Blindheid

15 September, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Blindheid

Markus 8:14-30

VIDEO * OUDIO

Jy sal onthou dat Jesus-hulle in die skuit geklim het en teruggevaar het na Betsaida-Julius na Sy konfrontasie met die Fariseërs. Dit het egter so haastig gegaan, dat die manne skoon vergeet het om brood te koop. Nou sit hulle met een ou broodjie tussen die klomp van hulle. En die manne is honger! Daar volg ‘n redenasie oor hulle dilemma, en dan waarsku Jesus hulle: “Pasop vir die suurdeeg van die Fariseërs.” Dit kon die arme manne gladnie verstaan nie, en dan begin hulle mor. “Wat probeer die Meester vir ons sê?”

Jesus is moedeloos met hulle: “Begryp julle nie? Verstaan julle dan gladnie?” Hoeveel keer moet Hy dan nou nog wonderwerke doen voordat hulle verstandjies sal begryp Wie Hy werklik is? ‘n Dag of wat gelede het Hy dan vierduisend mense kos gegee met sewe broodjies. En nie lank voor dit nie het hierdie einste manne nog sélf die vyf brode en twee vissies uitgedeel aan tienduisend mense. En hoeveel mandjies vol brood het daar nog elke keer oorgebly ook? En nou bekommer hulle hulleself alweer oor daar net een brood vir hulle groepie is?

“Julle wat oë het, sien julle dan nie? En julle het ore! Hoor julle dan nie? Verstaan julle dan nog nie?” Die manne is sprakeloos. En skaam!

Daardie bootvaart oor na Betsaida-Julius het waarskynlik in ‘n baie ongemaklike stilte plaasgevind, met ‘n klompie manne wat baie hard nagedink het oor wat Jesus so pas vir hulle gesê het. Is hulle dan geestelik blind vir alles wat hulle ondervind het?

En dan, by hulle aankoms in die dorp aan die oorkant van die meer, word daar nog sout in hulle wonde gevryf, want die eerste persoon waarmee hulle gekonfronteer word is júís ‘n blinde, so asof die geestelike blindheid waarvan Jesus so pas gepraat het, deeglik ingevryf word!

Jesus het die man aan die hand gevat en uitgelei uit die dorp uit, en toe “behandel” Hy die blinde se oë met spoeg. En skielik kon die man sien! Maar daar was ‘n probleempie, want al wat hy kon sien was vae beelde. Die mense het vir hom soos bome gelyk wat rondloop. Ek dink die arme man se moed het in sy skoene gesak, want as dit was hoe hy van sy blindheid genees sou word, sou dit beslis nie baie gehelp het nie. Maar Jesus was nog nie klaar met hom nie: Hy het Sy hande oor die man se oë gehou, en toe Hy hulle weer wegvat, was die blinde se visie helder en normaal. Van stokblind na normaal. Wat ‘n asemrowende wonderwerk!

Dit laat my dink aan die storie van Dereck se huiswerker. Hulle het agtergekom dat sy dinge omstamp en bloot baie onhandig is. Uiteindelik kom hulle tot die slotsom dat dit haar oë moes wees. Hulle neem haar oogarts toe, en dié gee vir haar ‘n bril. En vir die eerste keer in haar lewe sien die vrou normaal. Sy het behóórlik gestraal! Sy kon nie glo wat met haar gebeur het nie. Maar daar was ‘n groot vraagteken op haar gesig. “Wat pla jou?” wou Dereck weet. Nee, sy wonder maar net: watter soort medisyne het hierdie man in die bril gesit dat sy nou skielik kon sien?!

Die twaalf manne saam met Jesus het ook medisyne vir hulle oë nodig gehad om behoorlik te kon sien. Nadat hulle ‘n ruk saam met Jesus was, het daar vir hulle ‘n flou liggie opgegaan. Hulle het besef dat hulle hier te doene het met ‘n baie spesiale Rabbi wat die wonderlikste goed kon doen en sê. Maar hulle visie was soos dié van daardie blinde na die eerste sessie, nog teleurstellend dof. Hulle kon die beweging sien, maar hulle kon Jesus nog gladnie herken nie. Daar sou eers iets baie spesiaal moes gebeur voordat hulle Jesus sou herken vir Wie Hy waarlik was.

O ja, daar was die oomblikkies van ‘n enkele flitsie, ‘n dowwe flikkering hier en daar, waar hulle slegs vir ‘n vlugtige oomblik gedink het dat hulle die ware Jesus gesien het. Só ‘n oomblik het een dag aangebreek terwyl hulle van die een dorpie na die ander gestap het. Jesus het hulle totaal onkant betrap toe Hy vra: “Wie sê die mense is Ek?” Dit was ‘n maklike vraag, want hulle het mos gehoor hoe die mense Jesus beskryf as ‘n Profeet, of selfs as Elia. Herodus het selfs gedink dat Jesus Johannes die Doper was wat uit die dood verrys het. Absurd!

Maar toe slaan Jesus die manne se voete totaal onder hulle uit: “Maar julle, wie sê júlle is Ek?”

Dit was Petrus wat geantwoord het sonder om te dink. O, hy het dit dikwels gedoen! “U is die Christus!” het hy homself hoor sê. Dit sou nog ‘n hele tyd neem vir Petrus om eers te besef wat hy daardie dag kwytgeraak het, en wat dit werklik beteken het!

Gelowiges gaan ook maar dikwels nés die dissipels met baie swak sig deur die lewe. Sien ons ooit vir Jesus raak vir Wie Hy werklik is? Besef ons ooit wat Jesus waarlik deurgegaan het om ons versoening te bewerkstellig? Ons sê so maklik, so ligtelik: Jesus het vir ons gesterf aan die kruis. Dink ons ooit wat dit werklik beteken? Besef ons deur watter hel Hy moes gaan tydens en voor die aaklige dood? My gebed is dat elke gelowige daardie “bril met die medisyne” sal opsit en Jesus sal sien in Sy volle heerlikheid en dat ons so ‘n ietsie sal besef van daardie groot versoeningsdaad van Hom.

Gebed:

Here, maak asseblief hierdie dowwe geestes-oë van my helder.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026