Broedermoord

19 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Broedermoord

Genesis 4:5-8

Wanneer Kain besef dat God sy broer se offer aangeneem het, maar nie syne nie, het hy baie kwaad geword. Die Bybel sê dat hy bedruk was.

Die tien gebooie handel oor konkrete handelinge wat die Here van ons as gelowiges verwag. So byvoorbeeld mag jy nie iemand doodslaan nie. Een gebod handel egter oor jou begeertes, dié dinge wat jy in jou hart koester. Dit is iets wat onsigbaar is vir ander mense, dinge wat slegs in jou hart gebeur. Hierdie begeertes kan egter lei tot lelike gevolge.

Hierdie bedruktheid wat Kain in sy hart gekoester het, val in presies dieselfde kategorie. Dit het gelei tot wraakgedagtes wat hy gekoester en vertroetel het en wat uiteindelik tot ‘n liederlike daad oorgegaan het.

Ongelukkig is dit vandag steeds ‘n groot probleem by baie mense en selfs by gelowiges. Iemand het jou verontreg, en nou broei jy daarop. Naderhand begin dit soos ‘n giftige brousel te borrel en kook en die kanse dat dit iewers gaan uitbars is baie groot.

Die Here het gesien dat Kain met hierdie woede in hom loop. Sy woede was boonop gerig op iemand wat totaal onskuldig was in die verhaal, sy broer Abel. Dit was nie sy broer wat hom beroof het van die aanvaarding van sy offer nie, maar dit was ‘n besluit van God. Eintlik moes Kain se woede dus teen God gerig gewees het.

Die Here het met Kain gepraat en hom gewaarsku teen die gevaar van dít wat hy in hom laat opbou. Hier sien ons duidelik dat daar op daardie stadium steeds ‘n verhouding tussen God en Kain was. Maar Kain het die verhouding laat verbrokkel toe hy God se waarskuwing totaal ignoreer.

Sonde is nie noodwendig ‘n fisiese daad nie, maar dit kan selfs ‘n gedagte wees wat jy vertroetel. Kan jy dan so ‘n sonde oorwin? Verseker! Dit is binne elke gelowige se mag om oor sulke sonde te heers. Lees maar wat Paulus skryf in Romeine 6:6, dat ons nie langer slawe van die sonde is nie. In vers 12 vra hy dat ons nie moet toelaat dat sonde oor ons heerskappy voer nie. In Gal. 5:24 skryf hy dat dié wat aan Christus behoort, se hartstogte en begeertes gekruisig is. Dit was dus heeltemaal binne Kain se mag om sy sonde te laat staan, maar hy wou nie. Hy wou nie luister na God se pleitstem nie. En toe gaan die wrok in sy hart oor in die daad en hy vermoor sy broer.

Vandag wys ons die vinger na Kain, dis mos maklik! Daardie tipe mens is nie iemand met wie ek graag assosieer nie. Hy is sleg en goddeloos! Ek sal liewer maats maak met iemand soos Abel. Hy is mos ‘n goeie kerkmens wat gedoen het wat reg was. En toe is hy onskuldig vermoor.

Dit is dan ook tipies hoe ons hierdie verhaal verstaan, die slegte Kain teenoor die goeie Abel. Twee kontraste. Maar die vraag is of ons ooit verstaan waaroor dit alles gaan? Verstaan ons hierdie verhaal reg?

Kom ons gaan weer ‘n stappie terug ek kyk weer na die twee broers. Albei was voorbeeldige “kerkmense.” Albei het God opreg aanbid, met Hom gekommunikeer en lof bewys aan Hom deur vir Hom offers te bring. Ons kan dus albei as gelowiges sien.

Die vraag is dan: Wat is die boodskap wat ek uit hierdie verhaal moet kry? Ek en jy kan vandag ons lewe sien in hierdie twee broers. Ja, ons is gelowige kerkmense en ons gee ons dankoffers aan die Here soos wat dit ‘n gelowige betaam. Dalk sien jy jouself in die lewe van Abel. Hy was verontreg en misken. Miskien voel jy self dat jy verontreg en misken is, dalk benadeel. Dan moet jy vandag weet dat God intens in jou belangstel en dat Hy beslis nie van jou vergeet het nie. Hy sien die dinge raak wat met jou gebeur en Hy sal op Sy regte tyd en manier die rolle omkeer.

Maar jy kan jouself dalk ook in Kain sien. Jy voel dalk dat daar onregverdig teenoor jou opgetree is. Dalk voel jy dat jy beter verdien het as dít wat die Here na jou kant laat kom het. Jy doen al die regte dinge, aanbid God, gee jou dankoffer, gaan gereeld kerktoe maar dinge wil maar nie reg loop vir jou nie. Dalk het iemand anders die bevordering gekry wat jóú eintlik toegekom het. Dit is sulke tye dat jy só verstrengel raak in jou eie gedagtes dat jy begin doof word vir die stem van die Here. Dalk raak jy kwaad vir die persoon wat jou bevordering “gesteel” het.

Vandag wil Kain jou waarsku dat daardie selfde sondemonster wat hom oorval het, jou ook dalk kan oorval. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die onding van padwoede wat so handuit ruk. Jy is vasgevang in ‘n verkeersknoop en die ongeduld laai in jou gemoed op. Dan doen iemand ‘n onnosel ding, en onmiddellik bars jy uit in ‘n woedebui. Dan kan jy hom dalk soos Kain doodslaan. Dalk nie noodwendig fisies nie, maar ook met lelike woorde, vulgêre vingers, gebare ens.

Kain wil vandag vir ons sê dat ons moet waak daarteen dat hierdie dinge nie in ons opbou nie. Bedink te alle tye die positiewe. Paulus het in Filippense 4:4-8 dit baie duidelik gestel hoe ons dit moet hanteer. Vul jou gedagtes met die mooi en positiewe dinge in die lewe, en daar sal nie plek wees vir die negatiewe goed om op te bou nie.

Gebed:

Here, dit is so maklik om my gemoed te vul met negatiewe geagtes. Help my om dit met positiewe dinge te vul, om die mooi en regte dinge in die lewe te bedink.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026