Inleiding tot Samuel

13 August, 2026

1 Samuel 1

Die volledige reeks oor Habakuk is nou beskikbaar. Klik op die prentjie hier bo om dit af te laai.

Ons almal ken die boeke 1 en 2 Samuel. Dit handel oor die eerste twee konings van Israel, Saul en Dawid, en al die intriges wat daar afgespeel het. Volgens Joodse tradisie sou die profeet Samuel beide hierdie boeke geskryf het. Dit is egter onmoontlik, want in die verhaal kom hy al voor die einde van die eerste boek te sterwe.

Die verhaal speel af ongeveer in die jaar 1000vC. Dit is egter eers 400 jaar later op skrif gestel in omtrent 600vC deur die Deuteronomistiese geskiedskrywers, wat verskeie mondelinge vertellings uit verskillende bronne bymekaar gevoeg het om uiteindelik die boek daar te stel. 50 Jaar later, tydens die ballingskap is dit weer geredigeer.

Hierdie reeks dagstukkies gaan oor die lewe en werk van die profeet Samuel en nie soseer oor die belangrike konings Saul en Dawid nie. Daarom gaan ons hoofsaaklik kyk na die gebeure wat beskryf word in 1 Samuel.

Die grootste deel van die verhaal van Samuel speel af in die Rigtertydperk. Die eerste deel van die boek kon dus net sowel deel gewees het van die boek Rigters. Daar is egter tóg ‘n groot verskil. In die tyd wat die Rigters-boek afspeel het die volk bestaan uit ‘n klompie losstaande stamme wat elkeen op sy eie probeer voortploeter het en geboelie word deur ander baie sterker volkere soos byvoorbeeld die Filistyne. In Samuel se tyd sien ons die oorgang na ‘n koninkryk waar al die stamme uiteindelik verenig is onder Koning Dawid, die groot held van Israel.

En Samuel? Hy het dit alles beleef, wel, býna alles!

Die sosiale en politieke omstandighede in Samuel se tyd, was maar bitter wankelrig en soos ons regdeur Rigters lees, het die volk gedurigdeur “gedoen wat verkeerd was in die oë van God!” Hulle het kort-kort verval in afgodery, soos ons byvoorbeeld sien in Rigters 6:27-30 waar die Israeliete vir Gideon wou doodmaak omdat hy hulle afgods-altaar afgebreek het.

En dan was daar die talle ander vyandige volke wat rondom hulle en selfs tussen hulle gewoon het, soos die Midianiete. Aan die westekant op die kusvlakte het die Filistyne vir Israel ‘n harde tyd gegee! Aan die oostekant, oorkant die Jordaan was dit weer die Ammoniete en Moabiete wat die lewe vir hulle suur gemaak het.

Verskeie rigters het probeer om die volk op die regte spoor te bring. Party van hulle het groot welslae behaal, soos Gideon en Debora. Ander weer het jammerlik misluk, soos Simson wat ‘n groot probleem gehad het met mooi meisies. Dit het uiteindelik sy ondergang beteken!

En in sulke beroerde omstandighede moes klein Samuel die eerste lewenslig aanskou. Maar eintlik was dit nog baie moeiliker, want Samuel se pa, Elkana het ‘n groot probleem gehad. Hy het twee vrouens gehad, Hanna en Peninna. Peninna het kinders gehad, maar die arme Hanna was, tot haar groot skande kinderloos. En Peninna het met haar die spot gedryf daaroor en haar verneder. Eintlik is dit baie ironies, want Hanna se naam beteken “Genade” maar dit wil lyk asof sy absoluut géén genade van God ontvang het nie!

Dit was Elkana se gewoonte om elke jaar sy gesin na Silo te neem. Daar het hulle die Here aanbid en offers aan Hom gebring. Hierdie was ‘n vreugdevolle feesgeleentheid. Maar vir Hanna was dit ‘n hartseer tyd, want daar het sy haar kinderloosheid baie intens ervaar. Elke jaar het dit geëindig in ‘n tranedal waar Hanna bitterlik gehuil het in plaas daarvan om vrolik te wees soos al die ander.

By een so ‘n geleentheid het dinge vir Hanna nét een te veel geword. Daar by die gebou waar die Verbondsark en die Tent van Aanbidding gehuisves word, ervaar sy God se teenwoordigheid baie intens. Terwyl trane oor haar wange stroom, stort sy haar hart uit voor die Here. Sy kan nie langer so bly voortleef sonder kinders nie! Hanna smeek die Here om asseblief vir haar uitkoms te gee. Hanna bid egter nie hardop nie, moontlik uit vrees dat iemand anders dalk van haar verleentheid sal hoor. Slegs haar lippe beweeg. Dan maak sy ‘n gelofte aan die Here: As Hy vir haar ‘n seun gee, sal sy hom vir die Here teruggee sodat hy die Here kan dien.

Die bejaarde ou priester Eli het daar naby gesit op sy stoel en die petalje raakgesien. Natuurlik kon hy nie hoor wat sy sê nie. Al wat hy gesien het is hierdie vrou wat onbedaarlik huil, dus maak hy totaal die verkeerde gevolgtrekking!

Hoe lank nog gaan jy dronk bly? Raak ontslae van jou wyn!

Nee, my heer! Ek is 'n vrou met 'n swaar gemoed. Wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my hart voor die Here uitgestort.” Dan vertel sy vir Eli van haar verskriklike dilemma, en hoe sy die Here gesmeek het vir ‘n kind.

Gaan in vrede! Die God van Israel sal jou versoek, dit wat jy van Hom gevra het, toestaan,” stel Eli haar gerus.

Nie lank daarna nie raak Hanna swanger. Borrelend van vreugde weet sy dat sy in haar buik die kleine Samuel, die seun wat God haar gegee het dra!

Dikwels bid ons baie ernstig vir iets in ons lewe, maar dit lyk asof die Here nie op ons smeking ag slaan nie. God is egter almagtig en Hy hoor elke gebed. Hy het ‘n doel met elke ding wat in jou lewe gebeur, en Sy tydsberekening is perfek!

Gebed:

Here, dit is met groot opgewondenheid dat ons uitsien na wat alles vir klein Samuel voorlê. Maak asseblief hierdie verhaal vir ons tot groot seën!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026
Klein Samie
14 August, 2026
Inleiding tot Samuel
13 August, 2026
Nogtans sal ek Jubel!
12 August, 2026
Stormwater en Vloede
11 August, 2026