Wie’s die Baas?

6 July, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wie’s die Baas?

Kolossense 3:18-4:1

VIDEO * OUDIO

Ek was vir baie jare 'n tekenaar wat my veral besig gehou het om huise te ontwerp. Dit klink na 'n baie aangename beroep, maar dikwels is dit propvol frustrasies, soos wanneer man en vrou nie kan ooreenkom wat hulle wil hê nie!

Hulle stap op ’n mooi dag in my kantoor in en die vrou begin vertel van die huis wat ek vir hulle moet ontwerp. “Dit moet ‘n Spaanse styl huis wees”, verduidelik sy, “ek is mál oor ‘n Spaanse huis – dis sóóóó romanties.....”

Nee!” Hy skud sy kop heftig. “Dis nie prakties nie! ’n Bali-styl – dis wat ons wil bou!”

En nét daar begin my nagmerrie! Vir die volgende halfuur sit ek sprakeloos, sonder dat ek ‘n enkele woord dwars kan inkry, terwyl hulle baklei dat die spoeg spat. Uiteindelik kry ek dit reg om die gesprek te swaai na uitleg binne. “Verkies julle ’n oop plan kombuis-sitkamer-eetkamer?”

Kombuis apart!” sê hy, baie seker van sy saak.

Nee, nee, oop plan! Ek wil met my gaste in die sitkamer gesels terwyl ek kosmaak.”

Basta! Ek wil nie teen 'n spul vuil skottelgoed vaskyk terwyl ek TV kyk nie!”

En toe spat die vonke weer! ‘n Uur later loop die twee baklei-baklei uit my kantoor, sonder dat ek die vaagste benul het oor wat om vir hulle te ontwerp. Dit is een van die redes waarom ek vandag nie meer planne teken nie!

Aan die einde van Paulus se brief aan die Kolossense, verduidelik hy hoe ‘n gesin éintlik moet funksioneer. Dis belangrik om te besef dat sy redenasies geskoei is op die normale verhouding van gesinne van daardie tyd. Hulle het geleef in ‘n patriargale stelsel, waar die man die hoof was van die gesin en sy sê was finaal. Die vrou, kinders en slawe moes maar dans na sy pype. Paulus kon nie sommer maar die stelsel verander nie, dit sou moeilikheid beteken! Hy wou dit egter in perspektief stel met Christelike beginsels. Dit beteken dat die man dus steeds die hoof van die huis was. Let wel: die HOOf, nie die BAAS nie!

In enige situasie waar ‘n paar mense betrokke is, is dit noodsaaklik dat een persoon leiding moet neem. Dit is dan ook presies wat die man moet doen. Om onderdanig aan die man te wees, beteken dus beslis nie dat die vrou sy slaaf moet wees nie! Sy moet egter die man se leiding aanvaar. Sy moet hom man laat wees en dit nie vir hom moeilik maak om sy leiersrol te vervul nie.

Ongelukkig gebeur dit soms dat ‘n man sy magsposisie as leier in die huishouding misbruik en die res behandel soos slawe en vloerlappe. In Paulus se tyd sou niemand in die samelewing egter eers ‘n wenkbrou gelig het daaroor nie, want dit was die norm. Dit is juis om hierdie rede dat Paulus die man vermaan om sy vrou lief te hê en sódanig op te tree dat sy nie verbitter voel nie.

Ons moet onthou dat mense nie daardie jare met mekaar getrou het omdat hulle verlief geraak het op mekaar nie. Die pa van die gesin het sy kinders se huwelike gereël, dikwels op finansiële gronde. ‘n Man moes dus maar net tevrede wees met die vrou wat hy gekry het en sy het ook géén sê gehad in die saak nie.

Liefhê alleen is egter nie genoeg nie, die man moet ook sy verpligtinge in die huis nakom anders maak hy dit vir haar baie moeilik. Onthou, die lewe was baie anders daardie jare. ‘n Vrou kon nie sommer ‘n man se pligte oorneem nie. As die man dus nie sy pligte nagekom het nie, het hy sy vrou in ‘n baie moeilike posisie gelaat. Hy moes dus altyd só optree dat sy veilig en geborge gevoel het en dat sy waarlik vrou kon wees in die huwelik.

Kinders was bloot beskou as “eiendom” wat aan hulle pa gehoorsaam moes wees, maak nie saak wat gebeur het nie. Dikwels het die pa hierdie situasie uitgebuit. Dit is dan waarom Paulus die pa vermaan het om regverdig teenoor sy kinders op te tree. Hy moes hulle nie treiter en moedeloos maak met onbillike bevele nie. Maar aan die ander kant moes kinders steeds onthou dat hulle pa die hoof van die huishouding was en dat hulle hom daarvoor moes respekteer. Dis wat die Here van hulle verwag het!

Ook die slawe-situasie kom aan die beurt: dit was ‘n netelige kwessie wanneer ‘n slaaf tot bekering gekom het in 'n gelowige se huis. Skielik het hy sy baas (eienaar) se broer in Christus geword! Hoe moes jy so ‘n situasie hanteer?

Soos reeds gesê, wou Paulus nie die stelsel verander nie en dit beteken dan ook vandag dat ons nie noodwendig ons huishouding moet verander nie, maar dit in Christelike perspektief stel. Ons samelewing is totaal anders as in Paulus se tyd. Waar die vrou in daardie jare uitsluitlik huisvrou was, staan sy nou gewoonlik in ‘n beroep. Dikwels beklee die vrou in die huishouding ‘n hoër pos as haar man en dit gebeur selfs dat die vrou in die werksituasie die baas is en haar man ‘n ondergeskikte. Binne gesinsverband moet so ‘n situasie met groot omsigtigheid en deernis hanteer word. Die heel belangrikste ding wat in enige huwelik en enige situasie moet oorheers is ware Christelike liefde. Waar liefde in enige huwelik oorheers, sal die situasie - hoe ingewikkeld dit ookal mag wees - homself uitsorteer.

Gebed:

Hemel Vader, ek bid vanoggend vir ‘n oormaat liefde in my huwelik. Help my asseblief om my huweliksmaat se unieke situasie te verstaan, en dit met liefde en deernis te hanteer.

                

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026