Ware Wysheid

21 January, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ware Wysheid

Jakobus 3:13-18

VIDEO OUDIO

Het jy al ooit geluister na die “wyse” dinge wat kwytgeraak word deur die “wyse” manne en vroue wat in die hoogste gestoeltes van ons land sit om Suid-Afrika te rig en lei op 'n vreedsame pad van welvaart en vrede? Kom ek verseker jou dat die woorde wat jy hoor, gladnie strook met die statuur van die sprekers nie! Die haat, nyd en selfsug drup soos groen paddaslym van hulle lippe af. En hier sonder ek nie een spesifieke politieke party uit as die groot belhamel nie. Feitlik regdeur die bank kom jy agter dat die politieke leiers nie die land se belange op die hart dra nie, maar eerder hulle eie belange.

Is daar 'n wyse en verstandige mens onder julle?” vra Jakobus moedeloos in vers 13. “Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig.”

Jakobus se brief is nie gerig op die ringkoppe in die parlement se banke nie. Dit is op jou en my gerig. Die vraag is: hoe lyk my gedrag? Hoe lyk my Maandaglewe? Of my Vrydaglewe? Is ek dieselfde vroom outjie wat Sondag so opreg uit die hart aan die lofprysing meegedoen het? Jakobus sê dat ware Christelike wysheid in jou gedrag gereflekteer sal word, in die dinge wat jy doen. En dit is veral nederigheid wat 'n spesiale eienskap van 'n gelowige moet wees.

Jesus het vir ons gewys wat dit werklik beteken om nederig te wees. Buiten vir Sy hele lewe van vernedering, om as Baba sonder status in 'n vuil stal in die wêreld te kom, verwerp te word ens. het Hy ook verder 'n lewe van nederigheid geleef. Anders as ander Rabbi's wat in weelde geleef het, het Hy besluit om eerder in armoede en swaarkry Sy leerskool te bedryf. Sy studente was nie bevoorregte rykmansseuns nie maar eenvoudige vissermanne. Sy vriende was die skuim van die aarde, sondaars en tollenaars. Hy het Hom bemoei met mense wat verag is – 'n Samaritaanse vrou met 'n slegte reputasie, 'n vrou wat veroordeel was omdat sy oor die tou getrap het, lammes, dowes, blindes en melaatses. En al het Hy ál die reg daartoe gehad, het Hy Hom nooit verhef bo ander mense nie.

Hoe lyk óns nederigheid? Oordeel maar self!

Jakobus sê in vers 14 dat as naywer of selfsug enigsins deel van jou lewe is, dan is daar nie plek vir Christelike wysheid nie. Dan is die soort “wysheid” in jou “aards, nie-geestelik, demonies” (vers 15), want naywer en selfsug kweek “wanorde en allerhande gemene dade” (vers 16).

Demonies! Dit is verskriklik kras gestel! Maar dit is presies wat selfsug en naywer aan jou doen. Dit verwoes lewens!

Dan stel Jakobus egter die teenpool: “Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer,” skryf hy in vers 17. Goddelike wysheid maak dat jy nie jouself voorop stel nie. Ander mense is van groter belang as jy self. Hy gaan voort: “en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins.”

Wanneer jy die dag begin om van jouself en jou eie belange te vergeet en ander mense eerste te stel, kom die mooi dinge in jou uit. Jy wil nie meer baklei as iemand jou te ná kom nie, maar met 'n mooi en vriendelike gesindheid, maak jy eerder vrede. Jy raak inskiklik. Jy vloek nie meer die têksiebestuurder uit wanneer hy voor jou inswaai nie, maar jy groet hom vriendelik en maak vir hom plek.

Jy raak bedagsaam. Jy let op vir geleenthede om ander te kan help. Jy stuur 'n mooi boodskappie vir iemand wat dit nodig het. Jy bemoedig waar iemand deur 'n moeilike tyd gaan. Jy dra goeie vrugte – doen die dinge wat die Here op jou hart lê om te doen. Jy raak betrokke by die werking van die kerk: sending, barmhartigheid, lofprysing - waar jou talente ookal lê. Die laaste twee eienskappe wat Jakobus noem, is albei baie moeilikes: onpartydigheid en opregtheid. Om onpartydig te wees, veral wanneer dit jou rugbyspan is wat betrokke is, is nie maklik nie. (Terloops, daar is natuurlik net één span, die Sharks!) Opregtheid is selfs nog moeiliker!

In vers 18 sluit Jakobus hierdie betoog af deur te sê dat hierdie wysheid jou in die regte verhouding met God bring en dat jy dit moet gebruik om vrede te maak. Inderdaad is dit 'n reuse bonus, dat deur jou lewe in te rig volgens hierdie voorskrifte van Jakobus, dit jou outomaties in die regte verhouding met God bring.

Is dit nie uiteindelik waarom alles draai nie? Maar dit is so ironies, dat die regte verhouding met God jou ook bring by die regte verhouding met ander mense. As jou verhouding met God reg is, sal jy die dinge doen wat Jakobus hier bo vra. Maar volg jy sy voorskrifte, bring dit jou by 'n verhouding met God. Die een is onlosmaaklik verbind aan die ander.

Dan kom ons terug by gister se dagstukkie wat sê dat daar nie vars én bitter water by dieselfde fontein kan uitborrel nie.

Gebed:

Here, ek wil kies om U met my hele hart te dien.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026