Wat Is Geloof?

20 June, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Wat Is Geloof?

Hebreërs 11:1-40
“Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb. 11:1) Het ek God al ooit gesien? Nee, beslis nie! Nogtans is ek met my hele hart oortuig van God se bestaan. Waarom? Die Woord sê so, en daarom aanvaar ek dit. Nog meer, die Heilige Gees oortuig my! Oortuiging is egter nie genoeg vir ‘n ware geloof nie. Die ander belangrike aspek is vertroue. As ek slegs sou glo dat God bestaan, beteken dit niks, die duiwel glo ook dat God bestaan! Om ten volle alleen op Hom te vertrou, is ware geloof. Met ander woorde, daar moet 'n intieme, persoonlike verhouding met Hom wees. 
In Hebreërs 11 lees ons die verhale van geloofshelde wat illustreer hoe geloof werk. Dit vertel van hoe hulle geloof ervaar het, en die gevolge daarvan in hulle lewens. Hierdie positiewe en uiters bemoedigende gedeelte laat jou weer met nuwe oë na die karakters kyk. Die skrywer noem ‘n lang lys van name, maar ons gaan net oor enkeles gesels, pilare uit die geskiedenis wat geloof simboliseer.
Abraham word allerweë beskou as die vader van geloof. Hy is ook iemand met wie jy selfs vandag nog kan identifiseer. Hy was ‘n welvarende man, iemand wat alles in die lewe gehad het. Wel, býna alles - die een ding wat kortgekom het was ‘n nageslag. Nóóit kon hy die vreugde smaak van vrolike kinderlaggies in sy huis nie, en dit was sy een groot begeerte, dat daar eendag vir hom ‘n seuntjie sou wees wat die familienaam kon voortdra. Abraham was ‘n gelowige man wat God aanbid het. Dit het egter nie net by gebed gebly nie, hy het sy volle vertroue in God gewerp en in 'n persoonlike verhouding met Hom gestaan. Toe maak God ‘n belofte aan Abraham. Hy sou ‘n nageslag hê wat ontelbaar groot is. Hierdie was, menslik gesproke, ‘n onmoontlike belofte, want soos almal weet was Abraham al baie oud en Sara was onvrugbaar. Maar Abraham het God vertrou. Soms het sy geloof tóg ‘n bietjie gewankel, soos die keer toe hy God se belofte in eie hande wou neem en hy en Sara besluit het om haar slavin te gebruik om vir hom ‘n nageslag te verwek. Dit was egter nie wat God vir Abraham in gedagte gehad het nie, en dit het uiteindelik uitgeloop op ’n tragedie. Toe Abraham al 100 jaar oud was en sy onvrugbare vrou Sara 90, maak die Here die absoluut onmoontlike waar en gee vir hulle ‘n baba. 
Steeds is dit nie die einde van Abraham se geloofsbeproewing nie, en ‘n paar jaar later kry hy die opdrag om daardie enigste seuntjie van hom te gaan offer. Só sterk is Abraham se vertroue in God, dat hy die opdrag begin uitvoer sonder om vrae te vra. As God vir hom ‘n kind kan gee in sulke onmoontlike omstandighede, dan is God by magte om ook daardie kind uit die dood op te wek nadat hy geoffer is.
Die voorbeelde van Abraham se tipe geloof deur die geskiedenis van die Ou Testament, asook in die Nuwe Testament is legio. Die vraag kom egter vanoggend na ons kant toe, want die geskiedenis was met ‘n doel opgeteken, sodat ek en jy daaruit kan leer. Hoe staan dit met ons geloof vandag?
Vir sommige mense is die waarhede wat in die Skrif opgeteken is net eenvoudig te vergesog. Hulle kan dit nie aanvaar nie. Baie van die ongelooflike wonderwerke waarvan ons lees word afgemaak as stories. Selfs Jesus se maagdelike geboorte, opstanding en hemelvaart word deur sommige as fiktief afgemaak. Die Woord van God word afgewater tot bloot “woorde van God”. Met sulke redenasies wil ek dink dat hulle dalk hulle geloof totaal verloor het.
Geloof is om ten volle te vertrou op God. Dit beteken ook dat ek ten volle vertrou dat Sy Woord waar is. Maar wat beteken hierdie vertroue in God? Dat alles met my net voorspoedig sal gaan? Nee, maar dit beteken wel dat God my in Sy hand sal hou, maak nie saak wat met my gebeur nie. Selfs marteling, armoede, bankrotskap of selfs die dood kan my nie van God se genade skei nie. Ons moet onthou dat ons lewe op aarde slegs tydelik is, en dat die ware lewe vir ons voorlê anderkant die poorte van die dood. 
Abraham het op God se beloftes vertrou, en God was getrou om dit waar te maak. God het ook vir my en jou beloftes gegee, nie van rykdom, voorspoed of ‘n lekker lewe nie, maar van ‘n onbeskryflike nuwe lewe in die ewigheid. Vertrou op God, want Hy hou Sy beloftes. Moet nooit , óóit Sy hand laat los nie, want die alternatief is afgryslik.
God se beloftes het egter nie alleen ewigheidswaarde nie: ook hier en nóú is Hy te énige tyd daar om jou te troos en dra, selfs deur die swaarste tye en die donkerste nag. Maar soos met Abraham behels geloof ook dat daar sekere voorwaardes van my kant af nagekom moet word.
Gebed:
Here, dankie dat ek kan weet dat U beloftes waar is. Gee my asseblief ‘n onwankelbare vertroue in U.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026