Efesiërs 6:18-24
Gebed is die lewensaar van elke gelowige. Dit is ‘n uiters noodsaaklike deel van Christen-wees waarsonder jy nie kan staande bly nie. In die laaste twee dagstukkies het ons gesien hoe Paulus die wapenrusting beskryf wat God ‘n gelowige gee om die gevaarlike vyand te kan trotseer. Daar is egter een uiters belangrike element wat nog kortkom in hierdie wapentuig: Gebed!
Ek het dit al by vorige geleenthede genoem, dat gebed jou geestelike asemhaling is, jou tweegesprek met God. Hy het vir ons hierdie wonderlike kommunikasiekanaal daargestel wat dag en nag oop is. Geen dief kan daardie telefoonkabels steel nie, en selfs die grootste donderstorm kan nie die “satellietverbinding” verbreek nie. Die nommer is ook nooit, óóit beset nie en jy praat nooit met ‘n antwoordmasjien aan die ander kant nie. En die beste van alles is dat jy nie eers deur ‘n swetterjoel keuses hoef te gaan nie. Stel jou voor: om te kla, druk 1; om hulp te vra, druk 2; om om vergifnis te smeek, druk 3……..
Ek was in my jong dae ‘n seiner in die weermag. Dis nou die ouens wat die radio- en telefoonverbinding tussen verskillende afdelings bewerkstellig. Die radios was maar baie primitief: hulle was groot, lomp en nie verskriklik gebruikersvriendelik nie. Nogtans was hulle absoluut noodsaaklik, want daarsonder was daar nie kommunikasie nie. Die situasie wat ons dikwels hanteer het, was in die artillerie om ‘n verbinding te skep tussen die observasiepos (dis nou iemand wat alleen op ‘n koppie sit en die vyand dophou), die bevelspos (die wiskundiges wat die trajek van die kanonkoeëls uitwerk), en die kanonne. Wanneer daar ‘n kontaksituasie was, het dit nogal rof gegaan, want jy as seiner is die middelpunt van almal se bevele en alles moet eenhonderd persent korrek deurgegee word. Soms het dit egter gebeur dat daar drie groepe gelyktydig op dieselfde frekwensie na alle kante toe bevele uitskree en dan was dit absolute chaos. Om in so ‘n situasie te kan kophou en die regte inligting by die regte plek te kon kry was byna ‘n onmoontlike taak. Ek verstaan beslis nie hoe God kan sin maak van die Babelse verwarring van miljoene mense wat gelyktydig Sy aandag soek nie. Gelukkig vra Hy nie van my om te verstaan nie, maar net om te glo!
Wanneer Paulus ‘n oproep tot gebed doen, vra hy nie dat jy vir jouself bid nie. Dit is in elk geval iets wat baie maklik en natuurlik kom. Nee, hy vra dat ons gedurig vir ander gelowiges bid. Ek dink byvoorbeeld aan die talle gelowiges wat in haglike omstandighede moet oorleef in oorlog geteisterde lande soos byvoorbeeld Oekraïne. Deur vir mekaar te bid, vra ons nie alleen die Vader om ons medegelowiges te onderskraag nie, maar dit bring ook ons as gelowiges nader aan mekaar. Dit bind ons met ‘n hegte band, want nou word die ander se probleme ook deel van my eie. Ek voel nou wat hy voel. Hy is nou nie meer iemand wat daar ver staan nie, maar hy is intiem deel van my.
Daar is ook ‘n ander aspek van voorbidding wat die klem effens verskuif. Hy vra dat die gelowiges vir hom as prediker bid, sodat God vir hom die regte woorde sal gee om die Evangelie suiwer en met vrymoedigheid uit te dra. Geen prediker kan sonder voorbidding oorleef nie, selfs nie eers die groot sendeling Paulus nie. Hoeveel te meer nog die “gewone” predikante, pastore, evangeliste, lekepredikers ensomeer wat die taak het om die Here se Woord te verkondig. Elkeen van hulle is uiters afhanklik, nie alleen van hulle eie gebedslewe met God nie, maar van ander gelowiges om hulle te dra deur hulle bediening.
My versoek aan jou vanoggend is dan ook dat jy gedurig vir my sal bid vir hierdie reuse taak wat op my skouers lê. Wat dit vir my soveel moeiliker maak, is die feit dat ek nie ‘n predikant is nie, en geen formele teologiese opleiding het nie. Nogtans het God vir my die deure oopgemaak om Sy wonderlike Woord deur middel van die dagstukkies aan duisende mense uit te dra. Dit is ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid, want ek durf nie ‘n dwaalleer verkondig nie. O, ek wéét dat daar baie gelowiges is wat reeds vir my bid, want die Here lê elke keer die woorde vir die dagstukkie in my mond! Ek staan dikwels verstom oor dít wat ek geskryf het, want dit is ver bokant my eie vermoëns. Dankie vir jou gebed! As jy dit dalk nog nie doen nie, bid asseblief vir my!
Ons het aan die einde gekom van ‘n inspirerende brief van Paulus - ek hoop jy het dit nét so geniet soos wat ek dit geniet het. Vir myself was dit ‘n wonderlike belewenis. Ek wil afsluit met die seëngroet van Paulus in die Efesiër-brief: “Vrede vir jou, en liefde en geloof van God die Vader, en van die Here, Jesus Christus. Sy genade bly met almal wat vir ons Here Jesus Christus onverganklik liefhet.”
Gebed:
Here, dankie vir die wonderlike inspirasie wat ons kon put uit hierdie brief van Paulus. Ek wil vanoggend elkeen wat die Woord van God uitdra op die een of ander wyse, aan U opdra in gebed. Ek wil bid, Here, dat u Woord suiwer verkondig sal word. Ek wil ook die leser van hierdie dagstukkie in besonder aan U opdra. Seën hom/haar vandag mildelik.
Die 2020 vertaling van die Bybel is deurgaans gebruik in hierdie reeks dagstukkies.