Ware Vryheid

4 January, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ware Vryheid

2 Petrus 2

VIDEO * OUDIO

Ek lees vanoggend 2 Petrus 2 deur, en my eerste reaksie was om naderhand vir ou Petrus te wil skree: “Hokaai! Stop! Jy kasty my! Petrus, jy klink bitter omgekrap! Watter verskriklike onreg het gemaak dat jy so te velde trek?” En toe trek ek die Bybellennium nader: die kommentaar sê dat jy eers 2 Pet. 3:4 moet lees om mooi reg te verstaan waaroor die bohaai gaan. Die vraag word gevra: “Wat het geword van die belofte van Sy koms? Sedert die vaders ontslaap het, bly alles steeds soos dit van die begin van die skepping af was.” Petrus haal die vraag van die dwaalleraars hier aan.

Jesus het in Mat. 24:34 gesê: “Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal alles gebeur.” Sommige Christene het toe sommer aangeneem dat Jesus se wederkoms in hulle leeftyd sou plaasvind. Hulle het egter nie mooi besef waarvan Jesus éintlik gepraat het nie. Hy het verwys na Sy opstanding, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees. Die gevolg was dat sommige gelowiges opgehou werk het en net sit en wag het op die wederkoms. Paulus moes hard met hulle praat daaroor (1 Tes. 4:11 en 5:14). Toe die mense egter begin besef dat die wederkoms nie sou plaasvind in hulle eie tyd nie, het sommiges begin twyfel.

Met hierdie as agtergrond, kan ons dalk nou beter verstaan waarom Petrus so te velde trek. Hierdie mense het ‘n maklike prooi geword vir die dwaalleraars met allerhande stories oor die wederkoms. Eintlik het hulle ‘n verskuilde agenda gehad: hulle wou mense finansieel uitbuit! Dit gebeur vandag nog steeds! Jy onthou seker nog hoe doemprofete allerhande teorieë versprei het oor die einde van die wêreld toe die nuwe millenium aanbreek in 2000? Tradisionele kerke was verkleineer en bespot! Ja, en toe gebeur dit nie! Talle mense is verlei deur vals profete, en toe dinge nie uitwerk nie, het mense verval in ‘n wêreldse “eet en drink en wees vrolik!” Meer onlangs was daar die berugte “Doom Profeet” wat sy lidmate met Doom in die gesig gespuit het!

Diegene wat mense verlei met hulle dwaalleer moet egter weet dat hulle dade nie ongestraf sal bly nie. God is liefde, en ons het al telkemale gesels oor Sy vergifnis van sonde. Ons moet egter ook rekening hou met die heiligheid van God, en dat daar so ‘n ding soos God se oordeel is. Petrus noem etlike voorbeelde van die verskriklike oordeel wat mense kan tref as hulle God se liefde versmaai. Die straf vir die hardkoppige ongelowige is ‘n verskriklike werklikheid!

Aan die ander kant is daar natuurlik ook die troos van God se redding vir hulle wat glo. Hierdie is eweneens ‘n groot werklikheid! Sodom en Gomorra (die ongelowiges) is getref deur God se oordeel, maar Lot (die gelowige) is daaruit gered. Net so is Noag gered uit ‘n see van ongelowiges.

‘n Toekomsverwagting bepaal hoe ‘n mens optree. As jy oorlog verwag, bewapen jy jouself. As jy glo dat jou dood die einde van die paadjie is, dan lewe jy sodanig, en jy verloor alle respek vir die geestelike dinge, want wat help dit tog? Oordaad en wellus word kenmerke van jou lewe. Geld word die groot god in jou lewe, en jy sal alles doen daarvoor, maak nie saak wie in die slag bly nie. Ons sien dit daagliks in die politiek! Alles word net ‘n vrugtelose gejaag na wind. Ja, dít is wat gebeur as jy vergeet dat Jesus weer kom. Dit is uiters gevaarlik! Gaan sit vandag, hier aan die begin van die splinternuwe jaar 2023 ‘n rukkie stil en bepeins jou toekomsverwagting. Is Jesus se wederkoms vir jou ‘n lewendige werklikheid? Leef jy daarvolgens? Inderdaad kan dit dalk nog ‘n duisend jaar neem, maar Hy kan ook vandag of môre kom! Hy gaan nie twee weke kennis gee nie! Is jy gereed?

Die vraag is: Watter invloed het dwaalleraars op gelowiges? Sonde is aansteeklik! Om in die verkeerde vriendekring te beweeg, kan jou baie maklik verlei om in dieselfde dinge as die ongelowiges te verval. Petrus gebruik die begrip “vryheid,” wat so maklik verkeerd verstaan kan word. Vir die ongelowige beteken vryheid om te maak net wat jy wil, en dat niemand vir jou sal voorskryf wat om te doen nie. Hierdie is egter ‘n valse vryheid, en baie vinnig word jy ‘n slaaf van jou eie vryheid as jy in die kettings van jou sondige begeertes verstrengel raak. Drank, seks, dwelms, dobbelary, pornografie, mag en Mammon, die geldgod kan enigeen oorrompel. ‘n Gelowige kan só maklik deur hierdie selfde goed ingeslurp word as hy met verkeerde mense omgaan.

Maar wat is ware vryheid? Vir die gelowige beteken vryheid om vry te word van die bande van sonde. Dit beteken om die kettings van sondige begeertes te verbreek. Dit is om te weet dat Jesus vir jou sondes betaal het en dat jy nie meer hoef te doen wat jou sondige natuur vir jou voorskryf nie. Met God se genade en krag kan jy as gelowige jou lewe inrig volgens Bybelse maatstawwe, en daarin ‘n vervulde lewe van ware vryheid ontdek, vryheid om as God se kind te leef; vryheid om God se kosbare gawes te erf.

Gebed:

Dankie dat U my waarlik vrygemaak het, Here. Bewaar my asseblief daarvan dat ek ooit daardie kosbare vryheid sal prysgee.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026