2 Korintiërs 6:1-13
Ek is altyd so bang dat ek dalk iets skryf in my dagstukkies wat iemand gaan aanstoot gee. En kort-kort kry ek dit nogtans reg om op iemand se tone te trap, en dan moet ek móói verduidelik om uit die moeilikheid te bly. My groot kriterium is om asseblieftog net Skrifgebonde te bly, want die oomblik as jy van die Skrif afdwaal, dan soek jy gróót moeilikheid. Maar ongelukkig is ek ook maar net mens, en boonop het ek nie al die boekgeleerdheid wat ‘n predikant het nie. Dus vra ek nou al by voorbaat: vergewe my as ek iets skryf waarmee jy nie heeltemal saamstem nie. Ek verwys nie nou na ‘n spesifieke geval nie, want ek is al baiekeer aangevat oor iets waarmee iemand nie saamstem nie. Ek troos my egter daaraan, dat elke keer as ek oor die vingers getik word, dan is iemand anders in ekstase oor presies dieselfde ding!
Ek troos my ook daaraan, dat ek nie alleen staan in hierdie probleem nie - ek is in goeie geselskap. Alle predikante word die een of ander tyd geraps oor iets wat hulle gesê het. Maar dit gaan verder, want selfs Paulus, die grootste sendeling van alle tye, moes dikwels maar sy pak slae verduur omdat iemand ongelukkig was oor sy sêgoed. En sy pak slae was dikwels nie maar net ‘n mondelinge een nie, maar fisies. In 2 Kor 6:5 skryf hy: “Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland”. As daar nou een man was wat rede gehad het om te kerm, dan was dit Paulus, want hy kon nooit alles reg doen in almal se oë nie.
Om daardie rede moes Paulus ekstra versigtig wees om absoluut onberispelik te leef, op te tree en te preek. Vriendelikheid moes uit hom uitstraal, en hy moes begrip hê vir elkeen se omstandighede. Hy moes verdraagsaam wees. Waarom? Paulus het gewerk met basies vier groepe mense van totaal uiteenlopende sieninge.
Aan die een kant was daar die stoere Jode, wat vasgeklou het aan al die ou Joodse tradisies en wette. Hulle het van hom, as Fariseër verwag om presies dieselfde te doen. As hy nie die wet onberispelik navolg soos wat hulle tradisies dit verwag nie, dan was hy knie-diep in die pekel!
Die tweede groep was die Joodse gelowiges. Meeste van hulle kon nog steeds nie afskeid neem van die ou tradisies nie, maar terselfdertyd het hulle Jesus aanbid. Hulle was verdeeld oor presies wat van hulle verwag word. Hulle was verward!
Die derde groep was die ongelowige heidene, wat briesend was oor Paulus hulle gode geminag het en hulle mede-aanbidders afgerokkel het.
En dan was daar die vierde groep: heidene wat tot geloof gekom het. Hulle het absoluut geen erg gehad aan Joodse tradisies nie, en kon nie verstaan waaroor al die bohaai gaan nie. Die Jode het van hulle verwag dat hulle ten minste sommige van die Joodse tradisies soos byvoorbeeld die besnydenis moes nakom.
En iewers tussen hierdie vier groepe was die arme Paulus en sy medewerkers vasgevang. Dit was ‘n gans onmoontlike taak om sodanig te leef dat hulle almal sou tevrede stel. En die dinge wat hulle verkondig het, het nog meer konsternasie veroorsaak, want die Joodse gelowiges wou hê dat Paulus moes preek dat die wet ten volle onderhou moes word, terwyl die Heidense gelowiges vereis het dat Paulus moes preek dat almal vrygemaak is van die wet, en dat dit totaal oorbodig is.
Daarom skryf Paulus die gedig om te illustreer waardeur hulle moes gaan. In die 1983 vertaling lees ons in 2 Kor 6:8-10 “Ons ontvang eer en oneer, ons word beledig en geprys.”
In ons eie bediening gaan dit dikwels ook soos met Paulus, en ek moet maar fyn trap! Ten spyte daarvan word ek dikwels uitgelok om my opinie te lug oor die een of ander omstrede onderwerp. Vir ‘n leraar in ‘n gemeente is dit maklik, want hy preek slegs wat sy kerk of gemeente se siening is. Ongelukkig skryf ek vir gelowiges oor ‘n baie wye spektrum van sieninge. Daar is diegene wat glo dat die skepping slegs 6000 jaar oud is, en ander wat glo dat dit 15 biljoen jaar oud is. Daar is die kwessie van die Sabbat of Sondag. Dan is daar strydvrae oor die doop, nagmaal, onderhouding van die wet, selfdegeslag verhoudinge en nog baie meer.
Ek het al ‘n paar keer in die strik getrap om hierdie soort onderwerpe aan te raak, en elke keer is ek gelooi daaroor. Aan die ander kant is daar ook dikwels persone wat my probeer oortuig om hulle siening aan te neem.
Daar is slegs één onderwerp waaroor ons almal saamstem, en dit is die wonderlike verlossingsdaad van Jesus. Daaroor kan ons almal eensgesind wees. Kom ons loof saam die Here hieroor, en los al die ander twispunte uit. Jesus is immers gróót bo álles en álmal, en Hy is die magtige Heer en Heiland, sterke Verlosser en ewige God! Amen!
Gebed:
Here Jesus, ons aanbid U as ons Verlosser. Help ons om so te leef dat almal U sal loof deur ons lewens!