Lukas 9:10-17 & Johannes 6:1-14
Simon is borrelend en reg om die ganse wêreld aan te vat wanneer hulle terugkeer ná hulle “uitstappie”. Al die manne praat gelyk en almal wil net vir Jesus vertel van die wonderlike dinge wat met hulle gebeur het tydens hulle uitreik.
Jesus lag: “Manne, julle is almal uitgeput, kom ons gaan soek 'n plekkie waar ons rustig kan sit en gesels. Dan praat ons oor al julle ondervindinge.”
“Meester, naby Betsaida is daar 'n pragtige afgeleë strandjie – niemand kom ooit daar nie.”
En so stap die groepie na Betsaida-Julius vir 'n heerlike wegbreek, weg van die skares af. Ongelukkig het hulle egter nie ongesiens die strand afgestap nie en weldra begin die mense agter hulle aandrentel. Die woord versprei baie gou onder die mense van Betsaida en binne 'n kort tydsbestek drom 'n reuse skare om hulle saam! Van hulle voorgenome rustige geselsie kom daar net mooi dadels!
Jesus sien sommer gou dat Hy hier onder in die vlakte verlore gaan wees, dus klim Hy halfpad teen die berg op sodat daar ‘n natuurlike amfi-teater onder Hom vorm. Daar gaan sit Hy saam met die twaalf manne. Die verhoog is opgestel vir een van die mees aanskoulike wonderwerke óóit. En steeds groei die skare aan......
“Simon”, roep Jesus een van die manne nader, “Waar gaan ons kos kry vir al die mense?” Simon skrik hom yskoud. Hy laat sy oë gaan oor die reuse skare wat by die minuut nog aangroei. “Maklik vyfduisend manne alleen”, dink hy by homself. Hy begin sommetjies maak. As die vrouens en kinders wat aan hierdie manne gekoppel is bygetel word, kan daar maklik vyftienduisend mense wees. Om hulle almal kos te gee, sal sekerlik ten minste ‘n jaar se salaris kos. En hulle is maar arm vissermanne! Hoe kan sy Meester van hulle verwag om vir soveel mense kos te gee?
Hulpeloos kyk Simon rond, terwyl Jesus hom fyn dophou. Andreas beduie laggend vir hom dat hier in die voorste ry ‘n jong seuntjie sit met vyf garsbroodjies en twee bokkoms - gedroogde vissies. Dalk kan hulle dit gebruik - 'n lagwekkende gedagte want dis maar ‘n ou druppeltjie in die emmer! Jesus beduie egter vir die manne dat hulle die seuntjie se padkos vir Hom moet kry.
Jesus het egter lankal geweet wat Hy sou doen. Hierdie seuntjie is nie verniet hier nie en die feit dat hy vandag juis vyf broodjies by hom het, is beslis ook nie toevallig nie. Alles was haarfyn beplan - daar sal net mooi een broodjie wees vir elke duisend gesinne! Oorgenoeg! Jare gelede het Hy vir ‘n volle veertig jaar lank elke dag daar in die woestyn genoeg manna en kwartels uit die hemel voorsien vir drie miljoen mense. Om vir hierdie ou paartjies kos te gee, sal daarteenoor relatief ‘n klein wonderwerkie wees. Hy beduie vir die skare om te gaan sit. Die grasbedekte hange van die heuwel is ‘n ideale plek vir hierdie “piekniek”. Die afwagting is groot. Maar Simon en sy maats is bitter bekommerd. “Wat beplan die Meester?” wonder Simon.
Jesus dank God vir die kos en die dissipels kry die taak om dit uit te deel. En dan gebeur die wonderwerk: Hoe meer die manne uitdeel, hoe meer word die kos! Dit gons soos ‘n byenes soos die mense praat. Hulle kan nie glo wat besig is om voor hulle oë te gebeur nie. Skielik tref 'n gedagte vir Simon: “Is Jesus nie dalk tóg die beloofde Messias nie?”
Maar Jesus is nog nie klaar met die wonderwerk nie - eers moet daar ‘n ou Joodse gebruik uitgevoer word, om die oorskiet bymekaar te maak. As hulle daarmee klaar is, is daar nie minder nie as twaalf manjies vol wat oorbly van die vyf ou garsbroodjies, nadat vyftienduisend mense daarvan geëet het!
Simon wil in aanbidding neerval voor sy Meester, want nou het hy álles gesien. Hoe kan hy dan nog twyfel? Hierdie wonder het skoon sy asem weggeslaan.
Vandag snak ons steeds na ons asems elke keer as ons van hierdie wonder lees. Maar daar steek baie meer hier agter as net die asemrowende grootheid daarvan.
Johannes meld nie verniet in sy weergawe van die Paasfees wat op hande is nie. Jesus was op die punt om hierdie fees ‘n totaal nuwe betekenis te gee. Paasfees was natuurlik die fees van die herdenking van die uittog uit Egipte, toe God die volk verlos het uit die kloue van die Farao. Een van die groot simbole van hierdie fees was juis die ongesuurde brood wat hulle moes eet. Later, tydens Jesus se laaste nagmaal saam met Sy vriende, verwys Hy dan ook juis na die brood as Sy liggaam. Met hierdie wonder kom deel Jesus die brood oorvloedig uit. Sy liggaam sou daar in oorvloed wees vir elkeen wat in Hom glo. Maar anders as die manna wat Hy in die woestyn voorsien het, wat slegs tydelik was, is hierdie “brood” wat Hy sou gee vir ewig!
Maar daar sou meer as net brood op die spel wees - op die paasfees speel die bloed van die lam wat geslag is ook ‘n simboliese rol. In Egipte het daardie bloed die doodsengel laat verby gaan. Jesus se kosbare bloed wat Hy gestort het aan die kruis, laat ook vandag vir jou en my wat in Hom glo, die doodsengel verby gaan - die doodsengel van die ewige verderf.
Gebed:
Here, dankie dat U baie groter dink as mense, en dat U ook hierdie wonderlike reddingsplan uitgewerk het sodat elke mens op aarde gered kan word as hulle in U glo!