Numeri 22:1-35
In die verre land Assirië lees Bileam die dokument wat boodskappers uit Moab aangebring het: “’n Volk wat uit Egipte kom het hier by my kom intrek,” lees Bileam. Hy kyk die manne deur wat hierdie nota gebring het, en hy glimlag - “Hier is werk vir die berugte Bileam!” lag hy in sy binneste. Hy lees verder: “Die aarde is toe onder hulle. Kom asseblief en vervloek hierdie volk vir my!”
Bileam lees so tussen die lyne deur dat Balak, die koning van Moab in baie groot nood is. “Vertel my van hierdie volk,” vra hy vir die boodskappers. Grootoog vertel hulle dat daardie volk soos ‘n swerm sprinkane is wat die hele land opvreet. “En hulle het nie eers ‘n koning nie!” hyg een van die manne. “Ja, hulle het net ‘n leier, maar daai ou staan met sy een voet in die graf - seker al 130 jaar oud!”
“En nou wil julle koning hê dat ek hulle moet kom vervloek?” Bileam het al die berigte gehoor van hierdie volk - die Israeliete met hulle groot leier Moses. Die ongelooflike stories wat sy ore bereik het laat hom lag. Hy is seker daarvan dat daar maar baie bygeloof saam met daardie stories gegaan het, want hoe is dit dan nou moontlik vir ‘n hele groot volk van miljoene mense om droogvoets deur die see te trek? Nee wat, dis sommer stories! Maar aan die ander kant - waar daar ‘n rokie trek moet daar seker ook maar iewers ‘n vuurtjie brand. Foeitog, die arme Balak moet baie desperaat wees om hom, Bileam so ver te laat reis net om ‘n vloek te kom uitspreek! Dan moet daar dalk tóg ‘n stukkie waarheid in die stories steek!
Maar nou-ja, die betaling is baie goed, dus kan hy nie juis nee sê vir hierdie aanbod nie. Die gesante vertel vir Bileam, die berugte waarsêer, hoe hierdie Israeliete die magtige Kanaäniete verslaan het. Hulle trek deur die land soos ‘n swerm treksprinkane op pad na nêrens. Hulle het ook nog vir Sihon en Og verslaan, en nou bedreig hulle die Moabiete. En koning Balak is baie bang.
Daardie nag skrik Bileam wakker met sy hart wat in sy keel klop. Helder en duidelik hoor hy ‘n stem wat met hom praat: “Wie is die manne hier by jou?”
Bileam skrik hom in ‘n ander geloof in! Hy stotter as hy huiwerig antwoord: “Dis...dis Koning Balak van Moab se boodskappers.…”
Dadelik besef Bileam dat hierdie bonatuurlike stem aan niemand anders nie as die God van Israel behoort. Dan beveel God hom: “Moenie met hulle saamgaan nie! Jy mag nie die volk vervloek nie, want hulle is geseën!”
Die volgende oggend is die gesante baie verbaas as ‘n natgeswete Bileam hulle meedeel dat hy nie meer saam met hulle gaan nie. “Die God van Israel het my belet!” is al wat hulle uit hom kry.
Later kom ‘n tweede afvaardiging van Balak by Bileam aan en smeek hom. Maar Bileam steek viervoet vas soos ‘n steeks donkie: “Selfs al gee Balak vir my sy paleis vol silwer, sal ek steeds nie saamgaan nie!”
Maar daardie nag praat God weereens met hierdie heidense waarsêer: “Gaan saam met hulle, maar jy mag net sê wat Ek jou beveel.”
Die volgende oggend saal Bileam sy donkie op terwyl hy vir die verbaasde amptenare sê: “Ek het van plan verander.”
Nou het hy God se toestemming om te gaan. Hy glimlag tevrede: “Hier wag groot rykdom op my!” Hy het nou wel God se toestemming, maar sy motiewe is baie duister!
En dan gebeur daardie ding waaroor daar al baie gegis is: Skielik steek sy donkie viervoet vas en hy weier om ‘n tree verder te loop. Hy loop ‘n wye draai deur die veld, maar op hierdie pad loop hy nie ‘n enkele tree verder nie! Bileam gryp sy karwats en slaan die donkie, totdat die arme dier naderhand onder luide protes begin aanstap. In ‘n nou steeg tussen die wingerde is dit weer sulke tyd, en die donkie steek weer vas. Hierdie slag is daar nie eers uitdraaiplek nie. Bileam krul van die pyn as die donkie sy voet teen ‘n muur vasdruk. Met groot moeite en ‘n hewige drag slae kry Bileam weer die steeks donkie aan die loop. En dan gebeur dit ‘n derde keer, en hierdie keer gaan lê die donkie plat op sy maag onder Bileam. Die man is woedend en hy gryp ‘n stok en begin die stomme dier te slaan.
“Wat het ek jou aangedoen dat jy my slaan?” kerm die donkie.
“Jy hou my vir die gek!” antwoord Bileam, “as ek ‘n swaard gehad het, was jy nou dood!”
“Maar ek is dan jou getroue ou donkie waarop jy altyd ry.”
Skielik besef Bileam wat besig is om te gebeur – dat hy besig is om ‘n gesprek te voer met ‘n donkie! “Maar dis onmoontlik!” dink hy, “Donkies praat nie! Is ek besig om gek te word?”
En dan gaan Bileam se oë oop en hy sien die Engel van die Here voor hom staan. “Die donkie het jou lewe gered,” sê die Engel, “As hy nie gestop het nie, dan was jy dood.” Weereens kry Bileam opdrag om aan te gaan, maar dan moet hy God se opdrag haarfyn uitvoer. Hierdie slag is Bileam gehoorsaam, en wanneer hy die vloek oor Israel moet uitspreek, spreek hy in die plek daarvan ‘n seën uit oor die volk, tot groot ontsteltenis van Balak!
Hierdie eienaardige verhaal vertel vir ons dat die Here almagtig is! Hy het selfs ‘n heidense waarsêer gebruik vir Sy heilige doel en in die proses ‘n donkie laat praat! Op dieselfde wyse het Hy die Farao gebruik om Israel te laat trek. Ons kan nie vir God voorskryf wat Hy moet doen nie. Maar ons mag maar kinderlik ons behoeftes voor Sy voete lê. Hy sal luister na die gebed van elke gelowige.
Gebed:
Here, vandag moet ons besef dat alles en almal binne U mag is, en dat U selfs ongelowiges kan gebruik vir U doel. Here, ek is tot U beskikking - gebruik my waar U wil!