Wees Waaksaam

28 August, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wees Waaksaam

Matteus 24:32-51

VIDEO | OUDIO

Het jy al ooit tyd deurgebring in die Laeveld gedurende Septembermaand? Lente in die Laeveld is ‘n baie spesiale tyd. In ‘n sekere sin is dit ‘n hartverskeurende tyd want eintlik is dit nog die laaste stuiptrekkings van winter. Reën het nog nie gekom nie en jy kry seer om die veld en diere te sien kreun van honger en smag na die sappige groenigheid van die lente. Die bome smag na reën en alles is dood en verdroog. Tóg daar is ‘n opgewondenheid, 'n gevoel van afwagting want almal weet dat die lente nét hier om die draai is.

In Marloth Park is daar op een spesifieke plek ‘n lap kleigrond in die omgewing van Leliepan. Op daardie kol kleigrond groei daar ‘n bos van die lelikste boompies wat jy jou seker kan indink: Mopanigranate. Hulle is sulke half-verdwergde, deurmekaar boskasies en laatwinter is daar nie eers die vaagste teken van ‘n blaartjie nie. As jy een mooi dag daar verbystap, slegs enkele dae na die eerste lentereëntjie, dan slaan jou asem skoon weg. Byna oornag het hierdie bos aaklige boompies ontplof in ‘n goudgeel massa van die allervrolikste blomme. Skielik het alles oorgegaan van morsdood na oorvloedige lewe en jy voel lus om saam met die rooibokkies te huppel en rondspring van uitbundige vreugde. Elke boompie is letterlik oortrek met suiwer goud, en dan wonder jy wat daar gebeur het!

Die persoon wat oplet-loop, wag met groot opgewondenheid vir die dag wat hierdie wonderwerk gebeur. Hy kan sien wanneer die tyd ryp is daarvoor want die ander bome begin bot. Daar kom lewe in die bos want die bos weet wanneer die lente naby is. En skielik een dag, dan blom die Mopanigranate en dan weet jy: die lente het aangebreek!

Jesus leer sy dissipels om, net soos wat hulle die natuur dophou en sekere dinge daaruit raaksien, so ook met dieselfde opmerksaamheid die tekens van die wederkoms van die Seun te kan sien. As die vyeboom begin bot, dan weet hulle mos die somer is naby. Die koms van die Seun word hier ook subtiel voorgestel as somer, wanneer die volle, ryp vrug van jou verhouding met God tot uiting sal kom, anders as die verskriklike doodsheid van die Joodse godsdiens wat jou aan die winter laat dink. Uit hierdie tekens moet hulle leer dat die tyd naby is!

Matteus se gemeente het die wederkoms nog in hulle eie leeftyd verwag. Het hulle dan Jesus se woorde verkeerd verstaan? Die sleutelbegrippe hier is onwetendheid, waaksaamheid en gereedheid. Jesus sê dit oor en oor sodat jy dit moet verstaan. Hy beklemtoon die feit by herhaling, dat niemand weet wanneer die Seun kom nie, maar dat jy te alle tye gereed moet wees. Net soos wat jy nie weet op watter dag die Mopanigranate gaan blom nie, maar jy die spanning van daardie wonderlike gebeurlikheid in die natuur kan aanvoel, so is die koms van Christus. Dit is ‘n groot geheim, maar al die tekens van Sy wederkoms is alreeds daar.

Intussen gaan die lewe voort asof daar niks gaan gebeur nie. Mense eet en drink en hulle trou, en daar is niks wat hulle waarsku dat die wederkoms nóú gaan gebeur nie. Inderdaad beteken dit nie dat jy, omdat al die tekens reeds daar is, nou jou werk moet los nie. Dit sou onnosel wees om al jou goed te verkoop en op ‘n hopie te gaan sit en wag vir Jesus om te kom! Die lewe moet júis voortgaan soos normaalweg maar jy moet te enige oomblik gereed wees! Die tekens is nie daar as ‘n tydsbepaler nie, maar om te sê: Wees elke oomblik gereed – as jy nou in ‘n oorlog of aardbewing sterf, is die einde daar vir jou…

Met die gelykenis wat Jesus vertel van die troue en ontroue slaaf, wil Hy ‘n verdere gedagte by ons tuisbring: getrouheid! Waaksaamheid beteken nie alleen dat jy te enige tyd gereed moet wees nie, maar dat jy ook getrou sal wees in die werk wat die Here aan jou toevertrou. As jy byvoorbeeld ‘n ouderling in jou gemeente is, beteken dit dat jy gedurig in kontak sal wees met jou wykslede en intens vir elkeen sal omgee. As jy maar net die ou is wat die kerk skoonmaak, dan doen jy dit met só ‘n oorgawe dat elkeen wat daar inkom sal welkom voel en die teenwoordigheid van God ervaar. Inderdaad belowe Jesus hier ‘n beloning vir diegene wat getrou is in dít waarin God hulle aanstel. Maar daar is ook straf vir diegene wat ontrou is.

Ons moet egter nou versigtig wees dat ons nie ons arbeid in die Koninkryk om die verkeerde redes doen nie. Ons doen dit beslis nie om hiermee ‘n beloning te probeer verwerf nie! Ons moet steeds alles as genade alleen beskou. En wanneer ons skouer aan die wiel sit vir God se Koninkryk, doen ons dit suiwer uit dankbaarheid vir alles wat Hy alrééds vir ons gedoen het. Ons doen dit boonop slegs tot eer van God. Dit is iets wat diep uit die hart moet kom uit onselfsugtige redes. Kry ons dan eendag ‘n beloning, dan sal dit ‘n wonderlike bonus wees!

Gebed:

Here, help my asseblief om getrou te wees in die dinge waaroor U my aanstel, en gee vir my waaksaamheid sodat ek te enige tyd gereed sal wees wanneer Jesus weer kom!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026