Handelinge 18:18-28
Na 'n lang en emosionele gegroetery, vertrek Paulus, Akwila en Priscilla na die hawestad Kenchree. Wanneer hulle daar aankom, het Paulus 'n versoek: “Akwila, my broer, ek wil jou 'n guns vra: skeer asseblief my hare af.”
Akwila verstaan nie mooi nie: “Waarvoor?”
“Ek het 'n gelofte aan die Here gemaak, dat ek sal aanhou om die Evangelie te verkondig aan die heidennasies tot die dag wat ek my hoof neerlê. Ek het my hare laat groei om my daaraan te herinner. En nou wil ek alles afskeer om die gelofte te bevestig. Ja, ek weet dat die tradisie is dat dit slegs in Jerusalem kan gebeur, maar jy weet mos dat ek my nie meer juis aan tradisies steur nie!”
En so vertrek Paulus-hulle die volgende dag per skip na Efese, Paulus met 'n skoongeskeerde kop. Vir Akwila en sy dierbare wederhelf Priscilla wag daar oorkant die Egeïese see 'n splinternuwe lewe!
Terwyl die twee hulleself vestig in hulle nuwe stad, gaan soek Paulus eers 'n sinagoge op.
Efese is die belangrikste handelstad asook die hoofstad van Asië. Dit is baie strategies geleë op die groot handelsroete tussen Rome en die Ooste, dus gaan hier baie voete deur. “As hier darem 'n brandende gemeente kan wees, kan dit die Evangelie dwarsoor die wêreld versprei!” dink Paulus. “Miskien moet ek weer later hierheen terugkom.”
Hy kan egter nie nou lank in Efese bly nie, dus moet hy die beste van die saak maak. Teen alle verwagtinge in, is die Jode in die sinagoge maar nét te bly om vir Paulus te sien, want hier kom nou nie juis baie Jode van elders in die stad nie, en dadelik raak hulle aan die gesels. Die Jode hang aan Paulus se lippe, hierdie man wéét waarvan hy praat!
Té gou is die tyd egter om, en Paulus moet vertrek. Die Jode smeek hom om asseblief nog langer aan te bly, maar Paulus se skip gaan binnekort uit die hawe vaar, en hy durf hom nie mis nie. “Ek belowe dat ek weer na julle toe sal terugkom, as dit God se wil is.” troos Paulus, en dan moet hy hom haas om betyds by die skip te kom.
Sy reis na Antiogië neem hom met 'n groot ompad. Eers vaar hulle reguit na Sesarea, waar hy aan wal gaan. Dan stap Paulus die lang ent pad na Jerusalem, want hy wil eers die gemeente in Jerusalem gaan groet. Daarvandaan stap hy die lang, vermoeiende ent pad na sy ou tuisgemeente, Antiogië, waar hy hartlik met groot vreugde ontvang word. Nagte deur moet Paulus vertel wat hulle alles deurgemaak het, en die gemeente sit oopmond en luister na al sy wonderlike ervaringe.
Paulus geniet die tydjie in Antiogië, want skielik is al die druk van hom af en hy kan maar net 'n “gewone” lidmaat wees sonder 'n swaar vrag verantwoordelikheid op sy skouers. Maar baie gou is Paulus verveeld, en die verlange na die sendingveld raak nét te groot. Hy wil gaan kyk hoe dinge in Galasië gaan, en dan is daar Efese wat vir hom wink. Hy brand om sy tande in daardie woelige stad te kan inslaan! En nou het daar juis berigte gekom van 'n man wat daar begin het om die Evangelie te verkondig, 'n bekeerde Jood met die naam Apollos.
Akwila het vir Paulus laat weet van hierdie begaafde man wat preek dat die biesies bewe! Akwila skryf vir hom dat Apollos 'n deeglike kennis van die Skrif het, maar hy het blykbaar nog nooit gehoor van sake soos byvoorbeeld die doop nie. Op ‘n dag gaan haal Akwila en Priscilla hom en verduidelik alles mooi vir hom. Die twee mense het Apollos behoorlik onderrig in die Evangelie en nou preek hy éérs kragtig!
Intussen vertrek Apollos na Agaje om daar in Korinte te gaan preek. Priscilla en Akwila gee vir hom aanbevelingsbriewe na Korinte omdat hulle natuurlik die gemeente goed ken. Daar is baie groot vrug op sy werk!
Ons kan leer van hierdie toegewyde egpaar, wat dit as hulle plig beskou om te sorg dat ander gelowiges in die volle waarheid van God se raadsplan onderrig word. Ons sien ook, terloops dat albei betrokke is in hierdie onderrig. Dus is dit nie alleen die mans wat sulke dinge doen nie, maar ook die vrouens van daardie tyd. In die Joodse kultuur was dit natuurlik nie toegelaat nie.
Gelowiges móét by mekaar betrokke raak! Ons moet mekaar se geloof help opbou en mekaar begelei in die volle raad van God. Ons moet ook omgee vir mekaar op 'n praktiese manier. Hierdie soort omgee en opbou van mekaar se geloof werk gewoonlik op sy beste in sulke plekke soos selgroepe, Bybelstudiegroepe, Mannegroepe ens. waar die betrokkenes later 'n hegte gesin word wat dinge vryelik met mekaar deel en by mekaar leer.
Paulus is in die wolke! Nou kan hy nie langer sy werk uitstel nie, en hy vertrek na Galasië. Hy reis weereens deur sy geboortestad Tarsus, 'n plek wat vir hom baie herinneringe inhou. Een-vir-een besoek hy weer ál die stede waar hy voorheen die Evangelie gaan plant het - Derbe, Listra, Ikonium, Antiogië, en dan stap hy die laaste paar honderd kilometer na Efese met ‘n lied in die hart. Oral waar hy kom, gesels hy met die gelowiges en gee hulle geestelike versterking.
Gebed:
Here gee my asseblief die passie om intens betrokke te raak by my medegelowiges. Gee my ware, praktiese omgee in my hart!