Matteus 22:15-22
Die vraag oor belasting het al menige gelowige laat struikel. Jy sal dalk nog onthou van 'n paar jaar gelede, toe daar ‘n uitgesproke leraar van Amerika in hegtenis geneem is vir belastingontduiking. Hy het die wêreld aan die brand gepreek, en was veral bekend vir sy sieninge oor belasting. Sy verweer oor sy belastingontduiking is dat hy nie durf belasting betaal nie want ál sy geld behoort aan God. Hoe durf hy dan God se geld vir die regering gee? Hierdie man het ‘n bespotting gemaak van sy geloof, van die Bybel en van Christenskap in die algemeen! Baie duidelik het hy nie sy Bybel geken nie, want hoe kon hy dan Jesus se uitspraak oor belasting so misgelees het?
Om aan ‘n Christelike regering belasting te betaal is al klaar moeilik, maar as die regering openlik heidens is, of selfs anti-Christelik, dan raak dit bitter swaar om daardie swaarverdiende geldjies van jou af te staan. Maar wat sê Jesus hiervan? Wat staan ons as gelowiges te doen?
Ek dink dat dit vir die Jode ook maar ‘n bitter pil was om te sluk, dat hulle, die volk van God aan so ‘n goddelose heidense regering soos die Romeine moes belasting betaal! Wat was met hulle swaarverdiende geld gedoen? Al wat hulle kon sien was heidense amfiteaters en plekke van onheil! En natuurlik die gehate soldate wat daarmee betaal was om húlle lewens te versuur. Toe die Fariseërs dus ‘n afvaardiging na Jesus stuur om hierdie “wyse Man” oor hierdie netelige kwessie te konfronteer, was dit ‘n baie aktuele saak wat aangeroer was, 'n saak op elke Israeliet se lippe! Die Fariseërs was egter baie slim, of so het hulle gedink. Hulle het ‘n groepie Herodiane saam met hierdie afvaardiging gestuur. Herodiane was aanhangers van Herodus Antipas. Hulle was dus lojaal aan die Romeine. Sou Jesus enigiets verkeerd sê teenoor die Romeine, dan was Hy vas! Eers was die heuningkwas uitgehaal en mildelik gebruik om Jesus se lof te besing oor Sy wysheid en van hoe regverdig Hy sou wees. Maar toe kom die strikvraag, een waarop Jesus nie bloot “Ja” of “Nee” kon antwoord nie: “Is dit reg om belasting te betaal aan die Keiser?” In hierdie vraag was daar soveel emosie vasgevang dat dit plofbaar was!
Jesus se antwoord was geniaal, en Hy het onmiddellik dwarsdeur hulle strik gesien. Sou Hy “Ja” sê, dan sou die Jode Hom beslis stenig. As Hy egter “Nee” sou antwoord, was Hy in die moeilikheid by die Romeine. Jesus se antwoord het hulle egter baie meer gegee as wat hulle gevra het want Hy het hulle ‘n spul huigelaars genoem. Toe verduidelik Hy waarom die Keiser moes kry wat hom toekom - daar was immers 'n afbeelding van sy gesig op die muntstuk! Terselfdertyd mag jy egter ook nie van God vergeet nie, want Hy is immers die Groot Koning, selfs oor die Keiser! Hierdie manne was so versuur deur die feit dat hulle “onregmatig” belasting moes betaal aan heidene, dat hulle totaal van God vergeet het. God het by hulle slegs ‘n bysaak geword!
Ja, ons lag in die mou vir die Fariseërs se onnoselheid, maar dan vergeet ons gerieflikheidshalwe van ons eie situasie. Ek weet vanoggend dat talle van die lesers van hierdie oordenking hulle op enige moontlike manier uit die betaal van belasting probeer uitwurm. Dit is blykbaar nie sonde om Jan Taks te verneuk nie want die regering is in elkgeval uiters korrup! Oor die meriete hiervan gaan ek liewer vandag nie eers uitwei nie. Daardie is ‘n saak wat jy vir jouself moet uitmaak, veral in die lig van Jesus se uitspraak. Wat egter baie belangriker is, is die vraag oor wat ek en jy vir God gee. Jare gelede, toe ‘n brandarm Montclair gemeente in Durban ‘n peperduur kerkgebou wou oprig, het die leraar, Ds. Nico Schreuder van die gemeentelede ‘n tiende van hulle inkomste gevra sodat die gebou betaal kon word. En van diegene wat nie geld gehad het nie, het hy ‘n tiende van hulle tyd gevra om te help bou.
Ja, dalk sê jy vanoggend dat jy jou deel in geld aan God gee. Die vraag is egter: hoeveel tyd het jy vir God oor? Ons lewe het so ‘n verskriklike gejaag geword, dat God absoluut geen plek meer daarin het nie. Die sewe minute wat dit neem om selfs hierdie ou dagstukkie te lees is heeltemal te veel vir sommige mense. Etlike intekenaars het dit gekanselleer omdat hulle nie die tyd het om dit te lees nie. Dikwels het dieselfde mense nie tyd om kerk toe te gaan of Bybel te lees of te bid of ENIGE tyd aan God af te knyp nie. Hulle het dan ook nie tyd vir ‘n medemens in nood nie, iemand wat dalk gebroke is, en net ‘n oor soek wat sy of haar leed kan aanhoor!
Die vraag is: hoeveel tyd spandeer ek aan koninkrykswerk? Is ek bereid om 'n Saterdag op te offer om 'n bietjie vreugde te bring in 'n ouetehuis of 'n kinderhuis? Is ek bereid om 'n bietjie van my besige tyd op te offer om pannekoek te bak vir Bybelverspreiding?
Jesus het gesê: “ ..... en gee aan God wat aan God behoort.” (Mat. 22:21)
Gebed:
Here Jesus, ek moet vanoggend met trane in my oë bely dat ek gans te min tyd gee vir U in my lewe. Die sneltrein van my lewe spoed verby sonder dat ek U as mede-Passasier daar toelaat. Help my asseblief om stil te hou sodat ek weer dit wat U regmatig toekom aan U kan gee!