Wie is Baas?

25 November, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wie is Baas?

Lukas 22:24-30

VIDEO OUDIO

Heilige oomblikke heers terwyl Jesus vir die laaste maal saam met Sy vriende die pasga eet. Nog heiliger en meer dramaties is Jesus se woorde wanneer Hy die eerste nagmaal instel.

Maar die duiwel het al klaar gesien waarheen hierdie intieme gesprek op pad was, en hy was vasberade om dit te verongeluk. Ons kan maar net raai oor wat tot die stryery aanleiding gegee het, waarskynlik oor leierskap, en wie sou oorneem as die Jode vir Jesus sou vervolg. Petrus, met sy groot mond, sou sékerlik kon aanspraak maak daarop dat hy die regmatige leier van die groep apostels was. Johannes, aan die ander kant, was die een vir wie Jesus baie lief was. In die Evangelie wat hy geskryf het, kry ons daardie indruk. Hy kon sékerlik die geskikte kandidaat wees om leierskap oor te neem. Dit was nie rustig om die tafel nie!

n Mens sou dink dat hulle na drie jaar saam met Jesus darem al die boodskap sou gekry het! As hulle maar net hulle oë oopgemaak het vir die voorbeeld wat Jesus gestel het, sou hulle dalk totaal anders oor die saak gedink het. Jesus was hulle groot Leermeester en telkemale moes hulle Sy gesag beleef. Selfs natuurkragte was aan Hom gehoorsaam! Met hulle eie oë moes hulle boonop sien hoedat Hy saam met die héél grotes, Moses en Elia, op die berg verheerlik word. Met hulle eie ore het hulle die stem van God uit die hemel gehoor toe Hy hulle beveel het om na Jesus te luister omdat Hy God se Seun is.

Ten spyte van al hierdie dinge het hulle Meester deurentyd die rol van Dienskneg gespeel. Hy het selfs só laag gedaal dat Hy hulle vuil voete gewas het!

Jesus moes mooi vir hulle verduidelik van hoe mense baasspeel oor mekaar en dat gesag dikwels afgedwing word. Ons het dit tog al baie deeglik in ons eie land beleef, regdeur die geskiedenis van Suid-Afrika. Leiers wat beslis nie onder almal gewild was nie, het hulle gesag afgeforseer op diegene oor wie hulle geheers het. Vandag word ons dikwels geterroriseer deur die sogenaamde bloulig-konvooie - ek het sélf al ‘n slag deurgeloop onder hulle. Mense gryp vir hulleself gesag en dan oorheers of boelie hulle almal wat oor hulle pad kom.

Jesus verduidelik verder dat dit by gelowiges totaal anders moet wees. In vers 26 sê Jesus: Die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees.” Ek dink die manne het baie skaam gekry oor hierdie diep woorde van Jesus. Dit het tot op die been gesny. Ek dink Petrus het gevoel dat hy sy tong kon afbyt, want hy was die een wat elke keer die mees verkeerde dinge op die mees verkeerde tye kwytgeraak het! Ek sal nie verbaas wees as die leierskap-kwessie alweer van hom af gekom het nie!

Om die minste te wees, veral as jy in ‘n leiersposisie is, is beslis nie maklik nie! Alles kom eintlik neer op nederigheid. As ek die dag geleer het om waarlik nederig te wees, dan sal die ander dinge ook in plek begin val. Maar selfs in nederigheid is daar ‘n gevaar - jy moet baie versigtig wees oor jou motiewe vir nederigheid. As jy nederigheid uitleef sodat mense jou kan sien as iemand wat nederig is, dan skop jy die bal skoon mis. Nederigheid moet gebore word uit jou besef van totale afhanklikheid van God!

Kom ons begin voor: Waar kom my redding vandaan? Het ek gewerk daarvoor? Is dit omdat ek so ‘n groot geloof het? Nee, beslis nie! Alles, alles is genade! Dit was juis toe ek in sonde gelê het, toe Hy my daar uitgetrek het! Die Heilige Gees het vir my die geloof in Jesus gegee wat nodig was vir my vryspraak. Hy was ook die een wat vir my die nodige wysheid en deursettingsvermoë gegee het om my te verhef sodat ek leiding kan neem. O ja, dit het natuurlik van myself harde werk gekos, maar ál die eer kom die Here toe vir waar ek gekom het as leier. Verder moet ons baie deeglik besef waar die werklike leierskap lê. Jesus is die Een wat die éintlike Leier is, en ek is slegs Sy werktuig!

Kom ons neem ‘n voorbeeld:n Koning stuur sy slaaf om opdragte te gee aan sy amptenare. Die vraag is of hierdie slaaf homself kan verhef bo die hoë manne? Beslis nie! Hy is slegs die boodskapper, al het hy ‘n baie belangrike taak. So moet ek my leierskap sien in dieselfde lig. Ek is maar net die boodskapper van die Here, of die een wat die opdrag van die Here uitvoer, en dus durf ek myself nooit verhef tot “baas” nie. Ek is steeds totaal afhanklik van Hom wat my gestuur het, maak nie saak hóé belangrik die taak is wat Hy my op die skouers gelê het nie!

Die praktiese implikasies hiervan is dat dit nie saakmaak wat jou posisie in die kerk is nie, of jy leier-ouderling, leraar of selfs moderator is! Jy moet steeds besef dat jy net ‘n doodgewone lidmaat is soos al die ander en dat jy bereid moet wees om in nederigheid jou taak dienend uit te voer sonder om baas te speel oor enigiemand!

Gebed:

Here, vergewe my waar ek myself soms as ‘n trappie hoër as ander sien. Gee my asseblief ware nederigheid.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026