Kinders alleen by die huis kan dikwels groot moeilikheid beteken. Die fliek “Home Alone” is sékerlik baie vergesog en oormatig oordryf, maar dit laat jou dink dat jy nie ‘n kind alleen los by die huis nie. Gewoonlik gaan hulle verbeelding met hulle op hol, en dan probeer hulle allerhande dinge wat hulle nooit ooit sou doen as Pa of Ma daar was nie. Of hulle skielike vryheid laat hulle allerhande kattekwaad aanvang.
Ballito sit met ‘n reuse kopseer - dit tref ons elke jaar in November: Matrieks! Hierdie jongmense het nou skielik vryheid, weg van die ouers en owerhede af, en dan haak hulle totaal uit. Die drank- en dwelm misbruik is skrikwekkend, en saam daarmee dikwels 'n walglike losbandigheid en wilde partytjies wat tot dagbreek aanhou. Dikwels gaan hulle só tekere dat die bure dit net nie meer met hulle kan uithou nie. As dit maar net lawaai is, kan jy dalk nog daarmee saamleef, maar hulle sê mos, brandewyn het nie brieke nie, en dan volg vandalisme. Dikwels word groot skade aangerig. En wanneer jy die ouers skakel om te vertel wat hulle kinders doen, dan is die antwoord gewoonlik: “Ons kinders? Nooit! Dit kan nie hulle wees nie! Jy maak beslis ‘n fout! Ons dogtertjie/seuntjie is goed opgevoed!”
Was dit nie vir 'n organisasie soos Red Frogs, wat wonderlike werk doen onder hierdie klomp nie, dan het dinge dalk nog baie erger gegaan!
Ma, Pa, weet jy wat jou kinders vanjaar aanvang terwyl hulle op die Matriek wegbreek is? Ek vra maar net!
Paulus het met ‘n soortgelyke tameletjie gesit: die verskil was dat sy “kinders” wat alleen by die huis moes agterbly, al mooi groot was. In ‘n sekere sin was die Korintiërs sy geestelike kinders. Hy het hulle immers deur sy prediking na Jesus gelei. Terwyl hy in Korinte gewerk het, het hy vir die gemeente ‘n baie goeie voorbeeld gegee om ná te volg. Na sy vertrek, begin hulle egter maak net soos hulle wou. Van “Pa” Paulus en sy pragtige voorbeeld het hulle baie gou vergeet, en hulle eie koppe gevolg.
Wat moes Paulus doen om hierdie ondraaglike situasie op te los? Hy dreig dat hy hulle binnekort sou kom besoek en sélf met die belhamels in die gemeente kom afreken (as die Here wil). “Wat verkies julle? Moet ek met ’n slaanding na julle kom, of in liefde en in ’n gees van vriendelikheid?” (1 Kor 4:21.) Paulus het egter nooit daardie kans gekry om terug te gaan na Korinte toe nie. Dit was nie in God se Raadsplan nie!
Paulus bedink toe egter ‘n ander plan: hy sou vir Timoteus stuur na sy “probleemkinders”. Liewe ou Timoteus! Hy het soveel vir Paulus beteken. As jong man het Paulus hom ontmoet tydens sy tweede sendingreis in die stad Listra. Timoteus was toe alreeds ‘n gelowige. Dadelik het Paulus gesien dat hierdie jong man baie kon beteken vir die Evangelie, en het hy hom summier saamgeneem op sy verdere reise. Later kon hy baie staatmaak op Timoteus, en het hy hom na gemeentes begin stuur as hy nie persoonlik kon gaan nie. Hy moes onder meer die gemeente in Tessalonika namens Paulus gaan besoek, en later is hy selfs permanent aangestel as leraar in Efese.
Maar nou het Paulus eers ‘n baie groot taak vir Timoteus: hy moes die gemors gaan regsien in Korinte. Hy moes hierdie brief na die gemeente toe neem, en dit waarskynlik vir hulle voorlees. Wat ‘n reuse taak op die skouers van ‘n jong man!
Ek en jy moet onsself die vraag afvra: “Wat doen ek as ek alleen tuis is?” Dalk ‘n snaakse vraag, maar wat ek daarmee bedoel is: wanneer gelowiges besig is met kerkdinge, dan tree ons gewoonlik baie voorbeeldig op. Ons maak al die regte geluide en kom baie vroom voor. As ek met vakansie gaan, dan is daar mos niemand wat my ken nie (altans, so dink ek), en dan haak ek totaal uit. Ek vang dinge aan wat ek nooit óóit sou waag by die huis nie. Gaan my dalk te buite aan drank, want ek is mos met vakansie! Kerk? Wie gaan dan nou kerktoe as jy met vakansie is? En as dit net ons manne is, en die vroumense is nie naby nie, dan word alles oorboord gegooi! Natúúrlik vat ek ‘n Bybel saam, net vir die wis en onwis. ‘n Mens mag hom dalk nodig kry in ‘n noodgeval!
Wanneer jy vanjaar jou Desembervakansie beplan, nooi die Here saam met jou, en wees gedurig bewus van Sy teenwoordigheid. Ruim tyd in vir kerkbesoek tydens jou vakansie. Ek is opgewonde om in ‘n ander plek in die kerk te kom, en om saam met totaal ander gelowiges te aanbid, te beleef hoe húlle dinge doen. Selfs stiltetyd wanneer jy met vakansie is, kan ook weer vir jou ‘n vars en opwindende ervaring wees, veral as jy die Here só kan ontmoet op die strand of in die stilte van die bos of in die asemrowende skoonheid van die berge.
Maak jou “alleen-by-die-huis” opwindend saam met die Here!
Gebed:
Here, dankie dat ek U saam met my kan hê, ook wanneer ek weg is met vakansie. Hou my asseblief elke oomblik bewus van U teenwoordigheid.