Water En Gees

16 February, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Water En Gees

Johannes 3:4-8

VIDEO * OUDIO

In Jesus se gesprek met Nikodemus, sê Jesus vir hom dat jy weer gebore moet word. Nikodemus verstaan dit totaal verkeerd! Hy dink dat Jesus bedoel dat hy nou as ‘n ou man letterlik weer in sy moeder se skoot moes inklim en dat die geboorteproses herhaal moes word. Dis absurd! Met só ‘n onsinnige stelling prikkel Jesus Nikodemus se nuuskierigheid en dit gee Hom die geleentheid om die gesprek verder te neem. Jesus verduidelik dat jy uit “Water en Gees” gebore moes word.

Wat presies het Jesus met hierdie twee woorde bedoel? “Gees” is nie ‘n probleem nie, ons verstaan almal dat die Heilige Gees betrokke is met die wedergeboorte. Maar wat het Hy bedoel met “Water?” Daar is al baie oor die betekenis hiervan geredeneer. Die een denkrigting sê dat dit dui op die doop as geleentheid wanneer ‘n mens in God se Koninkryk ingaan. As ons egter verder lees in hoofstuk 4, sien ons dat Jesus teenoor die Samaritaanse vrou na Homself verwys as die “Lewende Water.”

Water speel ‘n baie belangrike rol in die simboliek van reddingswerk van Jesus en ek dink ons kan met redelike veiligheid aanneem dat Jesus hier na Homself en die Heilige Gees verwys as Hy sê dat jy uit “Water en Gees” gebore moet word. Dit sou met ander woorde beteken dat jy slegs gered kan word wanneer twee dinge met jou gebeur: Jesus gee jou die nuwe lewe deur Sy versoening en terselfdertyd oortuig die Heilige Gees jou hiervan en Hy kom woon in jou.

Hierdie dinge is baie moeilik om te verstaan, want ons wil dink in konkrete, menslike terme. Ons het egter hier te doene met ‘n geesteswêreld wat vir ons onsigbaar is. Die groot wonder gebeur die dag met jou wedergeboorte. Dan word hierdie geesteswêreld vir jou ‘n werklikheid om die eenvoudige rede dat jy déél daarvan word. Jy word terselfdertyd sensitief vir die geestelike dinge wat rondom jou gebeur. Jy word dus ‘n burger van die geesteswêreld. Eintlik het jy dubbele burgerskap, want jy is steeds aardsgebonde met ‘n sterflike liggaam, maar jy is nie meer beperk tot die aardse nie. Dit beteken dat jy nou bo hierdie beklemmende aardse dinge kan uitstyg.

Praat ek in raaisels? Vir Nikodemus was hierdie ook ‘n raaisel, en Jesus het dit maar ál te goed besef. Daarom gebruik Hy die beeld van die wind om vir hom te verduidelik. Jy kan nie die wind sien nie. Jy kan ook nie verduidelik waarvandaan dit kom en waarheen dit gaan nie. Nogtans weet jy dat dit daar is! Jy kan immers die uitwerking daarvan voel op jou vel en sien hoedat dit die blare laat ritsel. In ‘n storm kan jy die krag daarvan beleef waar dit selfs in staat is om reuse bome te ontwortel. Jy hoef egter nie antwoorde te hê op al die vrae nie en jy hoef dit nie te verstaan om seker te kan wees dat die wind wel daar is nie.

Nét so is dit met die Gees. Jy hoef nie alles omtrent Hom te verstaan en al die antwoorde te hê nie, soos byvoorbeeld hoe dit moontlik is dat Hy in jou kan woon. Wanneer ons die geesteswêreld betree, is dit asof jou verstand gaan stilstaan, want alles is net soveel groter en meer onbegryplik as die eenvoudige wêreldse waaraan ons gewoond is. Maar net soos met die wind, ervaar jy die uitwerking van die Heilige Gees ook op ‘n tasbare wyse. Jy sien hoe Hy in mense se lewens werk en wonderlike dinge verrig. Is dit ooit moontlik vir ‘n doodgewone plaasboer om ‘n miljoen mense bymekaar te kry om na ‘n preek te luister sonder dat daar eers ‘n rugbywedstryd betrokke is? Nee! Baie beslis nie! Tóg gebeur die absoluut onmoontlike, en ons kan dit alleen toeskryf aan die kragtige werk van die Heilige Gees wat ‘n eenvoudige plaasboer gebruik. Ek kan talle soortgelyke voorbeelde noem, wat net eenvoudig nie anders verklaarbaar is nie.

Iemand vra my eendag: “Hoe hoor ‘n mens God se stem? Baie mense hoor Hom met hulle praat, en ek wil dit ook hoor.” Jou eerste reaksie is om te lag oor hierdie vraag, maar dis eintlik ‘n baie diep vraag. Ja, ek kan ook onomwonde sê dat ek een van daardie mense is wat God hoor praat. Hy praat elke dag met my! Het ek al ooit Sy stem fisies gehoor - soos ‘n stem uit die hemel? Nee! Nou hoe werk dit dan?

Wanneer die Heilige Gees die dag in jou lewe kom, maak Hy nuwe deure vir jou oop. Waar die Bybel eers ‘n boek vol stories, wette en rituele was, word dieselfde Bybel nou vir jou ‘n riglyn vir jou lewe en ‘n boek waarin jy God se genade en liefde raaksien. As jy Hom toelaat om deur die Woord met jou te praat, word hierdie ‘n lewende Woord, en “hoor” jy God se stem deur dit wat jy lees. Op dieselfde manier ervaar jy Sy stem tydens ‘n erediens wanneer iemand preek. Jy wéét net dat dit die stem van God is. Hoe presies weet ek dit? Nee, dit kan ek jou nie sê nie, en elke persoon ervaar dit anders. Die groot geheim is dat ons sensitief moet word om Sy stem te herken wanneer Hy praat. Dit kan alleen gebeur wanneer ons gedurigdeur daaraan werk om nader en nader aan Hom te leef.

Iets wat ons egter baie duidelik moet besef, is dat al hierdie dinge suiwer genade van ons wonderlike God is!

Gebed:

Here, ek dank U dat U genade oor my so groot is, dat ek U teenwoordigheid en U stem kan ervaar!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026