1 Johannes 4:7-12
“Daar is niks soos ware liefde - Daar is niks so skoon, so rein!” Onthou jy nog die liedjie van die baie gewilde Groep II? Hulle ghet getoor met die meisies se harte! Salomo besing die liefde in sy pragtige boek, Hooglied, so mooi en eksplisiet dat daar eintlik ‘n ouderdomsbeperking op geplaas behoort te word! Oor hierdie boek is daar al baie gedebatteer, en daar is verskeie menings daaroor. Dit is egter iets vir ‘n héél ander dag. Die vraag wat ons egter vanoggend wil vra, is: Wat is ware liefde?
Ek onthou die pragtige fluweel kanselkleed in die kerk van my kindertyd, waar daar in die mooiste sierskrif geborduur was: “God Is Liefde”. Vir my het dit nie baie mooi sin gemaak nie, want ons kinders is gedurig gedreig met God se straf! Ek het God beleef as Iemand wat daar baie ver is, en verskriklik hoog bo ons nietige aardse wesens verhewe. En Hy staan gereed om te straf! Kerk was ‘n straf, en daarom het ek in die tyd toe ek my diensplig in die weermag gedoen het, bitter selde by ‘n kerk uitgekom. Ek het myself altyd op ‘n manier daar uitgewurm.
Die vraag is dan ook al dikwels gevra of daardie woorde wat jy so dikwels op ‘n kanselkleed gesien het, dat God liefde is, waarlik sin maak? Is dit relevant? Is God werklik Liefde? Of is Hy dalk maar net die onverbiddelike Heerser van die heelal wat absoluut geen sonde duld nie? Snaaks genoeg, het ek in my jong dae nooit getwyfel oor God se bestaan nie. Hy was vir my ‘n werklikheid. So was Jesus en die Heilige Gees ook vir my ‘n werklikheid, alhoewel ek vermoed het dat die Heilige Gees eintlik meer aan die “Apostolies” behoort het!
Die sestigerjare met sy Hippies wat liefde, veral vrye liefde gepropageer het, het my persepsie van liefde natuurlik totaal omgekrap. Aan die een kant was daar God se onverbiddelike, streng liefde, en aan die ander kant die Hippies se “make love, not war” liefde, wat gesê het dat almal vir almal moet lief wees.
Eers baie later het die waarheid van liefde my getref en vir my begin sin maak. Dit was nie genoeg dat ek maar net geweet het van liefde nie. Dit was nie genoeg dat ek slegs geweet het van God se bestaan nie. Daar was een verskriklike groot skakel wat ontbreek het: ‘n intieme, persoonlike verhouding met God. Eers was daar die ontmoeting met Jesus, die dag toe die Heilige Gees my die wedergeboorte geskenk het. En toe skielik begin ek besef wat liefde waarlik is. Natuurlik is God die Bron van alle liefde, en Jesus Christus is die Model waarop liefde geskoei is. Die Heilige Gees, moes ek ontdek, het nie aan die “Apostolies” behoort nie, maar Hy is die Begeleier van alle gelowiges om hierdie liefde waarlik te ervaar en uit te leef deur mekaar lief te hê.
Eers tóé het ek begin besef waarom die Hippies se konsep van wees-vir-almal-lief so verskriklik verdraaid was. Hulle liefde was gegrond op menslike liefde, en natuurlik, soos almal maar té goed weet, is menslike liefde droewiglik feilbaar! Seker dáárom dat die Hippie-beweging tot niet gegaan het! Ware liefde kan slegs gegrond wees op God as die enigste Bron.
In verskeie plekke in die Nuwe Testament kom die oproep van liefde: dat ons mekaar moet liefhê. Jesus haal die liefdesgebod aan uit die Ou Testament, en dan druk Hy by verskeie geleenthede dit op Sy dissipels se harte. Hy noem dit selfs per geleentheid 'n "nuwe gebod." Daarna skryf verskillende outeurs oor hierdie liefde. Johannes herhaal dit etlike kere in hierdie brief van hom. Ons begin dus besef dat dit van uiterste belang is om liefde uit te leef. Maar die probleem is dat om lief te hê nie werklik só vanselfsprekend is nie. Vir die meeste gelowiges is dit baie moeilik om dit waarlik uit te leef.
Die feit is dat God sigbaar word op aarde deur gelowiges se opregte liefde. Dit is natuurlik die antwoord op God se groot liefdesdaad op Golgota, en dit is slegs moontlik as ‘n kind van God in ‘n intieme, persoonlike verhouding met Hom leef. As liefde nie uitgeleef word nie, is die bron-oorsaak dat daardie intieme verhouding nie bestaan nie!
Liefde is nie maar net ‘n teoretiese iets waarvan jy praat en dit besin nie. Nee, dit is ‘n praktiese handeling. Jesus het liefde op ‘n uiters praktiese manier uitgeleef, toe Hy eers al Sy tyd opgeoffer het om siekes gesond te maak en mense te leer, en later die hoogste moontlike prys te betaal aan die kruis vir mense wat nie eers vir Hom omgegee het nie. Daardeur het Hy die voorbeeld gestel vir ons liefde wat net so prakties uitgeleef moet word. Liefde beteken dat dit jou iets gaan kos. Dit gaan jou kosbare tyd, jou geld, dalk ongemak, opoffering of baie harde werk, en in uiterste gevalle selfs jou lewe. God dóén liefde, en daarom moet ons as gelowiges ook liefde dóén en dit nie maar net besin nie.
Ons moet egter te alle tye onthou dat daar slegs een enkele rede is waarom ons liefde doen, en dit is uit dankbaarheid vir die groot, groot liefde wat God aan ons bewys het.
Gebed:
Here, kweek asseblief in my ‘n ware liefde wat prakties sal dóén.