Die koppe rol! Die afgelope tyd is die een hooggeplaaste na die ander se integriteit bevraagteken, en is hulle oneervol onttroon. Talle persone in die hoogste gesag, selfs mense wat gedien het as ministers, staan skuldig voor die regters. Hierdie week is selfs die vorige staatspresident nie gespaar nie. Wie is volgende?
Jesus het eenmaal ‘n gelykenis vertel van ‘n man wat op reis wou gaan, en toe stel hy bestuurders aan om sy geldsake te beheer. Hulle was nou wel slawe, maar hulle het elkeen ‘n belangrike taak gehad: om te gaan woeker met die man se geld wat hy in hulle sorg gelaat het. Hy het hulle vertrou, want terwyl hy weg was, moes hulle hom as’t ware verteenwoordig in sy huishouding en geldsake. Dit was ‘n baie verantwoordelike taak.
Toe hy na ‘n baie lang tyd terugkom by die huis, moet hy verneem dat twee van hulle uit hulle pad gegaan het om met dít wat aan hulle toevertrou was iets merkwaardig te doen. Hulle het uit hulle pad gegaan en kon groot winste wys. Maar die derde ou het sy geld begrawe en absoluut niks gedoen daarmee nie. Natuurlik was die slaaf in die sop, want hy het die man se geld bloot gemors! Dit kon immers rente getrek het in ‘n bank! Lees gerus hierdie verhaal in Mat 25:14-30.
Leiers in ‘n gemeente is op presies dieselfde wyse as daardie slawe (bestuurders) aangestel, maar hier in die gemeente verteenwoordig hulle in werklikheid vir God. Hulle is aangestel om die gemeente se sake te bestuur namens die Here. Dit plaas ‘n geweldige groot verantwoordelikheid op die skouers van elke leier, of hy nou ‘n klein takie gekry het en of hy ‘n baie groot taak gekry het. Die Here verwag van elke leier om sy absolute beste te lewer, al het hy net een enkele ou talentjie ontvang.
Toe Paulus hierdie brief aan Korinte geskryf het, het hy sékerlik gedink aan hierdie gelykenis van Jesus. Hy raak egter ‘n ander baie belangrike aspek aan: in Wie se diens is jy werklik? En aan Wie moet jy verantwoording doen?
Wanneer jy ‘n taak in ‘n gemeente kry, mag dit dalk die gemeente wees wat jou die aanstelling gee, maar die éintlike Een wat jou aanstel is Jesus Christus, en dit moet noodwendig maak dat jy dit in ‘n totaal ander lig begin beskou. “Van ‘n bestuurder word veral vereis dat hy betroubaar moet wees”, sê Paulus in 1 Kor 4:2
Wat presies beteken dit in die praktyk vir my?
In die eerste plek vra dit van my betroubaarheid. As ek “Ja” gesê het vir Jesus, moet Hy op my kan staatmaak om te doen wat Hy van my vra. Dat ek nie dalk halfpad deur sal omdraai en sê: “Ag Here, ek is nou werklik nie lus hiervoor vandag nie!” As ek vanoggend sou besluit dat ek nie lus is om hierdie dagstukkie te skryf nie, sou daar duisende mense wees wat nie die dagstukkie gekry het nie. Dalk sou daar iemand wees wat hierdie dagstukkie baie dringend nodig gehad het, iemand met wie Jesus vandag ’n afspraak gehad het deur my dagstukkie. En dan sou my onbetroubaarheid menselewens krities raak. Dit gaan dus nie oor my, my gerief of my gemak nie, maar oor God se handelinge met mense, en dat ek daarin ‘n sleutelrol speel.
Maar ek moet ook besef dat ek aangestel is deur Jesus om namens Hom op te tree. As ek dus byvoorbeeld evangelisasiewerk doen, gaan praat ek met iemand oor sy saligheid namens Jesus. Ek is Sy spreekbuis, en ek moet baie seker maak dat dít wat ek vir hom sê nie my eie gedagtes is wat ek uit my duim suig nie, maar dat dit Skrifgebonde is, en dat dit van God kom. Ek moet, met ander woorde, luister na die stem van die Heilige Gees en oordra wat Hy vir daardie persoon wil laat weet. Ek dink nie ons besef aldag watter geweldige verantwoordelikheid dit is om in diens te staan van die Lewende God nie.
Dit beteken dan natuurlik ook dat ek my taak biddend sal uitvoer en gedurigdeur die wil van God soek sodat ek nie dalk na my eie gedagtes luister nie. Dit beteken ook dat ek ‘n lewende verhouding met God moet hê. Dit is onmoontlik om namens Hom op te tree as my verhouding met Hom nie lewend is nie.
Nie alleen plaas dit ‘n groot verantwoordelikheid op my skouers nie, maar daar is ook ‘n baie groot troos in opgesluit. Omdat ek namens God dit doen, kan mense nie na my vinger wys en my daarvoor beoordeel of veroordeel nie. Ek doen maar net wat Hy vra, en daarom kan ek verder rustig wees daaroor, maak nie saak wat mense sê nie. Daar is slegs Een wat my mag beoordeel, die Here! Slegs Hy is bevoeg om te kan oordeel, want alleen Hy ken my deur en deur. Solank ek dus doen wat Hy van my vra, en dit getrou en na die beste van my vermoë doen, kan ek rustig slaap.
Gebed:
Here, dankie dat ek ook in U diens kan staan. Dankie vir die wete dat ek daarom met U gesag kan praat. Lei my asseblief om getrou te wees, en om alleen te doen wat U van my vra.