Handelinge 3:1-10
Ek het al baie gewonder oor die Moslems se gereelde gebedstye elke dag. Die toegewyde Moslems dra hulle gebedsmatjies saam wanneer hulle op reis gaan en sal, waar hulle ookal is op die bepaalde tyd, die matjies in die rigting van Mekka uitrol en bid. ‘n Soortgelyke tradisie het ons by die Jode aangetref: daar was minstens twee openbare offers gebring by die tempel elke dag, een in die oggend en weer een so teen drie-uur se kant. Dit is dan opgevolg deur ‘n tyd van openbare gebed. Die pilaargange rondom die tempelterrein is boonop ook gebruik deur Rabbi’s wat hulle leerlinge daar onderrig het. Daar was dus altyd iets aan die gang by die tempel, en dit was die ideale plek vir ‘n bedelaar om te sit vir aalmoese.
Dit was juis só ‘n bedelaar wat Petrus en Johannes by die tempelpoort gekry het. Sy hele lewe lank al was hy verlam, en hy was afhanklik van ander mense se gawes vir sy lewensbestaan. Só afhanklik was hy van ander mense, dat hy nie eers self daar kon kom nie. Iemand moes hom daarheen dra.
Maar daardie dag kry hy baie meer as waarvan hy óóit kon droom. Toe Petrus by hom vassteek, is die man vol verwagting, want iemand gaan vir hom ‘n muntstuk gee. Maar in plaas van geld, gee Petrus vir hom gesondheid in die Naam van Jesus. En ‘n splinternuwe lewe! Eers is hy half teleurgesteld as Petrus vir hom verduidelik dat hy nie silwer of goud het nie. Maar toe gryp Petrus hom aan die hand, en skielik is daar lewe in sy verskrompelde ledemate. Oorstelp van vreugde loop hy saam met Petrus en Johannes die tempel in. Nee, nee, hy het nie geloop nie - hy is dans-dans die tempel in! En dít terwyl hy soos ‘n klein seuntjie rondspring van vreugde! En die hele tyd loof en prys hy God vir hierdie ongelooflike wonderwerk wat met hom gebeur het. “Haai kyk: ek loop! EK KAN LOOP!!!!!! Halleluja! Loof God!” sing hy al dansende deur die tempel.
Die wêreld se oë is op hom gerig. Almal het die man geken, want hy was sekerlik vir baie jare elke dag voor die tempel gedrapeer. Om hom nou skielik so te sien rondbaljaar, het elkeen wat in die tempel was aangegryp. “Maar is dit dan nie ou ………? Neeeee, dit kan tog nie wees nie! Maar inderdaad! Dit ís hy! Wat het gebeur? Dis ‘n wonderwerk!” Ek is seker dat die storie soos ‘n veldbrand deur Jerusalem versprei het. Teen die aand het die hele stad sékerlik van daardie voorval geweet.
Die Evangelie bied soveel meer as net tydelike byvoordele soos goud en silwer. Dit bied ‘n splinternuwe uitsig op God. Dit bied ook ‘n nuwe perspektief op God se wil vir jou. Én hoop, vreugde en herstel.
Tog só jammer dat die kerk dikwels vasgevang word in wêreldse waardes. Wanneer dit gebeur, raak hierdie boodskap van hoop baie gou soos flou tee, onsmaaklik en ondrinkbaar.
Die verhaal word vertel van die bekende Thomas van Akwinas wat op ‘n dag vir Pous Innocentius II besoek het. Daar tref hy die pous aan, besig om ‘n groot hoop geld te tel. “Broer Thomas,” sê die pous, “dit is darem so gelukkig dat die kerk nie meer vandag hoef te sê: ‘Silwer en goud het ons nie.’”
“Ja,” antwoord Thomas, “en ongelukkig kan ons juis dáárom ook nie meer sê: ‘Staan op en loop’ nie!”
Baie mense dink dat wonderwerke opgehou het die dag toe Jesus gekruisig is. Dit is bitter ver van die waarheid af. Jesus het sélf vir Sy dissipels gesê dat hulle nog groter wonderwerke sou verrig as wat Hy gedoen het. Inderdaad lees ons dat daar talle wonderwerke plaasgevind het, maar dat slegs enkeles opgeteken is. Dit gaan nie om die wonderwerke nie, maar juis oor die uitwerking daarvan op mense se lewens. In hierdie geval het die verlamde man se wondergenesing talle mense geraak, en ek is seker dat ‘n menigte mense tot geloof in Jesus gekom het as gevolg van sy genesing.
Die vraag is, of daar vandag steeds wonderwerke is? Verseker! Ja, ek weet daar is teoloë wat dit probeer afmaak as snert, maar ek het talle wonderwerke aanskou en sélf beleef.
'n Paar jaar gelede sink ons besigheid en ons verloor alles, ook ons huis. Skielik het ons nêrens om te bly nie, en ons kan nie bekostig om ‘n huis te huur nie. Sonder dat ek gevra het, nooi Willem en Linda ons om gratis in hulle woonstelletjie te kom bly. ‘n Jaar later vra Danie en Adele ons om hulle 3 slaapkamer huis op te pas terwyl hulle oorsee is. Ons hoef niks te betaal nie. Daar het ons vir twee jaar gebly. Twee maal in ‘n ry - is dit nie ‘n wonderwerk nie? Maar wag, daar is meer! Toe die huis verkoop word, word daar wééreens vir ons voorsien met ’n pragtige huisie op ‘n plaas sowat 25km buite Ballito. Dit gebeur net eenvoudig nie dat iemand drie keer in ‘n ry so van huisvesting voorsien word nie! As dit nie ‘n wonderwerk is nie, dan eet ek my hoed op!
Die grootste wonderwerk van almal is vir my egter dat ‘n verlore sondaarmens deur God uit die stinkende modderpoel van sonde gered kan word en totaal nuutgemaak kan word.
Gebed:
Here, ek loof en prys U vir talryke wonderwerke wat U reeds oor my lewe gebring het, en veral dat U my gered het sonder dat ek dit verdien .