Genesis 20:1-18
Ag nee, Abraham! Tog nie al wéér nie!? Dit is ons eerste reaksie wanneer ons vanoggend se verhaal lees. Maar wag, kom ek verduidelik:
Jy sal mos nog onthou hoedat Abraham, toe hulle in Egipte was, voorgedoen het dat Sara sy suster is? Die Farao het vir Sara in sy harem opgeneem, en dit was eers toe die plae die Egiptenare tref, wat Abraham met die sak patats uitkom dat hulle tweetjies eintlik getroud is.
Ons sou nou dink dat Abraham sy les geleer het. Dit was nou 25 Jaar later en Abraham al lankal vergeet van hierdie voorval. Hy en Sara verskuif hulle tente na die Suidland. Sara was al ‘n vrou van so byna 90 jaar oud, maar steeds was sy beeldskoon, want koning Abimelek het met sulke regte slaapkamer-ogies na haar gekyk. Hy kon nie weerstaan wat hy aanskou het nie. Jy wonder wat dit is aan ‘n negentigjarige ou vrou wat haar so begeerlik kan maak? Abraham sien moeilikheid kom, en dan vertel hy vir die koning dat Sara sy suster is.
Eintlik was hierdie net ‘n halwe leuen, want nou verneem ons dat Sara eintlik sy halfsuster is. Hulle het dieselfde pa maar nie dieselfde ma nie. Dit maak egter géén verskil aan Abraham en Sara se sonde nie, want hulle beplan egbreuk, en dit is ‘n liederlike sonde.
Genadiglik gryp God weereens betyds in voordat dit hééltemal te laat is, en nes die vorige keer tref hy Abimelek en sy volk met ‘n plaag. Dan praat God met Abimelek in ‘n droom, en sê vir hom dat Sara reeds getroud is, en dat hy haar moet terug gee anders sterf hy.
Op die rooi tapyt kom Abraham weereens, net soos in Egipte, met die hele sak patats uit. Nadat hy eers ’n slag goed geroskam is, kry hy sakke vol geskenke - slawe, troppe vee en ‘n streepsak vol silwer.
Ons voel lus om Abrahan aan die skouers te skud en vir die man te sê: “Abraham, leer jy dan nie?” Uit hierdie verhaal leer ons egter vandag ‘n paar baie kosbare lewenslesse.
Eerstens leer ons dat owerspel baie beslis verkeerd is. Die Bybel veroordeel dit in geen onduidelike terme. Trouens, hoe daar ookal vandag oor buite-egtelike verhoudings gerasionaliseer word, dit is vir God ontoelaatbaar. In die ou Israel was dit strafbaar met die dood. Dit is ‘n gruwelsonde, en God sien nie eers heidene oor hieroor nie. Abimelek was ‘n heiden, en hy sou die doodstraf gekry het as hy (selfs onwetend) hiermee voortgegaan het.
As jy dus vandag dalk besig is om die kat in die donker te knyp - dalk ‘n “onskuldige” skelm verhoudinkie by die werk: Staak dit onmiddellik voordat dit te laat is! Dit is ‘n gruwel in God se oë!
Die tweede belangrike les, is dat God se genade baie wyer strek as wat ons wil besef. God het nie witbroodjies nie! Dit was nie die uitverkore Abraham wat deur God gewaarsku is nie, maar die heidense koning Abimelek! Abraham het ‘n goedbeplande sonde gepleeg. Abimeleg, aan die ander kant, is onskuldig in Abraham se plan ingesuig, en daarom waarsku God hom dat hy besig is met sonde.
‘n Derde les wat ons leer, is dat daar versoening moet kom na ‘n misstap. Abraham moes gaan bieg: hy moes gaan verduidelik waarom hy so ’n onnosele ding gedoen het. En toe moes hy gaan regmaak waar hy verbrou het. Hy het vir Abimeleg en sy volk voorbidding gedoen vir God se vergifnis, en dat hulle lewe weer herstel sou word.
Abimeleg, die heiden, het baie goed besef dat hy gesondig het, al was dit dan ook nou onwetend, en deur vir Abraham groot geskenke te gee, wys hy dat hy vir Abraham vergewe het. Hierdeur bewerkstellig hy dus versoening. Dit is dus ‘n mite dat dit altyd die gelowige is wat reg is en die ongelowige wat verkeerd is!
Abraham, die vader van gelowiges, is nie ‘n engeltjie nie! Selfs hierdie hoekpilaar van geloof het ook gestruikel. Ons sien hom as iemand wat ook maar sy tekortkominge en swakhede het, selfs op honderdjarige ouderdom. Net so het sy nasaat, die groot koning Dawid, die man wat sulke mooi Psalms geskryf het, selfs moord gepleeg om sy egbreuk te probeer verdoesel. In 1 Kor. 1 lees ons dat Paulus ‘n beroep doen op die gemeente in Korinte “wat in Jesus afgesonder” is om op te hou met hulle liederlike sondes van onsedelikheid, afgodery ens.
Die verbond, hetsy dit die Ou of Nuwe verbond is, maak nie van jou ‘n sondelose mens nie. Dit beloof jou wel ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees, maar dit vereis van jou om vrywillig anders te leef. ‘n Mens is nie ‘n robot wat geprogrammeer kan word om slegs goed te doen nie. Daar is géén towerstaffie wanneer jy die dag jou hart aan Jesus gee, wat gaan maak dat jy outomaties goed lewe nie. Die keuse lê steeds by jou om te leef soos wat God dit wil hê. Hy gee jou egter die Heilige Gees om jou krag te gee daarvoor en jou te help wanneer jy die keuse gemaak het.
Gebed:
O Here, ek struikel so maklik. Hou asseblief my oë gevestig op Jesus sodat ek nie van die pad afdwaal nie.