Wonderwerke

21 October, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wonderwerke

Handelinge 9:32-43

VIDEO | OUDIO

Gebeur daar vandag nog wonderwerke? Hierdie is ‘n baie omstrede vraag en dadelik sal sommige mense vir jou sê dat wonderwerke slegs beperk was tot die Bybelse tyd. Jesus het wonderwerke gedoen en daarna het dit gestop! Dan is daar mense wat vir jou sê dat daar beslis nog vandag wonderwerke gebeur. By “genesingsdienste” gebeur dit dikwels dat mense gesond word. Is dit nie genoeg bewys van hedendaagse wonderwerke nie?

Ek wil vanoggend ‘n klip in die bos gooi en sê dat daar elke dag talle wonderwerke gebeur. Dit is nie net by “genesingsdienste” waar hulle plaasvind nie maar in die alledaagse lewe. Soms is die wonders groot en aanskoulik en ander kere weer, soos meestal die geval is dit klein dingetjies wat op die oog af lyk of dit “toevallig” gebeur. As jy egter 'n slag jou oë en hart oopmaak, sal jy die talle wonderwerke raaksien. ‘n Paar jaar gelede was daar ‘n beriggie in die koerant van ‘n man wat deur rowers aangeval is. Die rower het ‘n pistool teen die man se kop gedruk en die sneller getrek. Die skoot het nie afgegaan nie! Toe trek die rower wéér die sneller en steeds was daar net ‘n klikgeluid. So ook die derde keer. Is dit nie ‘n wonderwerk nie? Male sonder tal gebeur sulke wonderwerke tussen ons, maar ons sien dit nie raak nie!

Lukas vertel in sy Handelinge-verhaal van ‘n paar wonderwerke wat gróót opslae veroorsaak het. So het Petrus per geleentheid op ‘n “preektoer” gegaan. Hy het Jerusalem verlaat en oral op die plattelandse dorpies die woord gaan verkondig. Op ‘n dag kom hy in ‘n dorpie met die naam Lidda, so halfpad tussen Jerusalem en die hawestad Joppe. Die verhoog was vir hom opgestel want daar tref hy ‘n verlamde man met die naam Enas aan. Enas was al vir die afgelope agt jaar bedlêend. God het egter ‘n baie groot plan met hom gehad want hy moes die instrument wees om ‘n groot menigte mense tot bekering te laat kom. ‘n Hulpelose, verlamde? Hoe kan hy help? Petrus hoor die stem van die Heilige Gees en hy weet dat hierdie man die onderwerp van ‘n wonderwerk moes word. “Jesus Christus maak jou gesond,” sê Petrus vir die man. Hy kyk Petrus verbaas, half ongelowig aan. “Staan op en maak jou bed op,” gaan Petrus voort. Onmiddellik voel die man die lewe in sy slap bene invloei en hy spring op. Die omstanders snak na hulle asems. Sówat het hulle nog nooit beleef nie! Die storie versprei soos ‘n veldbrand en van heinde en verre, vanoor die hele Saronvlakte stroom mense saam om te kom sien wat gebeur het. Almal ken tog die arme Enas wat so bitterlik lank moes ly. Voor hulle oë het hy verander van ‘n verlamde na ‘n blakend gesonde man. Só 'n genesing was nie binne die mag van énige mens nie! Deur Enas se siekte en dan veral sy genesing het groot getalle mense gelowig geword.

Maar Petrus se taak as instrument in die hand van God was nog lank nie verby nie. Uit die hawestad Joppe kom twee manne aan met ‘n versoek dat Petrus daarheen moes kom. Teen hierdie tyd was hy al deur die ganse Israel bekend as ‘n groot prediker. Op pad vertel hulle hom van die groot tragedie wat hulle getref het. In Joppe woon daar ‘n baie begaafde vrou met die naam Tabita, oftewel Dorkas soos die Grieke haar noem. Beide name beteken “Bokkie”.

Hierdie vrou was ongelooflik,” vertel hulle vir Petrus. “Daar het absoluut niks vir haar twee hande verkeerd gestaan nie. Sy was gedurigdeur besig met die een of ander projek om die armes in die gemeenskap te versorg. Jy moet net die klere sien wat sy vir die behoeftiges gemaak het!”

Dit was twee bedroefde manne wat vir Petrus vergesel het na Joppe om vir Tabita te gaan begrawe. Hulle het spesifiek vir Petrus kom haal want net die héél beste prediker sou goed genoeg wees om so ‘n besondere mens ter ruste te lê. Niemand was egter voorbereid op wat daar sou volg nie.

Op Joppe aangekom, tref Petrus ‘n groot skare van bedroefde mense aan. ‘n Klomp weduwees, wat maar swaar getref was deur hulle omstandighede, was daar om hulle laaste eer te kom betoon aan dié vrou wat so ‘n groot verskil in hulle lewens gemaak het. “Kyk net die mooi klere wat sy vir ons gemaak het,” snik een bedroefde ou tannie dit uit.

Hulle neem Petrus na die bokamer en daar tref hy die lyk van Tabita aan, netjies skoon gewas en uitgelê, gereed vir haar begrafnis.

Laat my vir ‘n rukkie alleen met haar,” versoek Petrus die huilende massas. Hy bid. Dan weet Petrus dat hier vandag iets moes gebeur tot eer van God: “Tabita, staan op!” beveel hy die lyk in die Naam van Jesus. Dan gebeur die wonderwerk en Tabita maak haar oë oop. Dadelik sit sy regop en Petrus help haar op uit die bed uit en gaan wys haar vir die verbaasde huilende weduwees. Weereens versprei die nuus soos ‘n veldbrand deur die hele stad en talle mense kom tot geloof in die Here. Die Here maak vir Petrus deure oop en terwyl hy by Simon die leerlooier tuisgaan, kry hy die geleentheid om in vryheid te preek en die Evangelie te versprei.

Ja, inderdaad het wonderwerke nie net by Jesus opgehou nie! Maak jou oë oop vir die talle wonderwerke wat elke dag rondom jou afspeel en laat jou hart aanraak daardeur!

Gebed:

Dankie Here, vir die talle wonderwerke wat U reeds in my lewe gedoen het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026