Adam kry ‘n Maat

11 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Adam kry ‘n Maat

Genesis 2:15-25

Wat maak ‘n mens as jy alles het wat jy nodig het? Jy het volmaakte geluk, oorgenoeg geld en jy het al jou ideale bereik? Dit was die dilemma van die eerste mens. Alles waarvan hy kon droom, was daar vir hom op ‘n silwer skinkbord.

Ek onthou uit my kinderjare van die spoorwegpersoneel op Waterval Boven. Hulle was verplig om op 55 af te tree na jare se harde werk. Gewoonlik het hulle dan gaan sit en rus en niksdoen. En keer-op-keer is die manne binne enkele jare onder die kluite van pure verveling. ‘n Mens is net eenvoudig nie ontwerp om niks te doen nie!

God gee aan die mens twee opdragte. Die eerste een is bitter eenvoudig: hy het die ganse groot tuin se vrugte waarvan hy kan eet soveel as wat hy wil. Maar die een enkele boom in die middel van die tuin, die boom van kennis mag hy nie eet nie. Die twee bome wat ons gister vlugtig genoem het, het groot betekenis. Beide bome simboliseer besonderse eienskappe van God. Die Boom van Lewe simboliseer God se ewigdurendheid. Slegs Hy kan vir ewig lewe. Die tweede boom is die Boom van Kennis. God is die enigste Een wat alle kennis het en wat alwetend is. Inderdaad probeer sommige mense voorgee asof hulle alwetend is, maar dit is bedrog. Met die verbod op die eet van die vrugte van die Boom van Kennis, wil God verhoed dat die mens meer mag kry as wat hy kan hanteer.

Die vraag is: waarom sou God dan iets in die tuin plaas as Hy sou weet dat dit die mens in ‘n versoeking kon stel? Die antwoord is eenvoudig: God het die mens totaal anders gemaak as enige van die ander skepsele. Hy is gemaak as ‘n persoon met ‘n eie vrye wil. Boonop gee Hy die mens die wonderlike voorreg om in ‘n verhouding met Hom te staan. Anders as ander diere, kon die mens besluite neem en keuses maak en uitoefen. God wil hom op géén manier dwing om die regte keuses te maak nie. Daar moet dus ook vir hom die moontlikheid gestel wees om ‘n verkeerde keuse te kan maak. Daarom die boom as een enkele verkeerde keuse. En dan waarsku God hom baie pertinent oor hierdie keuse.

Verhoudings word spesifiek gebou sodat bepaalde perke gerespekteer sal word. Wanneer jy dan by hierdie grens kom, skep dit juis vertroue as jy die grens eerbiedig. Voorbeeld: ek staan in ‘n besonderse verhouding met Jan. Sy pragtige vroutjie is genoeg om enige man te laat swymel. As ek my perke oorskry en met haar flirteer, is dit die einde van my en Jan se verhouding. Respekteer ek dit egter en behandel haar slegs as ‘n goeie vriendin, versterk dit ons verhouding. Daardie boom was dus júís daar om Adam se verhouding met God te versterk. Die boom simboliseer immers God se teenwoordigheid in die tuin!

Die tweede opdrag klink op die oog af eenvoudig: Hy moet heers oor die skepping. Dit plaas op sy skouers ‘n geweldige verantwoordelikheid. Dit begin met ‘n relatief eenvoudige taak, om name te gee aan al die diere. Ek dink hierdie eerste taak moes Adam baie lank besig gehou het.

Ten spyte van sy groot taak, was Adam eensaam. Hy het gesien dat al die diere maats het, maar hy was ‘n alleenloper. Ook hiér voorsien God mildelik.

God skep nie ‘n splinternuwe mens uit stof om vir Adam ‘n maat te wees nie. Hy besluit eerder dat hierdie nuwe skepsel die gelyke van Adam sal wees. Die enigste manier om dit te bewerkstellig, is dat sy deel van hom sal wees. God neem dus ‘n ribbebeen uit Adam se eie lyf en vorm die vrou daaruit. Nou kan daar géén twyfel wees oor die status van die vrou nie.

Die skepping van die vrou is uniek. Hier sien ons God as die Pottebakker wat kunstig die vrou vorm uit roumateriaal wat Hy uit Adam se lyf gehaal het. Hy behandel Adam baie sag dwarsdeur hierdie hele proses. Eers word hy onder narkose geplaas (‘n diep slaap) sodat dit nie pynlik sal wees nie. En nadat Hy die ribbebeen verwyder het, word die wond kunstig opgevul en toegemaak sodat daar nie eers ‘n merkie wys nie.

Dit bevestig alles vir ons ‘n paar baie belangrike dinge. Eerstens is die vrou nie ‘n andersoortige wese nie. Sy is uit presies dieselfde stof as die man gemaak, eintlik deel van hom self. Boonop is sy nie minderwaardig nie, hulle twee is gelyk. Sy is inderdaad ‘n afbeelding van die man. In vandag se terme kan jy amper sê dat sy ‘n kloon van hom is.

Wanneer God klaar is met haar, bring Hy haar na die man toe. Adam is in ekstase as hy haar sien. Soveel so dat hy vir haar ‘n lied sing, ‘n huwelikslied. “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.”

Dan voeg die skrywer van die Genesisboek ‘n voetnota by: “Daarom sal die man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.” Hier is dus absoluut géén twyfel oor die oorspronklike verhouding tussen man en vrou nie. Dit is ‘n verhouding met gelyke status, alhoewel hulle tóg verskillende rolle het binne hierdie verhouding.

In Efesiërs 5 word hierdie verhouding beskryf as een wat gegrondves is op liefde en twee mense wat onderdanig is aan mekaar. Dan word dit verder vergelyk met die verhouding tussen Jesus en Sy kerk. Dit is baie diep!

Gebed:

Here, help my asseblief om my huweliksverhouding te bou tot iets wat waarlik Goddelik is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026