Johannes 1:35-42
‘n Evangelis is iemand wat mense van Jesus vertel. Wie was die héél eerste evangelis? Dalk Johannes die Doper? Hy het mos van Jesus getuig! Daar was egter iemand anders nog voor hom wat met sy heel eerste ontmoeting met Jesus opgewonde gehardloop het en ander gaan haal het om na Jesus toe te kom.
Maar nou loop ek die verhaal vooruit!
Johannes die Doper was op ‘n dag, soos gewoonlik besig om te preek en te doop, toe Jesus daar verbyloop. Johannes het stip na Jesus gekyk en vir ‘n tweede maal maak hy die uitspraak: “Dáár is die Lam van God.”
Een van sy volgelinge, Andreas, en sy maat was dadelik opgewonde en dadelik los hulle hulle leermeester nét daar en loop agter Jesus aan.
Vir ‘n rabbi sou dit ‘n klap in die gesig wees as jou leerlinge jou soos ‘n sak patats los en agter ‘n ander rabbi aanloop. Vir Johannes was dit egter werksbevrediging, want hy het sy doel bereik. Dit was immers waarvoor hy daar was, om die pad voor te berei sodat mense Jesus kon volg.
Kom ek noem ‘n voorbeeld: ek bedryf hierdie internetbediening onder die vaandel van die NG Kerk in Ballito. As iemand deur my bediening vir Jesus sou ontmoet, en hy skakel in by die AGS, Baptiste of watter ander Christelike kerk ookal, sal ek jubel en juig, want ek werf nie lidmate vir die NG Kerk nie, maar ek werf volgelinge vir Jesus! Johannes het presies ook net dit gedoen: volgelinge vir Jesus gewerf!
Jesus het die twee manne agter Hom sien aandrentel, toe draai Hy om en vra wat hulle dan nou soek? Hulle was verbouereerd en vra toe sommer die eerste ding wat in hulle gedagtes opkom: “Waar gaan U tuis Rabbi?” Jesus het nie bloot Sy besigheidskaartjie vir hulle gegee nie. Nee, Hy het hulle entoesiasties uitgenooi: “Kom saam, dan sal julle sien!” Wat daar alles daardie middag gepraat was, weet ons nie. Die twee manne het egter só aan Jesus se lippe gehang, dat hulle die ganse middag daar spandeer het.
Wat Andreas daar ervaar het, het hom só opgewonde gemaak dat hy nét daar en dan besluit het dat hy hiérdie Rabbi wat hy ontmoet het, net eenvoudig met ander móés deel! Hy het opgespring en na sy broer, Simon gehardloop en hom alles van die wonderlike Rabbi wat hy ontdek het vertel en toe sleep hy vir Simon saam na Jesus toe.
Maak Jesus jou óók so opgewonde dat jy Hom net eenvoudig nie vir jouself kan hou nie? Is dit vir jou ook so ‘n obsessie om ander mense na Jesus toe te vat sodat hulle Hom kan ontmoet? Ek het al verskeie verhale gehoor van iemand met so ‘n obsessie, en dan word die persoon wat hy na Jesus lei ‘n Billy Graham wat duisende mense vir die Koninkryk werf!
Van Andreas hoor ons nie juis weer veel in die Nuwe Testament nie. Slegs twaalf keer word sy naam vermeld as een van die dissipels. Hy kry nêrens erkenning vir iets besonders wat hy gedoen het nie. Nogtans het Andreas gesorg vir ‘n groot opskudding in die geskiedenis van die kerk. Die dag toe hy vir Simon na Jesus toe gebring het, het die groot hoekpilaar van die kerk - die rots wat die kerk van Jesus geloods het - in wording gekom.
Inderdaad was Simon maar ‘n rowwe, ongekunstelde, heethoofdige visserman wat dikwels gepraat en gehandel het voordat hy gedink het. Hy was beslis ‘n baie onwaarskynlike kandidaat vir die pos van evangelis en nog veel méér onwaarskynlik as die leier van die ganse Christelike kerk! Maar Jesus het dwarsdeur hierdie harde dop gekyk toe Andreas hom daar aangebring het. Hy het onder die harde kors ‘n juweel gesien. “Jy is Simon seun van Johannes,” het Jesus vir hom gesê, terwyl Hy stip na die ongemaklike Petrus gekyk het. “Jy sal Sefas genoem word!” Sefas is Aramees vir “Rots.” In Grieks word dit vertaal met die naam “Petrus.” Sy naam word minstens 160 keer genoem in die Nuwe Testament, naas Paulus die naam wat die meeste keer verskyn.
Petrus se invloed op die kerk was astronomies! Dit het wel ‘n volle drie jaar geneem om daardie harde dop te deurdring, maar ná Pinksterdag sien ons in Petrus ‘n onverskrokke leier wat duisende mense met hom saamvat om die triomfantlike kerk van Jesus te bou!
Maar waar het dit alles begin? By ‘n Andreas wat opgewonde was oor Jesus, en bereid was om iemand anders na Jesus toe te lei. Andreas het op daardie stadium nie juis opleiding gehad om van te praat nie, hy het slegs één enkele middag in Jesus se geselskap deurgebring! Dit was egter oorgenoeg om van hom ‘n evangelis te maak.
Dikwels voel ons dat ons eers ‘n EEIII kursus, Getroue Getuies, Bybelskool en ‘n hele boel ander opleiding moet deurtrap voordat ons dit durf waag om met iemand oor Jesus te gesels. Dis ‘n mite! Al wat Jesus van jou en my vra is om bereid te wees! Jesus het ons immers die Heilige Gees gegee om ons te lei in ‘n gesprek! Dit is nie die taak van ‘n leraar om mense na Jesus te lei nie. Daardie taak behoort aan doodgewone gelowiges, mense soos ek en jy! Andreas het dit bewys, en die talle nuwe gelowiges na die “Pinksterontploffing” het dit weereens bewys toe dit nie die Apostels was wat die Evangelie uitgedra het nie, maar gewone mense. Petrus en sy maters het slegs leiding gegee.
Gebed:
Here, maak my asseblief gewillig om soos ‘n Andreas ander mense na Jesus te lei.