Die dagstukkies is 'n inisiatief van Ballito Gesinskerk se Jesus In Aksie span en word geskryf deur Louis Nel.
 
Gratis E-boeke     -    BROODKRUMMELS  -  Ballito Gesinskerk
  

Bruilof Sonder Wyn?

18 September, 2026


Johannes 2:1-11

“Ek het vanoggend ‘n groot verrassing vir julle!” Johannes en sy makkers het maar skaars wakker geword en Jesus begroet hulle met ‘n groot glimlag.

“Rabbi, wat is dit?” wil Johannes nuuskierig weet, maar Jesus lag net. As hy nou vir hulle vertel, dan is dit mos nie meer ‘n verrassing nie!

Die manne is doodmoeg van ‘n paar weke se harde werk, en Jesus besluit dat ‘n bietjie ontspanning nie onvanpas sal wees nie. Hy het hóéka ‘n uitnodiging gekry na ‘n bruilof in die dorpie Kana, en hierdie sal vir die manne ‘n goeie blaaskansie wees. Om net ‘n slaggie weg te kom van die groot skares af, sal hulle die wêreld se goed doen! En só val hulle vroegoggend in die pad.

Van ver af hoor die manne al die musiek en gelag en vrolikheid. “Daar is gróót makiti!” sê hulle vir mekaar, min wetende dat hulle júís na daardie einste makiti op pad is. Hulle tref ‘n baie jolige affêre aan met hulle aankoms, dit dans en sing en vier fees dat dit ‘n aardigheid is. Heimlik wonder Johannes waarom Jesus Hom met sulke joligheid sal ophou? Is Hy dan nie ‘n Rabbi nie? Is Hy nie veronderstel om baie ernstig te wees nie? Hulle gaan tog sékerlik nie saam bruilof hou nie?!

“Kom ons gaan hou ‘n bietjie bruilof!” kondig Jesus, tot almal se verbasing aan. Maria, Jesus se moeder is klaar daar en sy groet hulle hartlik. Sy het plek gehou vir dertien manne, want Jesus het teen hierdie tyd al twaalf gereelde volgelinge. Hulle vly hulle gemaklik neer op die kussings langs haar tafel. Eetgoed is daar in oorvloed, en die atmosfeer is een van groot vreugde.

Baie gou kom Johannes egter agter dat alles nie so baie kosjer is nie. Hy mis die wyn, wat so kenmerkend van enige bruilof is. Maria leun oor na Jesus toe. “Die wyn is op!”

Dis ‘n ramp! “Arme bruidegom!” dink Johannes. “Sy beplanning was beslis nie goed nie!”

Hy hoor hoedat Maria vir Jesus vra of Hy nie iets daaromtrent kan doen nie maar Jesus skud net sy kop – Hy gaan nie help nie.

Dan sien Johannes hoedat Maria een van die kelners nader roep. Tot sy groot verbasing hoor hy haar vir die man sê dat hy presies moet doen wat Jesus vir hom sê.

“Maak die klipkanne vol water tot bo toe,” hoor Johannes hoe Jesus die kelner versoek. Die kelner loop terug na sy maats toe en dan begin hulle water aandra na die ses groot klipkanne toe wat gebruik word vir die reinigingsrituele. Al ses die reuse kanne word propvol gemaak. En dan beduie Jesus vir die kelners om van die water uit te skep en vir die seremoniemeester te gaan gee.

Johannes wil nog wonder oor hierdie eienaardige ding wat Jesus doen, toe sien hy hoedat die seremoniemeester se gesig ophelder as hy die “water” proe. Dan besef Johannes: Dis nie water nie, dit is wyn! Seshonderd liter daarvan! Nou wéét Johannes dat sy keuse om Jesus te volg beslis die regte een was!

Vir die afgelope weke het hulle wonderlike dinge aanskou, mense wat gesond gemaak is van allerhande kwale. Maar hierdie! Nog nooit óóit het Johannes só ‘n asemrowende wonderwerk aanskou nie!

Jesus het met ‘n doel na hierdie bruilof gekom. Dit was nie maar net tyd uithang en partytjie hou nie! Hy het simbolies hier die pligte van die bruidegom kom oorneem deur die wyn te voorsien. Baie jare later skryf Johannes in Openbaring 19:5-10 van ‘n ander bruilof, die “bruilof van die Lam.” Dáár is Jesus die Bruidegom by uitstek, en daar voorsien Hy in oorvloed! Wie sal ooit 600 liter wyn opdrink op ‘n bruilof?

Maar dis nie al nie, Amos het óók geprofeteer van hierdie wyn wat so in oorvloed sou vloei met die koms van die Messias. Dit staan opgeteken in Amos 9:13-14, waar hy sê dat die wyn selfs van die berge sal afdrup. Dit is mos nou oorvloed!

Nou begin dinge vir Johannes in plek val. Hy kyk na die klipkanne. Daar is iets omtrent hulle! Waarom het Jesus nou juis besluit om Sy wyn in reinigingskanne te maak? Wat sou Hy daarmee wou sê? Dan tref dit hom: Daardie kanne is gebruik om die water in te hou vir die Joodse reinigingsrituele, soos wat die wet vereis. Dit is met ander woorde kanne wat die wet versimboliseer. Wat doen Jesus? Hy verander dit in iets waarmee jy feesvier. Die wetskanne word nou feeskanne! Omdat Jesus, die Bruidegom hier is, is hulle nou nie meer aan die wet gebonde nie maar hulle kan saam met Hom feesvier.

Maar waarom het Jesus dan eers geweier om aan Maria se versoek te voldoen? En toe doen Hy in elkgeval die wonderwerk? Jesus wou daarmee sê dat Hy nie deur mense voorgesê kan word wat om te doen nie, nie eers Sy moeder nie. Wat Hy gedoen het was die wil van Sy Vader, en daaraan alléén was Hy gehoorsaam.

Johannes kyk in verwondering na sy Meester. Hy is beslis nie sommer enige Rabbi nie! Is Hy nie dalk die Messias nie?

Hoe sien ek en jy vir Jesus? Ons is geneig om Hom te soek in die bonatuurlike. Dalk moet ons ‘n slaggie ons oë oopmaak en Hom soek in die doodgewone, alledaagse dinge van die lewe, soos ‘n bruilof! Om Jesus te herken, moet jy bereid wees om die klein wonderwerkies wat elke dag in jou lewe gebeur raak te sien en Jesus in geloof daarin te herken. Maar dan moet ons ook die regte ding doen en Hom al die eer gee vir hierdie dinge. Loof Hom met jou hele hart!

Gebed:

Here Jesus, U is God en Heer! Dankie vir al U wonderdade wat ek elke dag kan beleef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Bruilof Sonder Wyn?
18 September, 2026
Mense stroom na Jesus!
17 September, 2026
Vissers van Mense
16 September, 2026
Johannes
15 September, 2026
Epiloog
14 September, 2026