Ware Vriendskap

5 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ware Vriendskap

1 Tessalonisense 1:1

Video

Audio

Ware vriendskap is iets wat baie skaars geword het. Om waarlik ‘n vriend vir iemand te wees, beteken ‘n baie besonderse alles-opofferende liefde vir die persoon.

Dit was vroeg in die somer van die jaar 50nC. toe Paulus en Silas, vergesel van die jong kêrel, Timoteus in die stad Tessalonika aankom. Hulle doel was baie eenvoudig dat soveel moontlik mense in die stad die verlossingsboodskap van Jesus moes hoor en aanneem. Paulus se strategie was om eers die Jode in ‘n stad te bearbei, omdat hulle alreeds van God geweet het. Hy was natuurlik ‘n gerespekteerde Fariseër en leermeester, dus kon hulle toegang kry tot die plaaslike sinagoge. Hulle prediking in Tessalonika gaan goed en ‘n paar Jode kom selfs tot bekering. Maar dit was die Grieke, en veral ‘n klomp vooraanstaande Griekse vrouens wat aan hierdie sendelinge se lippe gehang het.

Toe die Jode die Grieke se reaksie sien, raak hulle afgunstig, en beraam ‘n slinkse plan om van Paulus ontslae te raak. Hulle koop ‘n paar leeglêers om om ‘n opstand te bewerkstellig. Skaars drie weke na hulle aankoms moes Paulus en sy geselskap vlug vir hulle lewens!

Timoteus en Silas bly in die omgewing agter by Berea, terwyl Paulus verder gaan na die stad Atene. Maar die bloedjong gemeentetjie van Tessalonika bly deurentyd in Paulus se gedagtes. Sou hulle dit ooit oorleef? Sou hulle geloof staande kon bly? Skaars het hy in Atene aangeland, of Paulus skryf ‘n brief aan die bloedjong gemeente in Tessalonika, sodat hulle nie sou vergeet wat hulle geleer was nie. Timoteus moes die brief daar gaan aflewer.

Liewe Timoteus, half Jood, half Griek, maar ‘n wonderlike toegewyde gelowige en vriend. Natuurlik sou Timoteus nie skroom om terug te gaan nie, al was die stad hulle so vyandig gesind. Daardie jongman sou dit nog baie ver bring in die lewe! Inderdaad was Timoteus se lewe nie sonder sy probleme nie. Omdat sy pa ‘n Griek was, was hy natuurlik nooit besny soos die ander klein Joodjies nie. Paulus het moeilikheid sien kom, as hy vir Timoteus in ‘n sinagoge sou invat sonder dat hy besny is. Die arme Timoteus moes toe mooitjies maar op sy tande byt terwyl Paulus die pynlike operasietjie uitvoer. Wat jy nie alles moet opoffer vir vriendskap en die Evangelie nie! Maar later sou dit beteken dat Paulus met vrymoedigheid vir Timoteus na die gemeente in Efese kon stuur om daar die herder van die gemeente te word.

Van Paulus, Silvanus en Timoteus.” het Paulus begin skryf aan sy brief aan Tessalonika. Terwyl hy skryf, dink hy aan sy twee metgeselle. Hoeveel het hulle nie al saam deurgemaak nie! Saam kon hulle ‘n bruisende bediening tot stand bring in verskeie stede. Natuurlik was dit slegs moontlik deur die wonderlike krag wat die Heilige Gees hulle gegee het! Maar saam moes hulle ook al ‘n paar keer vlug vir hulle lewens, veral wanneer die Jode hulle sin gekry het! En dan was daar die keer toe Silas saam met hom opgesluit was in die kerker. Hy onthou nog hoe seer hulle lywe was nadat hulle gegésel was, en hoe hulle daar in Filippi se tronk vasgeketting was. Toe hulle nie kon lê van die rou sere aan hulle lywe nie, het hulle maar begin sing. Dit het immers die pyn verdryf. Later het hulle twee se vrolike lofliedere dwarsdeur die skrikwekkende nag weergalm deur die hele tronk. En toe, die ongelooflike wonderwerk, toe ‘n engel hulle kom bevry het. Hy het die kettings gebreek en die tronkdeure oopgegooi. Paulus glimlag as hy dink aan die tronkbewaarder se vreesbevange gesig. “Ja, ou Silas, ek en jy het al saam ‘n sak sout opgeëet! Wat sou ek doen sonder julle twee ou staatmakers?” Dis tog wonderlik hoe sulke swaarky saam ‘n vriendskap nog hegter smee!

Natuurlik kom Silas al ‘n baie lang pad saam met Paulus. Selfs nog voor die eerste sendingreis plaasgevind het, het die ringkoppe in Jerusalem vir Silas saam met Paulus en Barnabas na Antiogië gestuur om dinge daar te gaan uitsorteer.

Ware vriende, wat lief is vir jou en bereid is om saam met jou te staan deur dik en dun, is goud werd. Dit is hemels om te weet dat daar iemand is wat sy lewe vir jou sal opoffer, en enigiets vir jou sal doen. Onselfsugtig! 

Die vraag vanoggend is, of ek bereid is om dieselfde vir iemand anders te doen. Dit gaan nie in die lewe oor die goeie vriende wat ek het nie, maar of ek sélf ‘n goeie vriend vir iemand is. Jesus het vir ons die voorbeeld gestel van wat ‘n goeie vriend behoort te doen. Hy het in liefde absoluut alles in die lewe opgeoffer ter wille van ons. Hy was bereid om reuse skares mense te trotseer om mense gesond te maak, kos te gee, te leer. Vir Sy twaalftal binnekring-manne het Hy met groot liefde en geduld Hom afgesloof, om hulle te leer en op te lei vir hulle groot lewenstaak. Toe Sy intieme vriende Hom verlaat, weggehardloop en selfs verloën het, het Hy steeds Sy liefde vir hulle behou. Hy het verder gegaan en Sy lewe op die mees grusame moontlike wyse gegee sodat hulle kon lewe. Is ek en jy bereid om soveel op te offer vir ons vriende?

Gebed:

Here, dankie vir wonderlike vriende deur my lewe, maar veral dankie vir wat U vir my gedoen het. Here, maak my asseblief ‘n goeie vriend.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026