Matteus 2:1-12
Betlehemster, o wonderlig, heerlik’ lieflike gesig!
Wyse manne kom van ver – Betlehemster, o lieflike ster!
‘n Lied uit my kleintyd wat my hart laat bokspring van opgewondenheid! In my gedagtes het ek die drie wyse manne met hulle vragte kosbare geskenke sien stap, al agter die ster aan na Betlehem. En die Baba in die krip.....
Terloops, dis ‘n mite dat daar drie manne was! Nêrens in die Bybel lees ons dit nie, dis maar ons eie afleidings!
Matteus se verhaal oor die wyse manne vertel van geweldige kontraste. Hierdie manne ontmoet eers ‘n vals koning Herodus, omring deur sy raadgewers en uitspattige luuksheid. Later ontmoet hulle die ware Koning, Jesus in die eenvoud van ‘n stal waar dit beslis nie so aangenaam is nie. Herodus bak onder valse voorwendsels mooi broodjies. Hy wil kwansuis gaan hulde bring aan daardie nuwe Koning, maar eintlik probeer hy uitvind waar daardie Koningsbaba is sodat hy Hom uit die weg kan ruim. Terselfdertyd stuur God Sy Seun uit liefde, nie om te verdoem nie maar om te red van die dood.
Die kern van die verhaal is die wyse manne wat kom hulde bring aan Jesus, die Seun van God. Dis so ironies dat God juis heidense magiërs gebruik om hulde te bring, terwyl die “Godsmense”, die Skrifgeleerdes, kerkleiers en koning Herodus Jesus wil doodmaak!
Maar wie was hierdie “wyse manne” en wat was daardie ster wat hulle gevolg het? Hulle was sterrekykers iewers uit die Ooste, waarskynlik uit Persië (vandag Iran). Hulle het hulleself besig gehou met baie diep dinge oor die lewe, die mens en natuur. Dit het vir hulle gegaan oor die stand van sterre, towery en dergelike dinge. By die Jode het hulle dus eintlik ‘n slegte naam gehad, maar in die res van die wêreld was hulle aansien baie hoog.
Sterrekundiges beweer dat daar in 7vC 'n rare driedubbele oplyning van planete was, toe die aarde, son, Jupiter en Saturnus drie keer in 'n reguit lyn verskyn het, iets wat slegs elke paar duisend jaar gebeur. Die volgende jaar kom Mars óók by. In April dieselfde jaar word Jupiter oor Jerusalem verduister deur 'n sekelmaan. Die betekenis wat die wyse manne aan al hierdie ongewone verskynsels geheg het, was dat daar 'n magtige Messiaanse Koning gebore sou word.
Maar dit is steeds nie die einde nie, want volgens Sjinese rekords verskyn daar in 5vC 'n komeet wat oor 'n tydperk van 70 dae van oos na wes beweeg. Dit was waarskynlik die finale teken waarop die wyse manne gewag het.
Almal natuurlike verskynsels! Of is dit? Miskien wel, maar reeds miljoene jare tevore haarfyn in detail deur God beplan!
Die Babiloniërs was die voorste wiskundiges en astroloë en hulle het natuurlik geweet van die Joodse geloof, dat ‘n ster die koms van die Messias sou aankondig. Die baan wat die komeet gevolg het sou hierdie manne reguit oor Jerusalem na Betlehem gelei het waar die komeet vroegoggend in die Suide sigbaar sou wees. Die komeet was vir 70 dae lank sigbaar, ook omtrent die tyd wat ‘n reis vanaf Babilon na Betlehem sou neem.
Daardie manne moes baie opgewonde gewees het toe hierdie komeet sy verskyning maak! Vir drie jaar lank het hulle met opgehoue asems die veranderinge in die sterre en planete dopgehou. Hulle bygeloof omtrent die beweging van planete en sterre het skielik in hulle binneste geruk toe hulle iets bonatuurlik sien gebeur. Dalk het hulle nagte lank bespiegel en geredeneer oor wat aan die gebeur was. En toe die opgewondenheid toe daar uiteindelik drie jaar later ‘n komeet verskyn wat al hulle berekeninge bevestig het. Hoe teleurgesteld moes hulle nie gewees het toe hulle by Herodus kom en sy vyandiggesindheid sien nie! Hy het nou wel vir hulle gesê dat hy ook aan die nuwe Koningskind wou gaan hulde bring, maar dit was suiwer skynheiligheid! Hy het gladnie bedoel wat hy sê nie! En dan daardie hart-bonsende opwinding toe die komeet hulle na Betlehem lei en hulle die Kindjie daar in die stal kry.....
Matteus sien, interessant genoeg, hierdie magiërs nie in 'n negatiewe lig nie maar hy probeer wys dat die elité van die destydse heidendom Jesus erken het as koning, en dít terwyl Herodus en Jerusalem hewig ontsteld was oor dieselfde gebeurtenis. God berei lof voor vir die Messias uit die optrede van heidene wat Sy ster oor lang afstande volg asook eenvoudige skaapwagters wat iewers in die veld naby Betlehem geslaap het. En dít terwyl die leiers van Sy eie volk absoluut geen begrip openbaar het nie. Dertig jaar later sê Jesus vir hierdie Joodse leiers: “Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle die Koninkryk van God in” (Matt. 21:31).
En ek en jy? Gee ons aan Jesus, die ware Koning, die Een wat heers aan die regterhand van God, die eer wat Hom waarlik toekom?
Gebed:
Here Jesus, saam met die wyse manne wil ek ook vanoggend aan U hulde bring - U loof en prys met alles wat binne in my is!