Jakobus 1:1-11
Het jy al ooit in jou lewe noustrop getrek? Ek dink elkeen van ons kan die een of ander verhaal vertel van tye waar dit rêrag swaar gegaan het. Ek en Mosbolletjie was jonk getroud toe ek my werk verloor het. Ek is ‘n betrekking aangebied in Welkom vir ‘n karige salarissie in ‘n Christelike boekwinkel. Die ou geldjie wat ek verdien het, het ons elke maand so net-net deur die drif getrek. Op ‘n keer, so pas nadat ek my maandelikse salaris ontvang het, gaan doen Mosbolletjie inkopies in die supermark. En daar word haar beursie gesteel met ons hele maand se salaris in. Ons spens was leeg, en ons het kindertjies gehad om voor kos te gee. Ons was behóórlik in die knyp!
Daar het ‘n klein lappie knolkool en ‘n laning turksvye naby die huis gestaan. Die knolkool het ons op enige manier probeer gaarmaak, maar dit het goor bly smaak. Die turksvye was egter ‘n baie smaakliker opsie, en dit het ons deur die maand gedra, wonder-bo-wonder sonder enige komplikasies!
Beproewing! En hét ons toe hárd gebid! Baie jare later sou daar wéér sulke beproewings kom, en sommer baie erger nog. Dan vra jy telkens: “Waarom Here?”
Het jy al ooit gesien hoe hierdie pragtige smee-yster kunswerke gemaak word? ‘n Stuk “rou” staal word in ‘n vuur verhit totdat hy rooiwarm is. ‘n Gewone vuur is nie eers naastenby warm genoeg vir daardie proses nie, en ‘n blaasbalk moet ingespan word om die temperatuur van die vuur op te jaag totdat die witwarm vonke spat. Dan word die yster uitgehaal en op ‘n aambeeld met ‘n groot hamer geslaan om die regte vorm te kry. As hy begin afkoel gaan hy terug vuur toe, en so word die proses herhaal totdat hy uiteindelik presies die regte vorm het.
Jakobus 1:1-11 bestaan uit vier dele: eerstens sy groet, dan praat hy met die arm gelowige wat allerlei beproewings ervaar. Derdens kom die belangrikheid van gebed wanneer jy noustrop trek. Die vierde deel handel oor die skatryk ongelowige wat op die oog af floreer en niks kortkom nie.
Die gelowige is soos daardie stuk rou staal, wat op sigself nutteloos is, buiten om miskien ‘n deur oop te hou. Dit raak eers nuttig wanneer dit in die vuur beland en gehamer word. Nét so het die gelowige vorming nodig, en dit is baie beslis nie maklik nie. Om uiteindelik ‘n delikate kunswerk te word, moet die staal enduit verhit, gehamer en gevorm word. Presies nét so moet die gelowige bereid wees om die vorming en beproewings enduit te verdra. Jy moet enduit volhou en aanhou om goed te doen. Volhard in die geloof. Bid sonder ophou. Dalk sal jou vriende jou spot of selfs verlaat. Jy sál teenkanting kry van jou vriende, familie of dalk selfs jou gesin. Moenie maar net tevrede wees om elke dag ‘n ou versie uit die Bybel te lees nie. Soek die wil van God in sy Woord.
Dan is daar die kwessie van gebed, gelowige gebed! As jy gelowig bid, sal God vir jou gee waarvoor jy vra. Hier gaan dit nie oor 'n inkopielys-gebed nie, maar om gebed vir wysheid oor hoe jy moet optree wanneer dit byvoorbeeld met jou sleg gaan. Dit help nie dat jy bid, en jy het nie geloof oftewel ‘n vaste vertroue dat God jou sal antwoord nie. Volgens Jakobus is geloof ook gekoppel aan dit wat jy doen. As jy byvoorbeeld bid dat die Here jou deur die eksamen sal help, sal jou gebed nutteloos wees as jy dan maar net gaan terugsit en dink dat al die kennis in jou kop gaan inval. Natuurlik sal dit ook van jou verg om hard te werk, en te studeer. God sal Sy kant bring, maar Hy vra ook van jou om jóú kant te bring.
Gebed sonder geloof is ook nutteloos. Jakobus beskryf dit so treffend met die beeld van branders wat heen en weer deur die see geslinger word en nêrens kom nie. Dikwels sê mense dat dit voel asof hulle gebed teen die plafon vasslaan, en nie by God uitkom nie. Hierdie is ongelowige gebed. Ek kan oor en oor en oor getuig van gebedsverhoring. Ek het al duisende dagstukkies die wêreld ingestuur, en elke dag wanneer ek gaan sit om dit te skryf, gee God vir my die boodskap om te skryf. Nog nooit het ek gaan sit en nie geweet wat om te skryf nie. God is getrou! Maar Hy vra van my om eers te bid en my totale afhanklikheid van Hom te erken.
Die derde kwessie waaroor Jakobus hier skryf is die ryk ongelowige. So dikwels gebeur dit dat ek as gelowige swaarkry beleef terwyl ek sien hoedat die ongelowige floreer. Jakobus beskryf hom treffend as ‘n veldblommetjie wat pragtig in die mooiste kleure staan solank dit goed gaan. As die warm bergwind egter opkom en die son skyn in al sy glorie, dan verskroei hy. Dit gaan nie hier oor rykdom nie, maar geloof. Ek het al menigmaal gesien hoedat gelowiges staande bly ten spyte van die haglikste omstandighede, want hulle hou styf aan God se hand vas en daar is steeds hoop. En dan het ek ook al gesien hoedat ‘n ongelowige verpletter word wanneer die mat onder hom uitgetrek word. Dan voel dit vir hom asof daar géén hoop is nie, want daar is niemand om hom staande te hou nie. Die ongelowige sien ‘n krisis as straf; die gelowige sien dit as loutering om nader aan God te beweeg en bruikbaar te word vir Sy Koninkryk.
Gebed:
Here, hou my asseblief staande deur my beproewinge, en maak my dankbaar daarin.