Afgodsoffers

30 July, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Afgodsoffers

1 Korintiërs 8:1-13

Hoe ver strek my Christelike vryheid? Hierdie is ‘n vraag wat elkeen van ons seker alreeds gevra het. Mag ek byvoorbeeld varkvleis eet? Dit word tog duidelik in die Ou Testament verbied! Dan is daar weer gelowiges wat baie bekommerd is oor die kos waarop die “Halaal” stempeltjie van die Moslems geplaas is, want hierdie kos is toegewy en geseën deur ‘n priester. Is dit nie dalk afgodsoffers nie? Hierdie stempeltjie het egter ook ander implikasies, waarop ek nie vandag wil ingaan nie.

Iemand stuur nou die dag vir my ‘n video, wat handel oor die “biddende hande” beeldjies wat so gewild is, onder veral die ouer gelowiges. Sy bewering is dat dit onheil, en veral armoede kan bring in jou huis, en dat jou armoede kan verdwyn as jy van die beeldjie ontslae raak. Die beeldjie was oorspronklik, volgens ‘n ou legende die “simbool van armoede.”

Die gemeente in Korinte se probleem was nog baie groter, en hulle wou van Paulus weet wat hulle te doen staan. Afgodsaanbidding was in Korinte natuurlik baie groot, en die gelowiges was maar ‘n klein minderheid. Wanneer ‘n dier geoffer is, is die vleis in drie verdeel. Die vel en bene word geoffer. Die priester kry ‘n deel van die vleis, wat hy gewoonlik dan op die mark verkoop het. Die derde gedeelte kry die persoon wat die offer gebring het, en hy het dan gewoonlik sy vriende genooi vir ‘n feesmaal waar hierdie vleis voorgesit is. Vir die gelowiges was dit natuurlik ‘n baie groot probleem, want hulle het nie geweet of die vleis wat hulle op die mark koop dalk afgodsoffervleis is nie. En om sake te vererger, het hulle nie geweet of hulle by ongelowige vriende mag eet nie, want dit was dalk afgodsoffers wat aan hulle voorgesit sou word.

Paulus moes hierdie saak baie omsigtig hanteer, want hy wou verhoed dat enige gelowige seerkry in sy geloof. Daarom begin hy met ‘n beskrywing oor wie of wat hierdie sogenaamde afgode dan nou is. Is hulle werklik die magtige gode wat hulle aanbidders wil voorgee dat hulle is? Vandag is daar by die Hindoes die “magtige” gode Chrishna, Vishnu, Shiva en nog ‘n swetterjoel ander. Paulus stel dit onomwonde dat daar slegs één ware God is. Dit beteken natuurlik nie dat daar geen ander bonatuurlike wesens bestaan nie. Die duiwel het ‘n baie groot houvas op die ongelowiges, en sy demone doen hulle baie kunstig voor as “gode” sodat die duiwel oor die ongelowige heerskappy kan voer.

Paulus se argument is: as daar dan geen ander gode is nie, dan kan ‘n gelowige maar met vrymoedigheid enige afgodsoffer eet. Alles is immers deur God geskep, en ons mag nie wat Hy rein geskep het onrein verklaar nie. Daar is egter ‘n baie groot voorwaarde aan verbonde: wanneer jy iets eet wat jy weet ‘n afgodsoffer was, dan moet jy bogenoemde in gedagte hou. As jy enigsins daarmee die afgod in aanmerking neem, dan gee jy nie meer die eer aan God nie, maar aan die duiwel, en dan is dit sonde.

Dit bring ons terug by die biddende hande-beeldjie. As jy dit beskou as iets wat jou armoede kan gee, dan is dit eintlik sonde! Dis bygeloof wat jou geloof skade kan berokken!

Oor afgodsoffers: alle gelowiges staan nie ewe sterk in hulle geloof nie. Vir meeste van ons is hierdie saak gladnie ‘n probleem nie, maar iemand wat swak is in sy geloof, kan maklik struikel wanneer so ‘n ding oor sy pad kom. As hy my dus sien afgodsoffers eet, dan kan hy dink dat dit maar reg is om eer aan die afgod te bring. Dus, om sy onthalwe sal ek my liewer daarvan weerhou.

Wat is die praktiese implikasies vir ons vandag? Die meeste van ons kry tog nooit te doene met afgodsoffers nie? Ons kan dit byvoorbeeld toepas op baie van ons kerklike tradisies. Om ‘n voorbeeld te noem: in die NG Kerk is die eredienste vir baie jare “stil en stemmig” gedoen. Daar is nooit hande opgesteek of hande geklap of dergelike “onstemmighede” nie, want dit is “sektaries”. Dit gebeur egter nou al hoe meer dat lidmate hulle Christelike vryheid gebruik om uit hierdie tradisies weg te breek. Vir sommige lidmate is dit egter ‘n groot probleem, en ter wille van hulle moet ons maar versigtig wees om nie sommer alles met ‘n groot gejuig te verander nie. Ongelukkig word die term “swak broer” dikwels totaal misbruik, en skuil mense agter dit om hulle eie sin te kry.

Op ‘n ander vlak is daar egter kwessies soos byvoorbeeld die gebruik van drank. Vir sommige gelowiges is enige gebruik van alkoholiese drank, selfs wyn, ‘n baie groot probleem. Vir ander is dit weer gladnie ‘n probleem nie, solank dit net nie misbruik word nie. Ter wille van die persoon wat ‘n probleem het, is dit beter as jy saam met hom liewer gladnie drank gebruik nie. Net so sou dit ‘n Joodse gelowige baie grief as ek saam met hom eet en varkvleis voorsit, want hulle hang gewoonlik nog die ou Joodse tradisies aan.

Die groot geheim is liefde: as ons in liefde omgaan met ons mede-gelowiges, sal hierdie dinge vir niemand ‘n probleem wees nie.

Gebed:

Here, dankie vir die wonderlike vryheid wat U my as gelowige gegee het. Help my asseblief om dit nie te misbruik nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026