2 Korintiƫrs

10 June, 2026

2 Korintiërs 1:1-11

Die paar rustige dae op die skip oor die Egeïese see, doen Paulus die wêreldse goed. Met nuwe moed en ywer sit hy voet aan wal in Masedonië, waar hy met ope arms ingewag word deur Timoteus en Erastus. Hulle verseker hom dat die gemeentes almal reeds in groot afwagting sit vir sy besoek. Maar dan wag daar nóg 'n verrassing op Paulus, wanneer Titus daar opdaag! Hy het die brief in Korinte gaan afgee, en die goeie nuus is dat die gemoedere heeltemal gekalmeer het. Dit het inderdaad die uitwerking gehad wat Paulus wou kry.

Paulus is opgewonde. Sommer dáár en dan besluit hy om 'n vierde brief te skryf aan die gemeente in Korinte. Hy wil hulle bemoedig want hulle het deur 'n moeilike tyd gegaan, en nou het hulle baie nodig om opgebou te word.

Paulus roep die jongman nader: “Timoteus my seun, ek het vir jou 'n takie: ek wil hê dat jy my help om nóg 'n brief te skryf vir die Korintiërs.”

Timoteus is sommer baie opgewonde om deel te kan wees van hierdie brief. Daar sal so 'n ietsie van homself in die brief wees, al is dit dan net sy handskrif. En so, in die jaar 55nC, vyf jaar nadat hy daardie eerste brief aan die Galasiërs geskryf het, begin Paulus sy 2 Korintiërs-brief, terwyl hy deur Masedonië reis en die gemeentes besoek.

Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging!” dikteer Paulus nadat hy die gewone seëngroet gedoen het. Hierdie gemeente het deur 'n baie moeilike tyd gegaan, maar die Here het hulle daar opgetel. “Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word!

Paulus wil dit vir hulle op die hart druk dat jy in alle omstandighede steeds dankbaar kan wees, selfs wanneer dit sleg gaan. Maar dan, nadat die Here jou deur moeilike tye gedra het, kan jy ook ander mense wat deur dieselfde situasie gaan bemoedig, want jy het dan mos eerstehandse ondervinding!

Anne-Marie is deur 'n dubbele slag in die lewe getref, toe haar dogter só vroegtydig deur die dood weggeneem is, en haar familie in dieselfde tyd deur 'n plaasaanval getref is. Maar sy het besluit om nie te gaan lê nie, en om ander mense wat deur sulke dinge getref word op te beur. Deur haar ervaring kon sy telkemale 'n wonderlike troos wees vir talle mense wat deur groot hartseer getref is. Sy kon nuwe moed gee waar mense moedeloos was. Ek dank die Here diep uit my hart uit vir mense soos Anne-Marie, wat hulle beproewing omswaai in troos en bemoediging vir ander!

Dalk het jy sélf al deur groot trauma of droefheid in die lewe gegaan. Ek ken mense wat al jare nadat 'n geliefde dood is, steeds ontroosbaar treur. As jy dalk een van hulle is, neem dan vandag nog die besluit om jou droefheid positief te verander en te gebruik om ander mense op te beur.

Paulus dikteer verder en Timoteus moet skryf: “Want, broers, ons wil nie hê julle moet onkundig wees oor die verdrukking wat ons in Asië beleef het nie, dat die swaarkry wat ons verduur het, ver bo ons kragte was, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Trouens, wat onsself betref, het ons al as't ware die doodsvonnis oor ons ontvang; maar dit was sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God, wat die dooies opwek.”

Inderdaad weet Paulus alles van swaarkry! Kyk maar net hoe is hy en Silas in Filippi eers stukkend geslaan en toe in die tronk in blokke vasgeketting. En wat doen hulle? Hulle sing lofliedere en sodoende kom die tronkbewaarder en sy hele huishouding tot geloof! En in Listra is Paulus selfs “doodgegooi” met klippe. Dat hy daar uit die puinhoop kon opstaan en verder kon gaan preek, is 'n asemrowende wonderwerk. Almal het gedink dat hy dood was, en dit het die gelowiges wonderlik bemoedig dat hy bly lewe het! Buiten hierdie twee angswekkende insidente, was daar talle geleenthede waar hy moes vlug vir sy lewe, of waar opstande hom so byna-byna in die stof laat byt het.

“Skryf, Timoteus: Op Hom wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het, en sal red, is ons hoop gevestig dat Hy ons weer sal uitred.” Dan sê hy vir die Korintiërs dat dit juis op Hom, die Here is wat sy hoop gevestig is, asook hulle s'n. Maar dit is ook noodsaaklik dat hulle vir Paulus moet bid. Dit is juis hulle gebede wat hom deur al hierdie beproewinge dra en groot seën gee op sy arbeid. Sodoende sal mense God dank vir die werk wat Paulus doen.

Persone wat in diens van die Here staan het ons gebede baie nodig. Ons leraars staan onder geweldige groot druk. Dikwels is hulle werkslas onmenslik groot, want buiten die preekvoorbereiding wat ‘n groot deel van hulle tyd opvat, is daar ‘n magdom ander gemeentepligte. Dan is daar dikwels ook sinodale pligte wat baie tyd insluk. Buiten dit, moet hulle die laste help dra van die siekes en bedroefdes in die gemeente.

Sendelinge het weer ander uitdagings wat dikwels soos reuse berge lyk wat hulle moet oor! Ons gebede is vir elkeen van hulle ‘n riem onder die hart!

Gebed:

Here, ek dra vanoggend ons leraar op aan U. Ek weet dat hy ‘n reuse taak op sy skouers het en dat hy onder groot druk gebukgaan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026