Om Kinders Groot te Maak

17 August, 2026

1 Samuel 2:1-21

Hulle het toe daar voor die Here in aanbidding gebuig.” So lees ons, nadat Hanna vir Eli vertel het dat sy haar klein seuntjie vir Eli gebring het sodat die outjie in diens van die Here kon staan. As Eli dalk nog wou teenstribbel oor hy skielik nou ‘n vierjarige seuntjie moes oppas, dan was dit klaar te laat, want Hanna bars uit in ‘n oorweldigende gebed van lofprysing aan die Here: “My hart juig in die Here, ek is sterk in die Here. Ek maak my mond wyd oop teenoor my vyande, want ek verheug my in u verlossing.

Inderdaad het Hanna alle rede gehad om haar “vyande” uit te lag, diegene wat haar al die jare so bespot en verneder het oor haar kinderloosheid. Want hier is nou die bewys van God se groot guns en genade in haar lewe. Nie alleen het Hy vir haar ‘n seun gegee nie, maar haar klein seuntjie staan alreeds in diens van God!

Hanna se gemoed is vol en dit borrel oor soos ‘n vars fontein. Sy stort haar blydskap uit voor die Here terwyl Eli verslae staan en luister. “Niemand is heilig soos die Here nie, ja, daar is niemand buiten U nie; daar is geen rots soos ons God nie.

Eli kan maar net saamstem in gebed. So ‘n mooi, eerlike, opregte gebed het hy nog nooit beleef nie. Vir hom voel dit kompleet asof hy God in die hemel kan sien waar Hy luister na die vrou se aangrypende lofprysing, terwyl die engele in die hemel met trane van aandoening hierdie vrou gadeslaan.

Hoe kon Eli nou nee sê ná Hanna se gebed? Hy het géén ander keuse gehad as om die klein seuntjie se hand te neem en hom te huisves nie. “Wat gaan ek met jou doen?” vra hy radeloos vir klein Samuel, nadat Hanna weg is.

Die seuntjie kyk die ou grysaard vol afwagting aan. Sy mamma het hom behóórlik voorberei vir hierdie dag. “Jy gaan vir die Here werk, en Oom Eli gaan jou leer hoe om dit te doen,” het sy hom opgewonde vertel. Sy mamma se opgewondenheid het hom óók opgewonde gemaak. Nou wag hy dat Oom Eli hom sy eerste taak gee. En Oom Eli weet nie mooi hoe om dit te doen nie, want hy kon nie eers sy eie twee seuns opvoed om die Here te dien nie! Met hartseer moet hy dink hoe hulle totaal die pad byster geraak het.

Omdat Eli ‘n priester was, het sy twee seuns, Hofni en Pinehas natuurlik in Pa se voetspore gevolg en ook priesters geword. Hulle het egter hierdie groot en verantwoordelike taak gladnie ernstig opgeneem nie.

As priester het jy gestaan in 'n lewe van diens. Jy het in die eerste plek in diens van God gestaan. Jy moes namens die volk by God intree vir hulle en jy moes die plek van aanbidding versorg en in stand hou. Maar terselfdertyd het jy ook in diens gestaan van die volk. Jy was die een wat hulle onder meer moes help met hulle offerandes aan die Here en alles wat daarmee gepaard gaan.

Natuurlik moes 'n priester ook lewe, en die hele volk was verantwoordelik vir die lewensonderhoud van hierdie manne en hulle gesinne. Daar was baie spesifieke voorskrifte van hoe daar vir hulle gesorg moes word. Een van die voorskrifte was dat die priester 'n sekere gedeelte van die offervleis moes kry.

Vir Eli se twee seuns was die voorgeskrewe “toelaag” wat hulle ontvang het gladnie genoeg nie. Daarom dwing hulle die mense wat kom offer om vir hulle eers die sappigste stukkies braaivleis van die offervleis af te sny voordat hulle gaan offer. Natuurlik was baie mense bitter ontevrede hiermee, maar wat kon hulle doen? Hulle was geboelie om dít wat aan God behoort het vir die priesters te gee.

Dit was egter nie al nie. Saans het hulle die vrouens wat in die heiligdom werk, gedwing om met hulle omgang te hê! Hierdie walglike dinge het nie ongesiens verbygegaan nie, en die stories oor Eli se twee seuns het die hele volk volgelê. Almal het gepraat oor die walglike dinge wat die twee aanvang. En dit terwyl hulle priesters van die Here is!

Natuurlik het die stories ook Eli se ore bereik. Sy reaksie? “Waarom doen julle hierdie dinge, dat ek telkens van julle slegte gedrag moet hoor by hierdie hele volk? Nee, my seuns!

Eli was, om die minste te sê, ruggraatloos! Hy was nie die naam van pa werd nie! Tug was nie deel van sy woordeskat nie!

Ten spyte van al hierdie dinge, het klein Samuel die Here getrou gedien. Die klein takies wat hy elke dag gekry het om te doen, het hy met vreugde gedoen, soos wat Mamma hom geleer het. Met groot trots het hy 'n linne skouerkleed gedra, nét soos 'n regte priester s’n. En elke jaar wanneer Hanna vir haar seuntjie kom kuier het tydens die fees, het sy vir hom 'n nuwe manteltjie gebring, wat sy met groot sorg en liefde vir hom gemaak het.

“Mag die Here jou uit hierdie vrou 'n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is,” het Eli eenmaal vir Elkana toegebid terwyl hy die gesin geseën het. En weereens was die Here Hanna genadig en het die “onvrugbare” Hanna nog vyf kinders in die lewe gebring, drie seuns en twee dogters.

En Samuel? Die Bybel berig dat hy “voor die Here grootgeword het.” En die hele volk was baie lief vir Samuel!

As ouers durf ons nie ons plig versuim om ons kinders te tug wanneer hulle op die verkeerde pad is nie. Dit is júís 'n bewys van ons liefde vir hulle wanneer ons tug, want sonder dit kan ons die oorsaak wees dat hulle in die verderf beland. En wie wens dit vir sy kind toe?

Gebed:

Here, leer my om my kinders groot te maak om vir U lief te wees en om U te dien in liefde. U het hulle immers oneindig lief!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026
Klein Samie
14 August, 2026
Inleiding tot Samuel
13 August, 2026
Nogtans sal ek Jubel!
12 August, 2026
Stormwater en Vloede
11 August, 2026