Woestyntye

28 May, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Woestyntye

Hebreërs 3:7-19

Ons lees vanoggend weer die Skriflesing wat ons gister behandel het, en kyk dan uit ‘n ander hoek daarna. Hoe lank moes dit die Israeliete geneem het om van Egipte tot in die beloofde land te stap? Jerusalem is ‘n skamele driehonderd-en-’n-bietjie kilometer van Egipte af. ‘n Man kan gemaklik veertig kilometer in ‘n dag aflê. Maar sê nou maar hulle het slegs tien kilometer elke dag gestap, dan kon hulle, as hulle voet in die hoek sou sit, binne ‘n enkele maand met hulle tasse voor Jerusalem se poorte staan. Hoe lank het dit hulle geneem? ‘n Volle veertig jaar! Waarom?

Die getal veertig is in die Bybel gelaai met simboliek. Dit wys veral op voorbereiding. Jesus was veertig dae lank in die woestyn, waar Hy deur die duiwel versoek is. Die apostels moes veertig dae lank wag en hulleself voorberei na Jesus se opstanding, voor hulle daardie reuse taak kon aanpak om dissipels te gaan maak van al die nasies. Vir hulle was dit ‘n woestyntyd van onsekerheid en angs oor wat die toekoms vir hulle sou inhou. Hulle was gestroop van al hulle sekuriteit wat hulle die afgelope drie jaar beleef het saam met Jesus. Hulle moes nou leer om op God alleen te vertrou.

Ek het al ‘n paar keer gesien hoedat nuwe jong leraars, pas uit kweekskool, hulle eerste gemeentes aanpak met vuur en vlam en tonne selfvertroue, nét om hard aarde toe gebring te word. Wat vir hulle ‘n wonderlike ondervinding moes wees, ontaard dikwels in ‘n nagmerrie woestyntyd. Soms wil hulle tou opgooi, selfs uit die bediening gaan, want dinge raak vir hulle net te veel. Die feit is dat dit juis hierdie harde leerskool is waardeur hulle gaan, wat van hulle suksesvolle leraars maak. Die konfliksituasies, fel kritiek en soms selfs openlike vyandskap van sommige van hulle eie gemeentelede, is die dinge wat hulle sterk maak vir hulle vrugbare arbeid in God se wingerd.

Elkeen wat besluit om deel te wees van die Evangelie-span, moet ook bereid wees om deur ‘n woestyntydperk te gaan, want dit is die Here se manier om jou voor te berei en sterk te maak vir jou taak. Woestyntye is baie belangrik. Jy moet egter weet hoe om dit te hanteer, en watter gesindheid jy moet openbaar wanneer jy daardeur gaan.

Kom ons gaan kyk ‘n bietjie na Israel se woestyntyd. Ons moet onthou dat Jakob en sy seuns in Egipte gaan bly het nadat Josef hulle blyplek gegee het. Jakob se seuns was beslis nie engeltjies nie, so leer die geskiedenis ons. Hulle het wrede dinge gedoen, selfs hulle eie broer as ‘n slaaf verkoop! Die jare wat hulle die lekker lewe in Egipte kon leef, het hulle waarskynlik die bietjie Godsdiens wat Pa Jakob hulle probeer leer het, totaal by die venster uitgegooi! Daarvan het sekerlik bitter min oorgebly vir hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders. Teen die tyd dat Moses hulle uit die slawerny waarin hulle uiteindelik verval het, moes uitlei, wonder ek of hulle God nog ooit geken het. Daarom dat Moses die Here moes vra, hoe hy vir die volk moes verduidelik, watter God dit nou eintlik is wat hom gestuur het?

Teen hierdie agtergrond neem die Here hulle met ‘n groot ompad deur die woestyn, en Hy leer hulle wie Hy werklik is. Hy sorg vir hulle op ‘n wonderlike manier, en Hy leer hulle van Sy trou en genade en hoe hulle moes leef. Wat doen hulle tydens hierdie woestyntydperk? Hulle verwerp Hom telkemale. Inderdaad het Hy hulle gebring tot by die poorte van die beloofde land, maar hulle was nie gereed daarvoor nie. Wat dalk ‘n jaar of twee moes wees om hulle voor te berei vir hierdie land, het uitgerek na veertig jaar voordat hulle uiteindelik gereed was.

Hoe moet ek en jy woestynsituasies hanteer wanneer ons daarin beland? Ek was al deur ‘n paar woestyntydperke in my lewe, en dikwels het ek dit totaal verkeerd hanteer. Die belangrikste is dat ons moet besef dat die Here dit gebruik om ons voor te berei. Moet dus nie daarteen baklei, soos ek al baie gedoen het nie. Aanvaar dit. Maar dit is ook belangrik om dit te beskou as ‘n baie groot voorreg! Wees opreg uit jou hart uit bly daaroor. Die Here stuur hierdie soort beproewing slegs oor die lewens van mense wat Hy wil gebruik. Wees dus bly dat die Here jou waardig ag om hierdie “opleiding” te mag deurgaan. Jare gelede, toe ek my diensplig opleiding gekry het, is daar ‘n keuring gedoen vir ouens wat valskermsoldate kon word. Die opleiding hiervoor was louter hel, maar elkeen van ons het gedroom daarvan om deel van hulle te kon word.

Dalk moet ons as gelowiges ook so daarna uitsien om waarlik deur die meule gestuur te word soos dié vir valskermsoldate. Dit is ‘n meule wat bitter hard maal, maar wat jou sterk maak vir diens in die Koninkryk van God. Wees dankbaar en trots op die feit dat die Here jou waardig ag vir ‘n woestyntyd!

Gebed:

Here, dankie vir die woestyntye in my lewe. Maak my asseblief sterk en paraat vir die taak waarvoor U my voorberei.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026