Filippense 1-4
Die depressie dreig om 'n vatplek aan Paulus te kry waar hy in die donker kerker sit en wag op sy doodsvonnis. Maar dan plooi daar skielik 'n glimlag om sy mondhoeke. Het hy dan nie die vorige keer toe hy hier in die tronk was vir die gemeente in Filippi geskryf dat jy te alle tye in die Here bly moet wees nie? En hier laat hy dit so ampertjies toe dat die duiwel sy blydskap steel! Hoe het hy dit nou weer vir hulle gestel? “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Hardop herhaal Paulus die woorde: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Sy medegevangenes kyk hom vraend aan: “Het die ou man se kop hom nou totaal gelos?”
Inderdaad onthou Paulus hierdie blydskapsbrief nog byna woord-vir-woord. Nee, dit was nie hy wat die brief geskryf het nie, maar die Heilige Gees was die éíntlike Outeur van die brief! Dit glo Paulus met sy hele hart.
Die Filippi-gemeente hou vir hom sulke wonderlike herinneringe in. O ja, daar was die verskriklike géseling wat hy en Silas moes deurmaak. Dit is iets wat hy nie vir sy grootste vyand toewens nie. Dit voel asof die vleis letterlik uit jou rug geskeur word deur die stukkies metaal aan die sweep se punt. En toe hulle twee daar in die stinkende, vuil kerker boonop in blokke vasgeketting word, met daardie stukkende rüe van hulle op die koue, vuil klipvloer, het hy gewens vir die dood om hulle genadiglik te kom wegneem. Die pyn was ondraaglik, soos die klippertjies en stof in hulle rou wonde geskuur het.
En toe doen Silas dit: hy begin sing! Paulus wou eers vir hom vra of hy dan nou besig is om gek te raak, maar toe besef Paulus watter wonderlike geleentheid hulle hier het in die tronk. Hy kners op sy tande en begin saam met Silas sing. Glo my: dit was nie maklik nie! Kreun-kreun het hulle die eerste versie deurgeworstel. En wonderbaarlik voel hulle toe sommer ook beter! Paulus was die een wat met die tweede lied weggeval het, 'n loflied. Hierdie slag was dit Silas se beurt om hóm skeef aan te kyk. Sing kan nog gaan, maar 'n loflied! Dis 'n bietjie dik vir 'n daalder! Maar Silas mag nie wys dat hy gebelgd voel nie, en hy sing maar gedwee saam, wél onder protes.
Die volgende lied gaan sommer al stukke beter, en weldra sing die twee dat die biesies bewe, hulle seer rûe skoon vergete. Aan die begin het die ander gevangenes hulle gevloek en geskel, maar algaande het dit doodstil geraak soos almal in verwondering na die twee luister.
En toe gebeur die groot wonderwerk, toe die Here die tronk skud en al die gevangenes se kettings losgaan. Daardie nag het die tronkbewaarder en sy hele gesin tot bekering gekom as gevolg van hierdie asemrowende wonderwerk van God.
Instinktief begin Paulus spontaan sing: “Al julle volke, klap julle hande; juig tot eer van God met 'n jubelende stem.”
Daardie gebeure in die tronk was inderdaad maar net die begin van 'n wonderlike verhouding wat Paulus gehad het met die gemeente. Hulle het vir hom sovéél blydskap besorg! Reg van dag een af het hulle, hierdie splinternuwe gelowiges, saamgewerk om die Evangelie te verkondig. Hulle het onmiddellik verstaan dat dit nie die taak is van 'n hoogsgeleerde leraar om die Evangelie aan ander te bring nie, maar elke gelowige se plig.
Natuurlik is dit nie altyd maklik om 'n gelowige te wees nie. Dikwels word jy vervolg vir jou geloof, en Paulus het dit al menigmaal aan sy baadjie gevoel. Maar wanneer dit gebeur mag jy nie gaan lê en jouself jammer kry nie. Hy het juis vir daardie gemeente geskryf dat hy nou wel in die tronk was, 'n onbenydenswaardige lot, maar dat dit juis die Evangelie bevorder het. Hy kon al die hele keiserlike wag onder hande neem met die Evangelie! Op géén ander wyse sou iemand hulle kon bereik nie! Is dit nie al klaar genoeg rede tot blydskap nie?
Wees bly in die Here, al tref die slegste ongeluk jou! En moenie kla wanneer dit swaar gaan nie. Dank die Here eerder, selfs deur die swaar tye! Op hierdie manier word jy 'n ligdraer vir Jesus. Ja, inderdaad moet jy met groot blydskap Jesus se lig helder in die donker wêreld laat skyn. Dink net watter wonderlike boodskap van hoop dit nie uitstraal nie, wanneer jy 'n opregte, borrelende blydskap uitdra terwyl al die ander met lang gesigte loop.
Paulus het seker alle rede gehad om bekommerd of besorg te wees, maar dan skryf hy vir die Filippense: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 4:6,7)
Die vraag wat die Here vanoggend vir jou vra, is of jy waarlik daardie borrelende blydskap in jou het, en dit opreg wys vir almal met wie jy in aanraking kom? Dis maklik wanneer jy Sondag in die kerk is. Maar wat van Maandag in die Supermark? Het jy daar ook daardie aansteeklike blydskap? En wat van Donderdag in die verkeersknoop wanneer mense soms dom dinge doen?
Gebed:
Here, ek wil elke dag asseblief daardie borrelende blydskap in my hê en dit prakties uitleef, al gaan dinge soms beroerd!