Genesis 39:20-40:23
Mense wat opreg probeer leef, word dikwels beloon met onreg. Josef probeer ‘n rein lewe leef, en hy weerstaan die verleiding van Potifar se vrou. Hy wil leef soos dit God behaag. En wat kry hy? Hy word in die tronk gesmyt wanneer daardie vrou hom belieg. Deur die eeue is talle mense geviktimiseer oor hulle opregtheid. Talle gelowiges verloor daagliks hulle werk bloot omdat hulle te eerlik is. Hoeveel mense weet jy nie van wat al baie besigheid verloor het omdat hulle nie hulle beginsels wou prysgee nie? Daar breek ‘n dag aan wat sulke gelowiges dalk sal wil vra waarom God hulle dan nie gehelp het nie? Wanneer ons Josef se verhaal lees, dan sien ons dat God nooit óóit Sy kinders in die steek laat nie. Ja, daar kom soms bittere teleurstellings, en daar kom dikwels groot swaarkry en seerkry, maar deur dit alles is Hy steeds daar, en gebruik Hy daardie einste teleurstellings om ons na iets beter te lei.
Josef word opgesluit in Potifar se “ronde huis,” waarskynlik ‘n fort waarin ook tronkselle was. Potifar het alle rede gehad om Josef te laat doodmaak. Maar wat maak hy? Hy plaas Josef in beheer van die hele tronk. Inderdaad is Josef ‘n gevangene, maar baie gou word hy ‘n bevoorregte gevangene. Ook hiérin kan ons nie anders nie as om die Here se hand te sien. Hy sorg vir Josef selfs in die tronk.
Op ‘n dag beland twee van Farao se hoof hofbeamptes in die tronk omdat hulle “gesondig” het teen die magtige Farao. Tog ironies: hulle is daar omdat hulle sondig. Josef is daar omdat hy weier om te sondig! En dan een nag kry albei hierdie belangrike amptenare ontstellende drome. Wanneer Josef daardie oggend in hulle sel kom om hulle te versorg, sien hy sommer dadelik dat hulle baie ontsteld is. “Wat’s fout?” wil hy weet, en dan vertel hulle van die drome, en dat dit hulle ontstel. Dalk het hierdie drome ‘n groot betekenis!
“God ken julle drome, Hy kan dit uitlê. Kom, vertel my daarvan”. Met die uitleg van drome gee Josef al die eer aan God - dit is Hy wat hom die wysheid gee om dit te kan doen. En skielik word die rolle omgeruil. Nou is Josef nie meer die arrogante dromer nie, maar die een wat luister na ander se drome. Die skinker vertel van hierdie ongelooflike droom, waar hy letterlik staan en kyk hoe ‘n wingerdstok begin bot, en voor sy oë binne drie dae blom en ryp vrugte voortbring wat as wyn vir Farao voorgesit word. Asemrowend!
“Oor drie dae gaan jy weer vir Farao wyn skink,” lê Josef die droom uit. Nou is die bakker opgewonde. Dalk gaan dieselfde met hom gebeur. Hy vertel hoedat hy gedroom het van voëls wat varsgebakte brood kom oppik uit ‘n mandjie wat hy op sy kop dra. Josef se gesig val. Vir hierdie arme man wag daar bitter slegte nuus: hy gaan tereggestel word oor drie dae.
“Dink aan my wanneer jy ‘n vry man is,” pleit Josef by die skinker. Hy vertel hulle hoedat hy “gesteel” is uit sy land, en hoedat sy broers hom in die gat (put) gegooi het, en nou sit hy alweer in ‘n gat (tronk). Dit is nou al dertien jaar sedert hy in die eerste gat gegooi is, en hier wil hy nou bitter graag uit!
In Farao se paleis is daar groot fees. Hy verjaar, en daar word groot partytjie gehou. Dan beveel Farao dat sy twee hofamptenare wat hy in die tronk laat smyt het gebring word sodat hy hulle kan verhoor. Die skinker kry goeie nuus: hy word in sy amp herstel. Die bakker word egter tereggestel, presies soos Josef voorspel het.
Maar die skinker het skoon vergeet van Josef waar hy steeds in die tronk sit en krepeer.
“Hoe lank gaan U my nog bly vergeet Here?” snik Dawid, die Psalmdigter dit uit in Psalm 13, “Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af wegkyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?” Hierdie woorde kon net sowel uit Josef se mond gekom het. En hierdie is die woorde wat menige gelowige uitsnik wanneer hulle in die donker gat van ellende sit - almal het van hulle vergeet, selfs God.
Maar God het nie van Josef vergeet nie. En God het ook nie van Dawid vergeet nie. Psalm 13 eindig met die woorde: “Ek hou vas aan U troue liefde, oor die uitkoms wat U gee juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.” Op dieselfde trant borrel Paulus dit uit, terwyl hy in die tronk sit in Rome: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Waarom kan Josef en Dawid en Paulus positief wees terwyl hulle in ‘n donker gat sit? Omdat hulle gewéét het dat God ten spyte van hulle omstandighede steeds by hulle was, en dat Hy deur dié omstandighede iets groot wou bereik. Paulus se briewe uit die tronk het baie miljoene mense bereik. Josef se verblyf in die tronk sou uiteindelik die volkie Israel red en laat blom. Wat van die tyd wat ek en jy dalk in die gat deurbring? Wat wil die Here daardeur bereik? Dalk sal ons nie nou weet nie, maar eendag gaan ons ons hande saamslaan as ons terugkyk en sien hoe die Here ons swaarkry gebruik het om iets wonderlik te bewerkstellig.
Gebed:
Here, gee my asseblief ‘n borrelende blydskap ten spyte van my omstandighede. Gee my asseblief volle vertroue in U, want ek weet dat U iets groot beplan in my swaarkry.