Josua 20 tot 22
Europa en Turkye was die afgelope paar jaar oorstroom deur vlugtelinge wat in hulle eie lande nie veilig is nie. ‘n Week gelede land ‘n klomp vlugtelinge sonder dokumente uit Gaza by ons voordeur. Almal soek asiel in lande waar hulle veilig is want hulle lewens word elders bedreig. Maar hoe werk hierdie asiel-storie? Wanneer jy in jou eie land onregverdig vervolg word, kan jy na ‘n ander land vlug en daar by die ambassade om asiel aansoek doen. Dit werk natuurlik nie as jy ‘n misdadiger is en probeer om jou regmatige straf vry te spring nie. In só ‘n geval sal jy bloot net weer terug gedeporteer word. Word jy egter oor byvoorbeeld jou geloofsoortuiging vervolg, dan kan jy om asiel vra. As dit toegestaan word, kan die owerhede jou nie verhoor of in die tronk stop daaroor nie. Jy is dus veilig.
Die idee van asiel was alreeds bekend in die Bybelse tye. Josua kry dan ook opdrag van die Here om sekere stede uit te sonder waar mense kon gaan aansoek doen om asiel en waar hulle dan veilig kon wees. As iemand byvoorbeeld die oorsaak was van ‘n persoon se dood, waar dit bloot ‘n ongeluk was, het dit dikwels gebeur dat die familie van die oorledene wraak gesweer het, al was die persoon onskuldig. Sulke bloedwraak het behels dat die persoon wat verantwoordelik was vir iemand se dood, sélf doodgemaak moes word om te betaal. Hy kon dan beskerming en veiligheid kry in een van die asielstede. Op hierdie manier sou onnodige bloedvergieting verhoed word. Asiel het egter slegs gegeld wanneer die persoon onskuldig was. Skuldiges was nie gevrywaar van straf nie.
Vandag wil ons gewalg voel oor die wraak van daardie tyd. Dit gebeur egter steeds in ons moderne tyd. Ons hoor dikwels van persone wat in die “townships” deur ‘n woedende skare tereggestel is omdat daar geglo is dat hulle die een of ander misdaad sou gepleeg het. Dit geskied gewoonlik sonder ‘n regverdige verhoor. Dikwels word onskuldige mense so om die lewe gebring.
Ons het vandag regverdige howe wat bepaal of iemand skuldig is of nie en watter straf hy verdien. Nogtans word mense dikwels deur die publiek skuldig bevind nog lank voor die hofsaak begin. Die hartseer is dat gelowiges gewoonlik ewe hard veroordeel! Ons dink dat ons baie slimmer is as die hoogsgeleerde regters!
Laaste aan die beurt was die Leviete. Ons het reeds gehoor dat die Leviete deur die volk onderhou moes word. Die Leviete het lewensruimte nodig gehad en daar moes natuurlik ook weiding beskikbaar wees vir hulle vee. Nou kom Josua en sy span wat die grondverdeling behartig en hulle ken agt en veertig stede toe aan die Leviete. Terselfdertyd word verskeie weivelde toegeken waarop hulle vee kon loop. Hierdie stede en weivelde was eweredig versprei tussen al die stamme sodat alles nie op slegs ‘n paar stamme sou neerkom nie. Verder sou dit ook verseker dat die Leviete beskikbaar sou wees vir alle Israeliete, maak nie saak van watter stam hulle was nie.
So het die Here mildelik voorsien in die behoeftes van die Leviete sodat hulle hulle taak kon uitvoer sonder om te bekommer oor hulle fisiese behoeftes. Daarvoor het die volk voorsien.
Ons het reeds gesê dat die Leviete ‘n besonderse rol in Israel vervul het. Uit hulle het die priesters gekom wat die offerandes moes hanteer en sodoende vir die volk by God moes intree. Die Leviete was ook verantwoordelik vir die versorging van die Tabernakel en alle ander heiligdomme. Hulle moes ook toesien dat die Here deur die volk gedien word en dat Sy wil uitgevoer word.
Vandag is dit nie meer die taak van Leviete nie maar hierdie take rus nou vierkantig op die skouers van alle gelowiges. Nie maar ‘n paar uitgesoektes soos kerkleiers, pastore, dominees nie, maar elkeen van ons wat kinders van die Here is. Inderdaad voorsien die Here ook mildelik in ons behoeftes vandag. Ek kan maar net getuig van Sy goedheid in my eie lewe! Hy vra egter dat ek Hóm sigbaar sal maak aan die wêreld deur my optrede. Deur Sy liefde aktief uit te leef, sien die wêreld Jesus in en deur my.
Ons kan ook verséker weet dat dieselfde God wat destyds betrokke was met die stamme van Israel, vandag steeds betrokke is met my en jou. Sy beloftes staan steeds vas en waar en Hy kom dit volledig na. Hy versorg, voorsien en bewaar ons selfs deur die moeilikste omstandighede. Daarom verdien Hy dat ons Hom met volle toewyding dien.
Uiteindelik is die grondverdeling gefinaliseer en nou is dit tyd vir die drie stamme van die Oosjordaanstreek om uiteindelik huiswaarts te keer waar hulle vrouens en kinders geduldig vir hulle wag. Vir hulle was dit ‘n groot opoffering om eers die ander stamme te help om die land in besit te neem en te vestig. Voor hulle vertrek pleit Josua eers by hulle om altyd gehoorsaam aan die Here te bly en te lewe volgens Sy wil. Hulle vertrek egter nie met leë hande nie. Saam met hulle gaan edelmetale, groot troppe vee en ‘n groot vrag tekstielware wat hulle met hulle stamgenote gaan deel. Almal wat daar agtergebly het deel in die buit.
God se kinders mag nooit in selfsug en eiebelang leef nie!
Gebed:
Here, dankie vir al die gawes wat U my gegee het. Help my om dit ook met ander te deel!