid om dieselfde te doen? Die probleem is dat meeste van ons nie eers die moed het om te reageer as God se heilige Naam misbruik word nie! Talle gelowiges heul steeds met die dinge van die duiwel, soos sterrewiggelary, die oproep van dooies, die speel van duistere speletjies ens. Dit is niks anders nie as om voor ander gode te buig. Kom ons maak soos Mordegai en neem daardie besluit om vas te staan, kom wat wil!

Gebed:

Here, U is die enigste God! Ek sal slegs voor U buig en U dien. Gee my asseblief die krag daartoe om dit met volle oorgawe te doen.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026