Nehemia 4
Dikwels gebeur dit dat wanneer jy hart en siel ‘n taak verrig wat die Here jou gegee het, dan kom daar teenstand van die een of ander aard. Gewoonlik is dit in die vorm van spot, maar dit kan selfs erger raak! Die vraag is, hoe hanteer ‘n gelowige dit? Jou eerste linie van verdediging is gebedsvertroue. Maar hand-aan-hand met gebed, gaan ook ‘n daadwerklike teenaksie, sonder dat dit jou aandag aftrek van jou taak. Terselfdertyd spits jy jou nóg méér toe om jou taak na die beste van jou vermoë af te handel.
Die Judeërs het entoesiasties aan die werk gespring om die mure van Jerusalem te herbou, en sommer van dag een af het die werk fluks gevorder. Maar..... hulle goeie vordering het die ore bereik van hulle teenstanders!
Sanballat het te hore gekom van die sukses wat Nehemia en sy span besig was om te bereik, en hy was hewig ontsteld. Sy eerste reaksie was om die spot te dryf met die manne en vroue van Juda wat so ywerig aan die werk was. “Wat is die miserabele Judeërs besig om te doen? .... Wil hulle sowaar die klippe uit die hope rommel weer gebruik terwyl dit verkool is?” Sy Ammonitiese bondgenoot Tobija was by toe hy hierdie snedige aanmerking maak voor ‘n uitgelese groep Samaritane en die weermag van Samaria. Sy reaksie was: “Wat hulle ook al herbou, as 'n jakkals daarteen opspring, maak hy 'n gat in hulle klipmuur.” Ek is séker daarvan dat die hele vergadering bulderend gelag het vir sy grappie! Maar dit was eintlik gladnie snaaks nie!
Nehemia se eerste reaksie, toe hy hoor hoe Sanballat met hulle die spot dryf, was om te bid. Hy het besef dat hulle nie alleen van die Judeërs ‘n bespotting probeer maak nie, maar dat hulle eintlik besig was om God uit te tart! Dit het hom net aangespoor om nóg harder te werk, en die bouwerk het bo verwagting goed gevorder, soveel só dat hulle binne ‘n kort rukkie reeds tot die helfte van die muur se hoogte gevorder het. Hierdie klomp Judeërs was hart en siel in hulle taak om die stad weer tot sy volle glorie te bring!
Met groot kommer en woede moes Sanballat toekyk hoe die bouwerk vorder. Hy móés ‘n plan maak om sy winsgewende bedryf te beskerm! Toe kry hy vir Tobija, die Arabiere, Ammoniete en mense van Asdod bymekaar om die krisis te bespreek. Almal was woedend oor die toedrag van sake want dit het hulle almal geraak. Dit ontaard in ‘n sameswering om al die Judeërs se harde werk in Jerusalem tot niet te maak.
Natuurlik het Nehemia en die Judeërs te hore gekom van die sameswering, en sielkundig het dit ‘n groot druk op hulle geplaas sodat die werk uiteindelik vir hulle te veel begin raak het. Die bedreiging van ‘n oormag van vyande van buite het hulle erg geknou en moedeloos gemaak. Weereens wend Nehemia hom tot God, en hy bid baie ernstig.
Uiteindelik was Nehemia genoodsaak om veiligheidsmaatreëls te tref, want Sanballat het ‘n groot bedreiging begin word. Hulle het selfs probeer om die Judeërs te infiltreer, en hulle plan was om mense dood te maak om hulle bouwerk te fnuik. Dus begin Nehemia om wagte uit te sit om die vyand te keer. Terselfdertyd het hy die Judeërs bemoedig dat die Here hulle sou beskerm: “Julle moenie bang wees vir hulle nie. Dink aan die groot en ontsagwekkende Heer!” Uiteindelik sou dit kos dat hulle moes bou met ‘n wapen in die een hand. Dis was sékerlik nie maklik nie!
Almal is aangesê om hulle ore oop te hou vir die geluid van ‘n ramshoring, want as iemand in die moeilikheid was, moes almal gaan help. Maar dan voeg Nehemia baie gou by: “Ons God sal vir ons veg!” As hulle bereid sou wees om te gaan, sou die Here hulle die oorwinning gee. Dit was immers tot Sy eer!
Natuurlik het dit opoffering van almal gevra, want saans kon die manne nie meer huistoe gaan om te gaan slaap nie, dit sou kos dat ‘n ieder en ‘n elk dag en nag in Jerusalem sou moes bly om te keer dat die vyand hulle oorval. Bedags moes hulle wapen in die hand bou en snags moes hulle wagstaan.
Die Judeërs was op moedverloor se vlakte toe Sanballat begin met sy bedreiging. Hulle het hulleself gesien as ‘n handjievol bedreigde Judeërs wat gans te gering was vir hierdie oormag van buite. Hulle was beslis nie opgewasse teen hulle vyande nie. Nehemia het egter die situasie totaal omgekeer. Skielik het die Judeërs begin besef dat hulle onder die beskerming van die Allerhoogste staan.
Romeine 8:31 stel dit so mooi: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” en vers 37: “Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het.” In vers 38 sê Paulus dat absoluut niks ons sal kan skei van die liefde van God nie! Hierdie Judeërs het dit besef en vandag, wanneer ons moedeloos begin raak oor ons eie situasie moet ons dit óók besef! Ons moet weer ware vertroue in God kry en ophou om met slap hande ons probleme in die oë te staar. Die groot saak van God se Koninkryk moet weer die hoofdoel van ons geloofsgemeenskap word!
Gebed:
Here, help ons asseblief om ons oë weg te draai van ons probleme en U raak te sien sodat ons met volle vertroue U saak sal kan dien!