Berou - Te Laat?

20 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Berou - Te Laat?

Matteus 27:1-10

Dit was vroeg oggend toe die Joodse Raad met Jesus klaar was. Nee, eintlik was hulle nog gladnie klaar nie! Hulle het Hom soos ‘n gevaarlike misdadiger geboei en Hom na die goewerneur, Pilatus se paleis geneem, sowat ‘n kilometer daarvandaan. Hulle het besluit dat Hy móét dood, en Pilatus moes dit maar net bekragtig.

Intussen het Judas begin besef dat hierdie verskriklike verraad van hom verkeerd was. Wat het hom van plan laat verander? Hy het sékerlik geweet dat hy Jesus onskuldig oorgelewer het! Nou sien hy waarnatoe hierdie ding loop. Hy het berou oor sy verfoeilike daad, en dan doen hy wat hy dink reg is: hy vat die geld wat die Joodse Raad hom betaal het vir sy verraad, en gee dit terug. Hulle weier egter om dit te aanvaar, en dan doen hy ‘n snaakse ding: hy gooi die geld in die tempel in.

Om hierdie handeling te verstaan, moet ons gaan kyk na die agtergrond daarvan: dit gebeur soms dat jy ‘n transaksie aangaan, en dan kom jy agter dat dit ‘n fout was. Dalk het jy eiendom verkoop, en nou is jy spyt daaroor, want dit was erfgrond, en jy wil dit terughê. As die ander party nie die transaksie ongedaan wil maak nie, het jy dan die geld in die tempel gegooi, en gehoop dat hierdie handeling hom van plan sal laat verander.

Op hierdie manier het Judas gehoop om die Joodse Raad tot ander insigte te bring. Sy gewete het hom bitterlik gepla. Maar hulle harte was so hard soos klip. Hulle het net één ding in hulle gedagtes gehad, en dit was om Jesus vir ewig uit hulle lewens te kry. Hulle het géén simpatie met ‘n verraaier se sielewroeging nie. Vir Judas was alles verlore. Hy kon net eenvoudig nie met hierdie afskuwelike daad van hom saamleef nie, en dan neem hy die verskriklike uitweg, en hy pleeg selfmoord.

Volgens Deuteronomium 23:18 mag “sondegeld” nie in die tempel aanvaar word nie. Judas se omkoopgeld is gesien as sondegeld, en daarom kon dit dus nie vir tempeldiens gebruik word nie. So word die pottebakker se grond daarmee gekoop. Ja, Sagaria het dit voorspel, baie jare tevore al, en hy was geskok oor die belaglike lae prys wat Jesus vir hulle werd was (Sag. 11:12,13).

Sommige teoloë is van mening dat Judas eintlik nie vir Jesus wou dood hê nie. Hy was moontlik een van die mense wat gehoop het dat Jesus, die Messias sou kom en Israel uit die mag van die Romeine bevry. Toe hy uiteindelik agterkom dat dit gladnie gaan gebeur nie, het hy besluit om Jesus te dwing in ‘n rigting. As hy nou vir Jesus sou verraai en die kerkleiers neem Jesus gevange, sou Jesus tot aksie oorgaan en die bevrydingstryd begin. Dit gebeur egter nie, en skielik sien hy dat sy plannetjie op ‘n mislukking uitloop want Jesus verset Hom gladnie. Daarom probeer hy sy daad ongedaan maak, maar dit was reeds te laat.

Hierdie is egter slegs ‘n teorie en ons kan alleen maar daaroor gis.

Ons verag Judas, want hy word gesien as die grootste sondaar óóit. Petrus word egter vereer as die vader van die kerk. Wat is die groot verskil tussen hulle? In die nag van Jesus se verhoor het Judas vir Jesus verraai. Dit was ‘n liederlike daad! In dieselfde nag het Petrus vir Jesus verloën. Hy het heftig ontken dat hy ooit vir Jesus geken het. Hy het selfs gevloek en ‘n eed gesweer om dit te laat insink. Dit was nét so ‘n liederlike daad! Judas het bitter berou gehad oor sy daad en só ook Petrus. Judas se daad was nie erger as Petrus s’n nie. Wat is dan die verskil? Judas het verkies om sy eie pad te loop, en sélf ‘n oplossing vir sy sonde te soek. Om ‘n einde aan sy lewe te maak, sou vir altyd sy probleem oplos, altans só het hy gedink. Hy was bitter verkeerd. Petrus se berou het hom teruggelei na Jesus toe. Hy het besef dat hy nie hierdie ding alleen kon regmaak nie, en hy het die vergifnis van God gaan opsoek. Hy was bereid om die Heilige Gees ‘n kans te gee om sy lewe oor te neem en te verander.

Paulus het dieselfde paadjie geloop, en alhoewel hy ‘n onverbiddelike vervolger van die kerk was, en Christene onskuldig laat opsluit het, het hy berou gehad oor sy dade, en het hy die grootste sendeling óóit geword.

Dink jy dalk vanoggend dat jou sondes so groot is dat dit onvergeeflik is? Dat God jou nooit daarvoor sal vergewe nie? Judas, Petrus en Paulus se sondes was ewe groot. Vir al drie van hulle het God met oop arms staan en wag. Petrus en Paulus het “JA” gesê vir God se genadeoffer. Judas het sy gesig weggedraai. Wat is die “doodsonde”? Om “Nee” te sê wanneer God Sy hand van genade na jou uitsteek. Judas het dit ondervind. Selfs vir die Joodse Raad was daar steeds genadetyd! As jy nog nie God se aanbod aanvaar het nie, is daar vanoggend ook vir jou nog genadetyd oor. Vir Judas was dit in ‘n oogwink verby! Net so kan God se genadetyd ook vir jou in ‘n oogwink verbygaan! Neem nóú die besluit, voordat dit dalk vir ewig te laat is.

Gebed:

Genadige Vader, dankie dat U my betyds gered het uit die kloue van die ewige verderf, nie omdat ek so goed is nie, maar omdat U genadig is.

Of…

Gebed:

Here, wees my, sondaar genadig. Ek het U smeekstem gehoor, en ek gee my lewe vandag aan U oor, want U Seun, Jesus het vir my sondes gesterf sodat ek die ewige lewe kan hê.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026