Lukas 10:25-37
Dis 'n rustige oggend in die sinagoge en Petrus glimlag tevrede. Maar dan vang sy oog die groepie wetsgeleerdes wat in die voorste gestoeltes plek ingeneem het. Petrus wéét sommer dat hulle net hier is vir kwaadgeld. Daar was nog nie juis openlike konflik tussen hulle en sy Meester nie, maar hy kan voel dat dinge broei! Skielik staan een van die geleerdes op. Hy maak keelskoon, dan kom sy vraag: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?”
Petrus voel hoedat sy maag op 'n knop trek. Hierdie man probeer net vir Jesus vasvra! Hoe gaan sy Meester die moeilkheidmaker antwoord? Hy het hoeka gehoor dat die spul vir Jesus as 'n "valse profeet" wil probeer bewys!
Pertus blaas sy asem verlig uit as hy Jesus se meesterlike antwoord hoor: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?”
Petrus knik instemmend as die wetsgeleerde antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself. ”
“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit, en jy sal leef!”
Petrus sug swaar as die man egter voortkarring: “En wie is my naaste?”
Petrus sien sommer dat hier 'n lelike strik is want die man gaan net aanhou met allerhande redenasies tot vervelens toe! Jesus val egter nie vir sy strikvraag nie en Petrus kry sommer lekker as Jesus vir die man beduie dat hy moet sit - Hy wil vir hom 'n storie vertel!
Petrus kry sommer dadelik die prentjie in sy gedagtes as Jesus begin vertel van die man wat van Jerusalem na Jerigo gereis het. Gevaarlike pad daai! 'n Man loop nie daardie pad alleen nie want dit krioel van skelms wat jou kan aanval en jou goed vat! Almal het al op die een of ander manier deurgeloop onder die rowers! Hy kan hom beslis vereenselwig met die arme man.....
In Jesus se storie is dit dan ook weer nét sulke tyd en hy word beroof en lelik verrinneweer! Dan vertel hy verder dat terwyl die man daar so hulpeloos gelê het, het hy baie bly geword toe hy ‘n priester aangestap sien kom. Petrus glimlag want hy wéét sommer dat die priester se amp mos is om diens te lewer aan sy medemens. Kon die arme man nou óóit vir beter vra? Maar dan rek Petrus se oë as hy hoor dat hierdie priester nie betrokke wou raak nie! Hy het selfs ‘n ompad geloop om die arme man te vermy. Petrus is sommer vies vir die simpele priester!
"Aaaaa!" dink Petrus toe Jesus vertel van die Leviet wat aangehuppel gekom het. “Daardie man sal help - hy kén mos die wet en hy weet mos dat hy bereid moet wees om mense in nood te help!” Maar tot sy teleurstelling moet hy hoor dat die Leviet gemaak het asof hy die arme man nie eers raakgesien het nie.
Dan vertel Jesus van 'n Samaritaan wat op ‘n donkie aangery gekom het. Petrus voel sommer vies - moes sy Meester nou 'n vuil Samaritaan in Sy storie insleep? Die vent gaan die arme man seker boonop 'n skop gee in die verbygaan!
Petrus kan sy ore nie glo nie - hy snak na sy asem want skielik kom hier 'n onverstaanbare wending in Jesus se storie as die Samaritaan hierdie beseerde Jood help en hom boonop versorg! Nee, sy Meester het verseker die storie verkeerd! Vir enige Jood is dit onaanvaarbaar dat ‘n Samaritaan hom aanraak, nie eers gepraat van versorg nie!
Petrus skud sy kop in ongeloof as Jesus vertel hoe daardie gehate Samaritaan die Jood se wonde behandel het. Hy het hom op sy donkie gelaai en verder nog betaal vir die man se verblyf in die herberg waar hy moes aansterk.
Hierdie verhaal gaan oor die aanvaarding van die hulp van ‘n vyand of iemand waarvoor jy gril. Toe hierdie wetgeleerde die vraag gestel het, het hy veronderstel dat jy jou naaste kan afbaken en sélf besluit waar jou grense lê. Hy het egter nie rekening gehou met Jesus wat daardie grense deurbreek het nie. Die wetgeleerde het sekere waardes aan die wet geheg. Nou het Jesus egter plek gemaak vir die Samaritaan, iemand wat totaal ander waardes vir die wet gehad het. Uit hierdie gelykenis wys Jesus dat dit eintlik die Samaritaan was wat werklik verstaan het wat die wet beteken en wat ook die wet uitgevoer het. Die wetsgeleerde was reg toe hy gesê het dat jy jou naaste moes liefhê. Maar die Samaritaan het hierdie wet van liefde prakties uitgeleef deur werklik om te gee vir iemand in nood. Deur hierdie gelykenis onthul Jesus egter ook ‘n ander skokkende situasie: ‘n nie-Jood kan ook tot die verbond behoort, maar erger nog - ‘n uiters Godsdienstige Jood soos ‘n priester en ‘n Leviet mag dalk daarbuite beland!
Jesus het nie verskil met die Joodse Godsdienstige leiers oor die gesag van die wet nie, maar Hy het radikaal verskil met hulle oor die interpretasie en die uitleef daarvan. Hierdie wetsgeleerde wou weet wie ‘n naaste van hom is, Jesus het die vraag verander na: Vir wie is jý ‘n naaste? Dit beteken dat jy aktief betrokke moet wees by ander mense. Ons moet vergeet van sosiale verskille en allerhande Godsdienstige hindernisse. In die geval van die Joodse Godsdienstige leiers, wou hulle ten alle koste hulle Godsdiens suiwer hou. Jesus het egter hierdie soort eksklusiwiteit totaal verander.
Gebed:
Here, vergewe my waar ek dikwels nog so neersien op ander. Leer my om liefde te leef!