Begeertes

24 January, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Begeertes

Jakobus 4:1-10

VIDEO OUDIO

Jakobus skryf in vers 3: “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra.”

Rugby is op almal se lippe. Die Currybeker wedstryde het so pas afgeskop en die welslae wat die Springbokke behaal het, is nog vars in ons geheue. Iets wat ons egter deesdae baie opval oor rugby, is die feit dat baie van die spelers dit baie Godsdienstig opneem. Hoeveel keer het jy byvoorbeeld al gesien dat wanneer ‘n speler in ekstase ‘n drie druk, dan wys hy na bo om daarmee te sê: “Ek gee al die eer aan God”? Dit is iets wat baie dikwels gebeur onder die gelowige spelers. En as jy in die kleedkamer voor ‘n wedstryd sou kon inloer, sien jy dikwels hoedat ‘n span saam bid. Ek het ook al by verskeie geleenthede gesien hoedat ‘n span na die wedstryd koppe bymekaar sit, sommer daar op die veld, en saam bid en die Here dank vir die wedstryd.

Dit laat ons met ‘n paar vrae: Waarom het die Sharks dan 'n spesifieke wedstryd gewen? Was dit omdat hulle dalk harder of meer gelowig gebid het as die Bulle? En wat gebeur as twee spanne ewe hard bid? Watter span se gebed sal die Here verhoor? Is dit ooit reg om te bid dat jou span sal wen? Maar wat het rugby dan nou te doen met die dagstukkie?

Jakobus het in 'n vorige gedeelte die leraars aangevat. Vandag praat hy met die gelowige gemeenskap, en daar val ‘n paar baie harde woorde! Daar is verdeeldheid, onrus, rusie en kwaadpratery in die gemeente, en die vrede kan alleen herstel word as die Woord weereens heers en as die mense se begeertes gekruisig word. Ja, dikwels is die oorsaak van stryd en rusies juis gelowiges se selfsugtige begeertes. As jy mooi gaan dink oor die tiende gebod, kom jy agter dat dit die kern is waarom die ander gebooie draai. Die tiende gebod handel oor jou begeertes. Om ‘n voorbeeld te noem: die afgelope paar jaar was gekenmerk deur verskeie gruwelike huurmoorde. Die rede was telkens iemand se onbeheerbare bose begeertes!

Daar is baie ander voorbeelde van skrikwekkende dinge wat deur begeertes veroorsaak word: die Kaapse strande word gestroop van perlemoen om iemand se begeerte na geld, geld en nog geld te bevredig. Arm mense word hier ingesleep om die vuilwerk te doen en gevang te word. Ons land se pragtige natuurskoon word wreed geskend deur myne van allerhande soorte om ‘n paar mense stinkryk te maak. Hulle begeertes na geld veroorsaak dat duisende renosters getroop word vir hulle horings. Die ongerepte Transkeise kus en die wêrelderfenisgebied van Mapungupwe word bedreig deur myne en ‘n soeke na olie en gas. Die asemrowende natuur staar vernietiging in die gesig, en dit slegs deur iemand se begeertes. Maar dit is nie alleen die natuurskoon wat ly onder hierdie begeertes nie, menselewens word wreed daardeur geraak.

Dit is egter nie net dáár ver wat hierdie begeertes mense raak nie. Dit is ook in ons alledaagse lewe. Om héél bo in die samelewing uit te kom is mense bereid om enigiemand wat in hulle pad staan totaal te vertrap, en dit maak nie saak hoe seer mense kry in die proses nie. Begeertes maak ook dat mense misdaad pleeg. Ons huise word gereeld beroof; transitorowe is aan die orde van die dag; kapings is ‘n alledaagse ding; korrupsie op die hoogste vlakke; talle mense sterf in bendegeweld - al hierdie dinge word veroorsaak deur een enkele faktor: begeerte! Begeerte na geld en begeerte na mag.

Ja,” sê jy seker, “ander mense se bose begeertes maak die lewe vir my bitter!” Die feit is egter dat slegte begeertes ons elkeen op ‘n baie meer persoonlike vlak raak. Wat maak die gelowige as hy iets wil hê? Hy bid natuurlik daarvoor. Baie mooi en edel! Die Romeinse skrywer, Plinius, het gekla dat mense die gode se ore misbruik. Ons kerm dikwels só by God oor materiële dinge, dat ek dink Hy moeg word om na ons te luister. Ons gebede is selfsugtig, en meestal spruit dit uit ons begeertes na die materiële dinge. Jakobus sê: “Julle begeer……. en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring.” Harde woorde! Vir Jakobus het gebed by uitstek gegaan om wysheid. Jy moet vra dat God se Woord in jou mag groei. Ongelukkig is die grootste deel van ons gebed gewoonlik daarop gemik om ons eie selfsugtige begeertes te bevredig. Om dit baie sterk te stel: jy vra God om jou te help om ‘n sondige mens te word!

Natuurlik is alle begeertes nie sondig nie, en natuurlik mag jy ook maar vir God dinge vra. Die groot ding is dat ons ‘n slag mooi moet gaan besin oor ons gebedslewe, en ook mooi moet gaan besin oor die begeertes wat ons in ons harte saamdra. Wat weeg die swaarste in jou lewe? Is dit ‘n begeerte na rykdom, gemak of ‘n hoë posisie? Of is jou begeerte om nader aan God te kan leef? Is dit om ‘n groot wêreldse kennis te hê, of is dit eerder om ‘n deeglike kennis van die Woord van God te kry? Gaan jou gebed oor die oorwinning van jou rugbyspan, of gaan dit oor die oorwinning van God se Koninkryk?

Gebed:

Here, rig asseblief my gedagtes en begeertes, en leer my asseblief om reg te kan bid volgens U wil.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026